Streekbyeenkomste—’n Tyd vir vreugdevolle aanbidding
1. Hoe was Israel se feeste soortgelyk aan ons hedendaagse streekbyeenkomste?
1 Josef, Maria, hulle kinders en ander het gereeld opgegaan na Jerusalem om die jaarlikse feeste by te woon. By hierdie geleenthede het hulle en ander aanbidders hulle daaglikse sorge agtergelaat en op die belangriker geestelike aspekte van hulle lewe gefokus. Die feeste het hulle tyd gegee om oor Jehovah se goedheid te peins en te praat en sy Wet te oordink. Ons komende streekbyeenkomste sal ons soortgelyke geleenthede bied om Jehovah vreugdevol te aanbid.
2. Wat moet ons doen om vir die komende streekbyeenkoms voor te berei?
2 Voorbereiding nodig: Die reis van Nasaret af het beteken dat Jesus se gesin altesaam sowat 200 kilometer moes loop. Hoewel ons nie weet hoeveel broers en susters Jesus gehad het nie, kan ons ons voorstel hoeveel beplanning en moeite dit van Josef en Maria geverg het. Het jy die nodige voorbereidings getref om al drie dae van die komende byeenkoms by te woon? Dit sal dalk vereis dat jy verlof neem of dat jy met jou werkgewer of jou kind se onderwyser gaan praat oor tyd af. Het jy verblyf in ’n hotel gereël indien nodig? Kan jy die inisiatief neem om iemand in die gemeente wat spesiale behoeftes het, te help om die byeenkoms by te woon?—1 Joh. 3:17, 18.
3. Hoe het Israel se feeste geleenthede gebied om opbouende assosiasie te geniet?
3 Opbouende assosiasie: Wat ’n geleentheid het die Joodse feeste tog gebied om opbouende assosiasie met mede-aanbidders te geniet! Jesus se gesin het ongetwyfeld daarna uitgesien om weer tyd saam met ou vriende deur te bring. Hulle het ook geleenthede geniet om nuwe vriende te maak onder die skares Jode en proseliete wat daar sou wees of wat op pad was na of van Jerusalem.
4. Hoe kan ons toon dat ons nie ons verenigde Christenbroederskap as vanselfsprekend aanvaar nie?
4 Een rede waarom die getroue en verstandige slaaf reël dat ons tydens streekbyeenkomste bymekaarkom om na toesprake te luister in plaas daarvan om dieselfde inligting in gedrukte vorm beskikbaar te stel, is sodat ons mekaar kan aanmoedig (Heb. 10:24, 25). Reël dus om elke dag vroeg by die byeenkoms te wees sodat jy assosiasie met ander kan geniet voordat die sessievoorsitter die musiektussenspel inlei, wat aandui dat dit tyd is om ons sitplek in te neem. In plaas daarvan om die fasiliteit gedurende die middagpouse te verlaat om kos te kry, word ons aangespoor om ’n ligte ete te bring en by die byeenkoms te bly sodat ons diegene om ons kan ontmoet en met hulle kan gesels. Ons verenigde Christenbroederskap is ’n gawe van Jehovah wat ons nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie.—Miga 2:12.
5. Wat sal ons help om ten volle by die program baat te vind?
5 ’n Tyd om te leer: Van kleins af het Jesus die feeste benut om oor sy hemelse Vader te leer (Lukas 2:41-49). Wat sal ons en ons gesin help om ten volle baat te vind by die dele wat aangebied sal word? Bly in jou sitplek gedurende die sessies en moenie onnodig met ander praat nie. Moenie toelaat dat jou selfoon, roepradio of ander soortgelyke toestelle jou of ander steur nie. Hou jou oë gerig op die spreker en maak kort aantekeninge. Sit saam as ’n gesin om seker te maak dat jou kinders ook luister. Neem in die aand ’n bietjie tyd om die punte wat julle geniet het, saam te bespreek.
6. Wat moet ons in gedagte hou in verband met ons kleredrag en persoonsversorging?
6 Kleredrag en persoonsversorging: Buitelandse koopmanne wat op die pad gereis het, kon Jesus se gesin en ander Joodse aanbidders wat op pad was na of van die feeste, maklik uitken aan die fraiingrande aan hulle klere en die blou toutjie bo die rand (Num. 15:37-41). Hoewel Christene nie kenmerkende klere dra nie, is ons daarvoor bekend dat ons beskeie aantrek en netjies en skoon is. Ons moet veral let op ons voorkoms wanneer ons na of van die byeenkoms reis en terwyl ons in die byeenkomsstad is. Selfs al trek ons ná die program ander klere aan, moet ons voorkoms steeds waardig wees en moet ons ons byeenkomslapelkaart dra. Sodoende sal ons opvallend anders wees as nie-Getuies en ’n goeie indruk maak op waarnemers.
7. Waarom moet ons dit oorweeg om aan te bied om by die byeenkoms te werk?
7 Vrywilligers nodig: Baie werkers is nodig sodat die streekbyeenkoms glad kan verloop. Kan jy aanbied om te help? (Ps. 110:3). Die werk wat by byeenkomste gedoen word, is deel van ons heilige diens en gee ’n goeie getuienis. Die bestuurder van een byeenkomsfasiliteit was so beïndruk deur die vrywilligers wat die gebou skoongemaak het, dat hy die volgende geskryf het: “Ek wil hulle bedank vir die wonderlikste gebeurtenis wat ek nog beleef het. Ek het altyd gehoor dat Jehovah se Getuies spesiale mense is wat in ons bedryf al lank die reputasie het dat hulle altyd ’n fasiliteit skoner laat as wat hulle dit gevind het. Julle en julle organisasie het hierdie fasiliteit ’n beter plek vir die gemeenskap gemaak en dit gedoen met die aangenaamste groep mense wat ons ooit bevoorreg was om te ontmoet.”
8. Watter geleenthede om te getuig sal daar in die byeenkomsstad wees?
8 Geleenthede om te getuig: Baie mense in die byeenkomsstad sal ordentlik geklede, netjiese besoekers met byeenkomslapelkaarte raaksien, en dit sal dalk hulle nuuskierigheid prikkel en ons geleenthede bied om hulle van die byeenkoms te vertel. Een vierjarige het sy eksemplaar van ’n nuwe vrystelling ná die program saamgeneem na ’n restaurant en dit vir die kelnerin gewys. Dít het die weg gebaan vir die seun se ouers om die vrou na die byeenkoms te nooi.
9. Hoe kan ons die waardering wat Jesus se gesin vir Jehovah se geestelike voorsienings gehad het, navolg?
9 Die eertydse feeste was vreugdevolle geleenthede waarna geestelikgesinde Jode uitgesien het (Deut. 16:15). Jesus se gesin was bly om enige opofferings te maak om dit by te woon en ten volle daarby baat te vind. Ons het soortgelyke waardering vir ons streekbyeenkomste en beskou dit as ’n gawe van ons liefdevolle hemelse Vader (Jak. 1:17). Dit is nou die tyd om voor te berei vir hierdie jaarlikse geleentheid om Jehovah vreugdevol te aanbid!
[Venster op bladsy 5, 6]
Streekbyeenkomsherinneringe
◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. Wanneer die inleidende musiek aangekondig word, moet ons almal by ons sitplekke wees sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag om 4:15 nm., Saterdag om 4:30 nm. en Sondag om 3:20 nm. eindig.
◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons beheer oor die parkeerterreine het, sal die parkering gratis wees; dié wat eerste kom, sal die eerste parkeerplekke ontvang. Aangesien parkering gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers sover moontlik met vol motors ry.
◼ Huisvesting: Special Needs Room Request-vorms (CO-5) is beskikbaar vir verkondigers wat huisvesting nodig het. Die Gemeentelike Dienskomitee moet kyk of die verkondiger hiervoor kwalifiseer deur gebruik te maak van die riglyne op die vorm sowel as die brief van 15 Julie 2009, aan alle liggame van ouer manne. Hierdie voorsiening is slegs vir verkondigers wat ’n goeie naam in die gemeente het, en wie se kinders goed gemanierd is.
◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon, asook diegene met wie jy tans ’n Bybelstudie hou.—1 Kor. 13:5.
◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Die heel groot piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.
◼ Bydraes: Ons kan ons waardering vir die byeenkomsreëlings toon deur by ons Koninkryksaal of by die byeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is. Elektroniese kaartfasiliteite sal by sekere byeenkomste beskikbaar wees sodat ’n mens met ’n debiet- of kredietkaart bydraes kan maak. Tree asseblief met die Byeenkomskomitee in verbinding om uit te vind waar hierdie fasiliteit sal wees.
◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief met die naaste saalwagter praat, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.
◼ Skoene: Elke jaar is daar ’n aantal beserings wat met skoene verband hou. Dit is raadsaam om skoene te kies wat beskeie is en goed pas, sodat ’n mens veilig op trappe, traliewerk, ensovoorts kan loop.
◼ Opnames: Opneemtoestelle mag nie aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsel gekoppel word nie, en die toestelle mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.
◼ Kinderwaentjies: Kinderwaentjies mag nie in die byeenkomsouditorium ingeneem word nie. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar.
◼ Parfuums: Sommige streekbyeenkomste word in geboue gehou waar ons op meganiese lugversorging staatmaak. Dit sal dus liefdevol van ons wees om die gebruik van skerp reukmiddels, naskeermiddels en parfuums te beperk, wat diegene met asemhalings- of verwante probleme kan aantas.—1 Kor. 10:24.
◼ “Volg asseblief op”-vorms: ’n “Volg asseblief op”-vorm (S-43) moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigeen wat belangstelling toon as gevolg van informele getuieniswerk gedurende die byeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms saambring na die byeenkoms. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of kan aan jou gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir November 2009, bl. 4.
◼ Restaurante: Verheerlik Jehovah se naam deur jou goeie gedrag by restaurante. Dit is gebruiklik ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.
◼ Vrywilligerdiens: Die vreugde wat dit ons verskaf om die byeenkoms by te woon, sal selfs groter wees as ons aanbied om met die nodige werk te help (Hand. 20:35). Enigiemand wat dit graag wil doen, moet na die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms gaan. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur te werk onder die toesig van ’n ouer of voog of ’n ander volwassene wat deur een van hulle goedgekeur is.
◼ Liedere: Gemeentes sal dalk die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen. Liedere vir Vrydag: 118 (155), 18 (114), 113 (180), 91 (92), 88 (164) en 75 (19). Liedere vir Saterdag: 92 (162), 85 (128), 60 (202), 65 (42), 69 (91) en 48 (55). Liedere vir Sondag: 51 (131), 63 (38), 106 (217), 16 (146), 49 (85) en 2 (212).