’n Video wat die aandag vestig op ’n belangrike tendens in die geneeskunde
Regsgeleerdes en professionele gesondheidswerkers gee vandag al hoe meer aandag aan die etiese beskouings en regte van pasiënte. Dit het tot nuwe terapieë en behandelingsmetodes gelei waarby Jehovah se Getuies kan baat vind (Hand. 15:28, 29). Dit is die doel van die video Transfusion-Alternative Health Care—Meeting Patient Needs and Rights. Kyk na die video en hersien dan wat jy geleer het.—Let wel: Aangesien die video kort chirurgiese tonele insluit, moet ouers goeie oordeel aan die dag lê as hulle die video saam met jong kinders kyk.
(1) Waarom is die mediese beroep besig om die gebruik van bloedoortappings opnuut in oënskou te neem? (2) Gee drie voorbeelde van ingewikkelde operasies wat sonder bloedoortappings uitgevoer is. (3) Hoeveel dokters en chirurge het wêreldwyd te kenne gegee dat hulle gewillig is om pasiënte sonder bloedoortappings te behandel? Waarom is hulle bereid om dit te doen? (4) Wat het onlangse hospitaalstudies aangaande bloedgebruik getoon? (5) Watter mediese risiko’s gaan met bloedoortappings gepaard? (6) Tot watter slotsom het baie deskundiges gekom met betrekking tot die voordele van alternatiewe vir oortappings? (7) Wat veroorsaak bloedarmoede? In watter mate kan mense dit oorleef? Wat kan gedoen word om daarvoor te vergoed? (8) Hoe kan die produksie van rooibloedselle in ’n pasiënt se liggaam gestimuleer word? (9) Watter tegnieke word gebruik om bloedverlies gedurende ’n operasie tot ’n minimum te beperk? (10) Kan alternatiewe vir oortappings suksesvol gebruik word in die geval van jong kinders en lewensgevaarlike noodgevalle? (11) Wat is een van die vernaamste etiese beginsels van goeie mediese sorg? (12) Waarom is dit vir Christene belangrik om keuses in verband met bloedlose behandeling vroegtydig te doen? Hoe kan ons dit doen?
Die besluit om sekere behandelings te aanvaar waarop die video die aandag gevestig het, sal elkeen in ooreenstemming met sy Bybelopgeleide gewete moet doen. Het jy al besluit watter alternatiewe vir oortappings jy persoonlik en vir jou kinders sal aanvaar? Lede van jou familie wat nie Getuies is nie, moet ook ten volle van jou besluite sowel as die redes daarvoor ingelig word.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Junie en 15 Oktober 2000.