Brief van die takkantoor
Liewe Koninkryksverkondigers:
Ons is verheug om te sien hoe die werk tydens die 2007-diensjaar gevorder het in die gebied onder die Suid-Afrikaanse takkantoor! Ons het in April ’n splinternuwe verkondigerhoogtepunt van 79 266 vir Suid-Afrika bereik. In Januarie het Lesotho ’n nuwe verkondigerhoogtepunt van 3 376 gerapporteer, en Botswana het ’n nuwe verkondigerhoogtepunt van 1 681 bereik. Namibië het ’n nuwe verkondigerhoogtepunt van 1 499 vir Maart gerapporteer, en in Swaziland het 2 529 verkondigers in April gerapporteer. Wel gedaan, broers! Ons het nie ons doelwit wat in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Februarie genoem is, naamlik om 14 000 hulppioniers vir April te hê, bereik nie. Maar daar was wel 9 036 in al die lande onder ons takkantoor wat aan die hulppionierdiens deelgeneem het.
In September 2006 het baie dit geniet om die spesiale Ontwaak! te versprei. Daarna het ons die kampanje gehad vir Koninkryksnuus Nr. 37, “Die einde van valse godsdiens is op hande!” Nadat ’n onbedrywige suster ’n eksemplaar gelees het, het sy gesukkel om te slaap. Die volgende Sondag het sy die vergadering bygewoon en vir ’n Bybelstudie gevra. Die spesiale uitnodiging na die streekbyeenkomste het ook daartoe gelei dat baie meer die streekbyeenkomste bygewoon het. ’n Jong man in KwaZulu-Natal het die uitnodiging aanvaar en die byeenkoms bygewoon. Sedertdien het hy nog nooit van ’n vergadering weggebly nie, en hy dien nou as ’n ongedoopte verkondiger. Ander in die omgewing het die veranderinge in hierdie man raakgesien en ook vir ’n Bybelstudie gevra, en hulle woon nou die vergaderinge by. Ons sal hierdie jaar weer die geleentheid hê om mense te nooi om die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms by te woon.
Die doel van sulke kampanjes is om opregtes van hart te help om te leer wat die Bybel werklik leer (Matt. 28:19, 20). Wanneer julle die predikingswerk doen, moet julle onthou om ’n aantekening te maak van enige belangstelling wat julle vind, en terug te gaan met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Ons is bly om skouer aan skouer saam met julle aan hierdie belangrike werk deel te neem. Wees ook verseker van ons hartlike Christelike liefde.
Julle broers
Suid-Afrikaanse takkantoor