Is jy voorbereid op ’n mediese noodgeval?
’n Mediese noodgeval kan skielik en sonder waarskuwing ontstaan (Jak. 4:14). Gevolglik sal ’n skerpsinnige persoon hom so goed as moontlik daarop voorberei (Spr. 22:3). Het jy al besluit watter mediese behandelings en prosedures jy sal aanvaar, en het jy jou besluit op skrif gestel? Die video Transfusion-Alternative Health Care—Meeting Patient Needs and Rights, die tweede aanbieding op die DVD met die titel Transfusion-Alternatives—Documentary Series, is vervaardig om jou hiermee te help. Terwyl jy daarna kyk, kan jy die volgende vrae probeer beantwoord. Omdat die video kort operasietonele bevat, moet ouers goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle saam met jong kinders daarna kyk.
(1) Waarom heroorweeg party in die mediese veld die gebruik van bloedoortappings? (2) Gee drie voorbeelde van ingewikkelde operasies wat sonder bloedoortappings uitgevoer is. (3) Waarom is duisende dokters en chirurge regoor die wêreld bereid om pasiënte sonder bloedoortappings te behandel? (4) Wat het onlangse hospitaalstudies aangaande bloedgebruik aan die lig gebring? (5) Watter mediese risiko’s gaan met bloedoortappings gepaard? (6) Tot watter slotsom het baie deskundiges gekom wat die voordele van alternatiewe vir oortappings betref? (7) Waardeur word bloedarmoede veroorsaak, en wat kan gedoen word om dit teë te werk? (8) Hoe kan die vervaardiging van rooibloedselle in ’n pasiënt se liggaam gestimuleer word? (9) Watter tegnieke word gebruik om bloedverlies gedurende ’n operasie tot ’n minimum te beperk? (10) Kan alternatiewe vir oortappings gebruik word in die geval van jong kinders of in lewensgevaarlike noodgevalle? (11) Wat is een van die vernaamste etiese beginsels van goeie mediese sorg?
Verslae toon dat ’n hele aantal verkondigers nog nie hulle Advance Medical Directive-kaart ingevul het nie of dit nie te alle tye saam met hulle dra nie. Groepopsieners moet seker maak dat almal in hulle groep hierdie belangrike vereiste nakom. Aangesien aanvaarding van sommige van die behandelings wat in die video gemeld word, ’n gewetensaak is, moet jy nie wag totdat daar ’n noodgeval is voordat jy besluit wat jy sal of nie sal aanvaar nie. Hoofstuk 7 van die ‘God se liefde’-boek en die verwysings wat daarin aangegee word sowel as die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir November 2006 sal jou help om ingeligte besluite hieroor te neem. As jy gedoop is, moet jy dan jou keuses op die DPA-kaart aandui en die kaart te alle tye saam met jou dra.
[Lokteks op bladsy 3]
Het jy al besluit watter mediese behandelings en prosedures jy sal aanvaar, en het jy jou besluit op skrif gestel?