Hou vas aan die openbare bekendmaking van jou hoop sonder om te wankel
1 Die Wagtoring-studie is die vernaamste manier waarop geestelike “voedsel op die regte tyd” vandag aan God se volk voorsien word (Matt. 24:45, NW). Ons woon hierdie belangrike vergadering om twee vername redes by—om geestelik opgebou te word en om ons hoop in die openbaar aan ander bekend te maak.—Hebr. 10:23-25, NW.
2 Dit strek ons tot voordeel: Na raming bestudeer slegs ’n derde van die gehoor in die meeste gemeentes die les vooraf. Ongeveer dieselfde aantal lewer kommentaar. Die vaste geestelike voedsel wat in die Wagtoring-studie uiteengesit word, kan nie gedurende die vergadering self ten volle ingeneem word nie. Jy moet tyd inruim om die materiaal vooraf te bestudeer.
3 Wanneer jy vir die studie voorberei, sal jy dit moontlik nuttig vind om eers die vrae in die venster na aan die einde van die artikel te lees en te bepeins. Dit kan jou help om jou aandag te vestig op die hoofpunte wat in die les bespreek gaan word.
4 Luister aandagtig gedurende die studie na wat gesê word. Skenk aandag aan die studiehouer se inleidingskommentare; hierdie kommentare vorm die grondslag vir die studie. Hy kan drie of vier vrae opper wat beantwoord sal word, of hy kan ’n paar hoogtepunte van die vorige week se les hersien as hierdie week se les ’n voortsetting van dieselfde onderwerp is. As daar die een of ander regstelling ten opsigte van ons begrip van ’n Bybelprofesie of skriftuurlike beginsel is, sal hy dit onder ons aandag bring. Die studiehouer se kommentare moet natuurlik bondig wees, aangesien een doel van die studie is om die gemeente ’n geleentheid te bied om hulle hoop uit te spreek. Luister aandagtig wanneer ander kommentaar lewer oor wat hulle geleer het; dit kan jou geloof help versterk.
5 Maak jou hoop bekend: Lewer jy gereeld kommentaar gedurende die studie? Kort, bondige antwoorde is verkieslik. (Vergelyk Lukas 21:1-4.) Almal waardeer ’n eenvoudige kommentaar wat uit die hart kom. Die eerste kommentaar op ’n vraag moet gewoonlik kort en direk wees. Dit bied ander die geleentheid om ’n teks aan te haal of die aandag op ’n sekere punt in die paragraaf te vestig. Sodoende kan baie hulle hoop in die openbaar bekend maak. Die kommentare moet altyd positief en opbouend wees.
6 As jy so pas die studie begin bywoon het of senuweeagtig is om kommentaar te lewer, kan jy die studiehouer vra om jou te help. Vra hom om vir jou hand uit te kyk wanneer ’n sekere paragraaf bespreek word. Miskien kan jy aanbied om ’n teks wat aangegee word te lees en dit kortliks toe te pas. Jy kan ’n paar aantekeninge in die kantruimte maak om jou te help onthou wat jy wil sê wanneer jy kommentaar lewer. As jy ’n kind is, moet jy onthou dat jou kommentaar verwelkom en waardeer word.—Matt. 21:16.
7 Dit is noodsaaklik dat ons ons geloof uitspreek, en die Wagtoring-studie bied ons ’n gulde geleentheid om dit wel te doen. As jy huiwerig is om kommentaar te lewer, moet jy alles in jou vermoë doen om die probleem te bowe te kom, en dwing jouself om minstens een keer te antwoord. Jy sal tot die vergadering bydra, en jy sal beter voel as jy dit gedoen het. Neem jou dus gerus voor om sommer tydens die volgende Wagtoring-studie minstens een keer te antwoord.—Spr. 15:23.