Vraebus
◼ Hoe kan iemand wat lank onbedrywig was, gehelp word om weer as ’n verkondiger van die goeie nuus te kwalifiseer?
Wanneer ’n onbedrywige persoon toon dat hy ’n opregte begeerte het om Jehovah te dien, het ons rede om ons te verheug (Luk. 15:4-6). Die persoon het waarskynlik sy persoonlike studie, vergaderingbywoning en deelname aan die veldbediening verwaarloos weens teenstand of die druk van die lewe. Hoe kan persoonlike bystand op die beste manier verleen word sodat hy geestelike vooruitgang sal maak?
Ons almal moet die inisiatief neem om hom van ons ware Christelike liefde te verseker. Die ouer manne moet onmiddellik bepaal wat sy spesifieke geestelike behoeftes is (Jak. 5:14, 15). As hy net ’n kort rukkie onbedrywig was, sal hulp van ’n ervare verkondiger dalk al wees wat nodig is om hom weer bedrywig in die velddiens te maak. Maar as die onbedrywige lank nie met die gemeente omgegaan het nie, sal meer hulp waarskynlik nodig wees. ’n Persoonlike Bybelstudie in ’n gepaste publikasie sal dalk nodig wees om sy geloof en waardering op te bou. In so ’n geval sal die diensopsiener reël dat ’n bekwame verkondiger die studie hou. (Heb. 5:12-14; sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir November 1998.) As jy van iemand weet wat sulke hulp nodig het, moet jy met die diensopsiener in julle gemeente praat.
Voordat iemand wat lank onbedrywig was, genooi word om weer aan die bediening deel te neem, sal dit goed wees as twee ouer manne met hom vergader om te sien of hy as ’n Koninkryksverkondiger kwalifiseer. Hulle sal dieselfde prosedure volg as wanneer hulle met nuwelinge vergader wat as verkondigers van die goeie nuus wil kwalifiseer. (Sien Die Wagtoring van 15 November 1988, bladsy 17.) Die onbedrywige persoon moet ’n sterk begeerte hê om ander van die goeie nuus te vertel. Hy moet ook aan die basiese vereistes voldoen wat op bladsye 98-9 in Ons bediening-boek uiteengesit word en gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon.
’n Goeie geestelike roetine sal baie nuttig wees om die persoon wat terugkeer te help om sy kosbare verhouding met Jehovah te versterk en te bewaar en op die weg na die ewige lewe te bly wandel (Matt. 7:14; Heb. 10:23-25). As hy hom ‘ywerig inspan’ en blywende Christelike eienskappe ontwikkel, sal dit voorkom dat hy ooit weer as ’n Christendissipel “onbedrywig of onvrugbaar” word.—2 Pet. 1:5-8.