Musiek wat verkwik
1 Sang en musiek is ’n belangrike deel van ware aanbidding. In eertydse Israel het Asaf en sy broers gesing: “Dank Jehovah. . . . Sing tot hom, besing hom met melodieë, oordink al sy wonderlike dade” (1 Kron. 16:8, 9). Vandag verhef ons ons stemme in sang tot Jehovah by ons weeklikse gemeentelike vergaderinge (Ef. 5:19). Wat ’n wonderlike geleentheid is dit tog om sy naam te loof!—Ps. 69:30.
2 Dit kan ons verstande met geestelike gedagtes vul as ons na Kingdom Melodies, orkesopnames van Koninkryksliedere, luister. “Terwyl die musiek speel, hoor ek die woorde in my kop”, verduidelik een suster. “Wat ’n goeie manier is dit tog om Jehovah in my gedagtes te hou terwyl ek musiek geniet!”—Fil. 4:8.
3 Geleenthede om dit te geniet: As jy Kingdom Melodies by die huis speel, skep dit ’n aangename, geestelike atmosfeer wat tot vrede in die gesin bydra. “Ons speel hierdie roerende [musiek] oor en oor in ons huis en motor en raak nooit moeg daarvoor nie”, het een gesin geskryf. “Kingdom Melodies skep dikwels die regte vreedsame stemming wanneer ons gereedmaak vir Christelike vergaderinge of wanneer ons na ’n byeenkoms reis.” ’n Suster het gesê: “Dit is regtig aangenaam om daarna te luister wanneer ek in die huis werk—wie sou nou ooit kon dink dat ek bly sal wees terwyl ek die wasgoed opvou? Ek is van plan om hierdie musiek te speel wanneer ek terneergedruk voel. Die musiek is so verkwikkend! . . . Elke lied laat my gelukkig voel.” Is daar geleenthede wanneer hierdie musiek jou sal verkwik?
4 Baie van vandag se musiek weerspieël die gees van die wêreld. Ouers kan hulle kinders help om ’n smaak vir heilsame musiek aan te kweek deur goed gebruik te maak van die Kingdom Melodies. Talle Bybelstudente en belangstellendes sal ook bly wees om te weet van hierdie pragtige geestelike liedere, wat Jehovah verheerlik en die gees verkwik.—Ps. 47:1, 2, 6, 7.