Hoe gesinslede saamwerk om ’n volle deelname te hê—aan die bediening
1 Wat kan meer hartverblydend wees as om te sien hoe ’n man en sy vrou, asook ouers en hulle kinders, saam in die Christelike bediening werk en die naam van Jehovah in die openbaar loof? (Ps. 148:12, 13). Alle gesinne moet ’n goeie roetine vir gereelde deelname aan die velddiens hê. Het julle gesin ’n vasgestelde dag elke week waarop julle aan die bediening deelneem? As dit die geval is, weet elkeen presies hoe om hulle sake te beplan en kan hulle ’n volle deelname hê.—Spr. 21:5a.
2 Maak dit gerus ’n gesamentlike projek om voor die gesin se velddiensdag die aanbiedings voor te berei wat julle gaan gebruik. Oefensessies kan baie nuttig wees, en dit kan tot ’n ware gees van samewerking in ’n gesin lei. Hoe lonend is dit tog wanneer die veldbediening ’n gesinsaangeleentheid is en al die lede goed voorbereid is!
3 ’n Reisende opsiener het ’n hele gesin in die tydskrifwerk vergesel. Terwyl hy saam met een van die dogters van huis tot huis gewerk het, wou sy weet: “Hoe lank gaan u saam met my werk?” Toe het sy verduidelik dat sy daarna saam met haar pa gaan werk. Dit was duidelik dat sy en haar pa dit werklik geniet om saam velddiens te doen. Wat ’n goeie gees heers in daardie gesin!
4 Party gesinne kan dalk een maand in die jaar saam hulppionierdiens doen. Of dit is dalk moontlik vir ten minste een lid van die gesin om as ’n gereelde hulppionier te dien of selfs as ’n gewone pionier in te skryf. Met goeie organisasie en samewerking kan al die lede van die huisgesin moontlik hulle persoonlike deelname aan die diens vergroot deur die een wat pionierdiens doen te ondersteun. Hulle groter bedrywighede en die goeie ondervindinge wat hulle in die bediening geniet, sal beslis ’n seën vir die gesin wees.—Mal. 3:10.
5 As gesinne ’n volle deelname aan die evangelisasiewerk het, sal dit hulle help om na aan mekaar te bly, asook ywerig, produktief en gelukkig in Jehovah se diens te wees!—Vergelyk Filippense 2:1, 2.