Deel 5: Hou progressiewe Bybelstudies
Hoeveel materiaal gedek moet word
1 Wanneer Jesus onderrig het, het hy sy dissipels se beperkings in ag geneem en met hulle gepraat “vir sover hulle kon luister” (Mark. 4:33; Joh. 16:12). Net so moet hedendaagse onderrigters van God se Woord tydens ’n Bybelstudie let op die tempo waarteen hulle materiaal dek. Die hoeveelheid materiaal wat bespreek kan word, sal afhang van die vermoë en die omstandighede van die onderrigter sowel as die student.
2 Bou sterk geloof: Party studente het dalk twee of drie sessies nodig om te snap wat ander studente maklik tydens een sessie kan inneem. Ons wil nie so vinnig deur die materiaal gaan dat die student dit nie duidelik verstaan nie. Elke student moet ’n vaste grondslag vir sy nuutgevonde geloof in God se Woord hê.—Spr. 4:7; Rom. 12:2.
3 Wanneer jy elke week die studie hou, moet jy die nodige tyd daaraan bestee om die student te help om dit wat hy uit God se Woord leer, te verstaan en aan te neem. Moenie so jaag dat die student nie ten volle baat vind by die waarhede wat hy geleer word nie. Laat genoeg tyd toe sodat jy die aandag op die hoofgedagtes kan vestig en die sleuteltekste kan bespreek waarop die leringe gegrond is.—2 Tim. 3:16, 17.
4 Bly by die onderwerp: Hoewel ons nie deur die studie wil jaag nie, wil ons ook nie hê dat ons aandag afgelei word nie. As ’n student geneig is om baie oor persoonlike sake te gesels, moet ons dalk reël om dit ná die studie te bespreek.—Pred. 3:1.
5 Aan die ander kant kan ons eie geesdrif vir die waarheid dit moeilik maak om nie gedurende die studie te veel te praat nie (Ps. 145:6, 7). ’n Bykomende gedagte of ondervinding nou en dan kan ’n studie verryk, maar dit moenie so dikwels gebeur of soveel tyd in beslag neem dat dit die student daarvan weerhou om juiste kennis van basiese Bybelleerstellings op te doen nie.
6 As ons tydens elke studiesessie ’n redelike hoeveelheid materiaal dek, help ons Bybelstudente om “in die lig van Jehovah [te] wandel”.—Jes. 2:5.