Branch Letter
Liewe Koninkryksverkondigers:
Aan die begin van die nuwe diensjaar is nog ’n nuwe kring gevorm in die gebied wat onder die Suid-Afrikaanse takkantoor val, wat beteken dat altesaam 14 nuwe kringe die afgelope ses jaar gevorm is. Die gebied onder die Suid-Afrikaanse takkantoor sluit nou 84 kringe en 6 streke in.
Uitstekende werk word gedoen om die goeie nuus in die dowe veld te versprei. Nog twee gebaretaalgemeentes is gestig, een in Pretoria en die ander een in Kaapstad. Benewens die drie bestaande gebaretaalgemeentes, is daar tans meer as 30 gebaretaalgroepe wat verbonde is aan verskeie gemeentes in Suid-Afrika en die buurlande onder ons takkantoor. Kan jy jou beskikbaar stel om gebaretaal te leer sodat jy in hierdie veld vol uitdagings kan help?
’n Rekordgetal besoekers het al na die voltooide uitbreiding van die drukkery kom kyk. Sedert die nuwe MAN-pers in Junie 2004 en die boekbindery in September 2004 met produksie begin het, het meer as tienduisend mense al op ’n toer deur die takkantoor gegaan. Gedurende een openbare vakansiedag was ons verheug om 2 519 besoekers te hê. As jy nie onlangs op ’n toer deur Bethel gegaan het nie, nooi ons jou om dit te doen. Maar hou in gedagte dat daar op Saterdae geen reëlings vir toere is nie. Die perse, boekbindery en baie ander departemente werk nie op Saterdae nie.
Bouwerk aan die nuwe woongebou- en eetsaaluitbreiding het in Augustus 2005 begin. Hierdie geboue word deur kontrakteurs opgerig. Bekwame broers doen gehaltebeheer om ’n hoë standaard te verseker. Dit sal na raming ongeveer 15 maande duur om hierdie bouprojek te voltooi.
Op 4 Junie 2005 is die vierde en laaste klas van die skool vir reisende opsieners afgehandel. Dit beteken dat 91 streek- en kringopsieners wat onder die Suid-Afrikaanse takkantoor dien, reeds hierdie agt week lange gespesialiseerde opleiding ontvang het en beter toegerus sal wees om na die behoeftes van die veld om te sien.
Al hierdie ywerige werksaamhede om Koninkryksbelange te bevorder, is prysenswaardig! Julle ruimhartige geldelike ondersteuning van die werk word ook opreg waardeer (Spr. 3:9, 10). Mag Jehovah voortgaan om ons verenigde pogings te seën om “tot lof van sy heerlikheid [te dien]”.—Ef. 1:12.
Julle broers
Suid-Afrikaanse takkantoor