Kom byeen om Jehovah te loof
1. Wat is die tema van die byeenkoms, en waarom verdien Jehovah ons lof?
1 Jehovah is almagtig, sy wysheid is ondeurgrondelik, sy geregtigheid is volmaak en hy is die verpersoonliking van liefde. As Skepper, Lewegewer en Universele Soewerein is hy alleen ons aanbidding waardig (Ps. 36:9; Op. 4:11; 15:3, 4). Die “Gee God heerlikheid”- internasionale en streekbyeenkomste sal ons versterk in ons voorneme om hom as die enigste ware God te loof.—Ps. 86:8-10.
2, 3. Hoe sal goeie beplanning ons help om ten volle baat te vind by die byeenkoms?
2 Goeie beplanning nodig: As ons ten volle wil baat vind by die geestelike feesmaal wat Jehovah vir ons voorberei het, is goeie beplanning noodsaaklik (Ef. 5:15, 16). Het jy al jou reëlings getref vir huisvesting, vervoer en verlof van die werk of skool? Moenie hierdie belangrike sake tot die laaste nippertjie uitstel nie. As jy uitstel om verlof te vra, sal jy dalk ’n deel van hierdie vreugdevolle geleentheid misloop. Ons moet almal teenwoordig wees vir elke sessie, van die begin van die byeenkoms af. Sê nou jou werkgewer wil nie vir jou verlof gee nie? Dalk sal dit hom help om gunstig te reageer as jy verduidelik dat die onderrigting wat ons by ons byeenkomste ontvang, ons help om eerlike, vlytige en betroubare werkers te wees. Is daar sommige in julle gemeente wat dalk hulp nodig het om die byeenkoms by te woon? Die ouer manne en ander in die gemeente moet die spesiale behoeftes van die bejaardes en sieklikes in gedagte hou.
3 Stel jou dit ten doel om elke dag vroeg by die byeenkomsterrein op te daag. Dit sal jou in staat stel om voor die openingslied in jou sitplek te wees en sal jou in die regte stemming bring om ontvanklik te wees vir die onderrigting wat aangebied word. Die deure sal elke dag om 6:30 vm. geopen word. Moet asseblief nie sitplekke hou vir persone wat nie in jou gesin of motorgroep is nie.
4. Waarom word almal gevra om hulle middagete na die byeenkoms te bring?
4 Almal word gevra om hulle middagete eerder saam te bring as om die byeenkomsterrein gedurende die middagpouse te verlaat om iets te ete te kry. Julle samewerking met hierdie reëling dra by tot ’n vreedsame atmosfeer en laat meer tyd toe vir assosiasie met medegelowiges (Ps. 133:1-3). Hou asseblief in gedagte dat glashouers en alkohol nie toegelaat word by die byeenkomsfasiliteite nie.
5. Hoe kan ons ons hart vir die byeenkoms begin voorberei?
5 Luister en leer: Esra het sy hart biddend voorberei om God se woord te ontvang (Esra 7:10). Hy het sy hart geneig tot Jehovah se leringe (Spr. 2:2). Selfs voordat ons die huis verlaat, kan ons ons hart vir die byeenkoms begin voorberei deur oor die byeenkomstema te peins en dit met ons gesin te bespreek.
6. Wat kan ons help om ons aandag by die program te bepaal? (Sien venster.)
6 In ’n groot ouditorium sien en hoor ons baie dinge wat ons aandag kan aftrek. Dit kan maklik veroorsaak dat ons nie meer konsentreer op wat die spreker sê nie. Wanneer dit gebeur, gaan waardevolle inligting verlore. Die wenke in die bygaande venster kan ons help om ons konsentrasievermoë te verbeter.
7, 8. Hoe kan ons bedagsaamheid teenoor ander toon, en hoe laat begin en eindig ons byeenkoms? (Sien venster.)
7 Wees bedagsaam teenoor ander: Kameras en videokameras mag gedurende die program gebruik word; maar gebruik dit net van jou sitplek af sodat jy ander nie steur nie. Ook selfone en biepers moet so gestel word dat dit ander nie steur nie. Geen persoonlike toerusting mag aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsels gekoppel word nie.
8 Ons sien werklik daarna uit om byeen te kom om Jehovah te loof! Mag ons vasbeslote wees om hom te verheerlik deur elke sessie by te woon, deur aandagtig te luister en deur toe te pas wat ons leer.—Deut. 31:12.
[Venster op bladsy 3]
Hoe om by die byeenkoms te luister
▪ Peins oor die toespraaktemas
▪ Slaan tekste na
▪ Maak kort aantekeninge
▪ Let op punte wat jy wil toepas
▪ Hersien wat jy leer
[Venster op bladsy 4]
SESSIETYE Internasionale byeenkoms:
Donderdag 1:20 nm. – 4:50 nm.
Vrydag 9:00 vm. – 3:55 nm.
Saterdag 9:00 vm. – 3:40 nm.
Sondag 9:00 vm. – 3:45 nm.
Streekbyeenkoms:
Vrydag & Saterdag 9:00 vm. – 4:10 nm.
Sondag 9:00 vm. – 3:15 nm.