Kweek belangstelling deur middel van ’n tydskrifroete
1. Hoe kan ons ’n tydskrifroete gebruik om belangstelling te kweek?
1 Baie mense wat ons in die bediening ontmoet, verwelkom ons besoeke en neem graag ons lektuur, maar huiwer om tot ’n gereelde Bybelstudie in te stem. Een manier waarop ons hulle belangstelling kan kweek, is deur middel van ’n tydskrifroete. Wanneer jy tydskrifte by iemand laat, moet jy ’n aantekening maak van sy naam en adres, die datum van die besoek, die tydskrifte wat hy geneem het, die teks wat bespreek is en enigiets wat jy gesien het wat dalk toon waarin hy belangstel. Elke keer wanneer jy ’n nuwe tydskrif kry, moet jy na gedagtes soek wat by die mense op jou roete byval sal vind, en vestig dan die aandag daarop wanneer jy hulle besoek (1 Kor. 9:19-23). Mettertyd sal iets wat hulle in ons tydskrifte lees, miskien hulle belangstelling wek en daartoe lei dat hulle meer wil leer.
2. Waarom is dit dringend dat mense Jehovah nou soek, en wat kan ons nog doen om hulle te help?
2 Ons besef egter dat die meeste mense nie knegte van Jehovah sal word deur bloot die tydskrifte op hulle eie te lees nie. Wat kan ons nog doen om mense te help, aangesien dit dringend is dat hulle Jehovah nou soek? (Sef. 2:2, 3; Op. 14:6, 7). Ons kan hulle belangstelling kweek deur elke keer wanneer ons die tydskrifte aflewer, vir hulle ’n teks te lees wat ons vooraf gekies het.
3. (a) Hoe kan ons ’n aantal besprekings met net een teks voorberei? (b) Waaroor is mense in julle gebied die besorgste?
3 Besprekings met net een teks: Dink aan die mense op jou tydskrifroete en berei ’n aantal besprekings met net een teks voor vir elkeen se besondere behoeftes (Fil. 2:4). As iemand kort gelede ’n geliefde aan die dood afgestaan het, kan jy byvoorbeeld tydens ’n aantal herbesoeke bespreek wat die Bybel oor die toestand van die dooies en die opstandingshoop sê. Inligting in die Redenering-boek onder die hoofonderwerpe “Dood” en “Opstanding” kan gebruik word om hierdie besprekings met net een teks voor te berei. Bykomende besprekings oor verwante onderwerpe, soos hoe siekte, ouderdom en die dood heeltemal uit die weg geruim sal word, sal dalk natuurlikerwys hierop volg. Die oogmerk is om ’n onderwerp te vind waarin die persoon belangstel en hom stelselmatig te wys wat die Bybel daaroor sê.
4. Waarom is dit belangrik om ander te help verstaan wanneer ons uit die Skrif lees, en hoe kan ons dit doen?
4 Help hulle verstaan: Hoewel dit gewoonlik die beste is om hierdie besprekings eenvoudig en kort te hou, is meer nodig as om net die teks te lees. Satan het mense se verstande vir die goeie nuus verblind (2 Kor. 4:3, 4). Selfs diegene wat met die Bybel vertroud is, het hulp nodig om dit te verstaan (Hand. 8:30, 31). Neem dus tyd om die teks te verduidelik en toe te lig, soos jy in ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool sal doen (Hand. 17:3). Maak seker dat die persoon besef dat God se Woord praktiese waarde in sy eie lewe het.
5. Hoe kan ’n besoek op ’n tydskrifroete ’n Bybelstudie word?
5 As die persoon geniet wat hy leer, kan jy die besprekings geleidelik langer maak en tydens elke besoek twee of drie Bybeltekste insluit. Soek na ’n geleentheid om die Vereis-brosjure of die Kennis-boek aan te bied. So kan ’n besoek op ’n tydskrifroete uiteindelik ’n Bybelstudie word.