Help Bybelstudente om verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk te word
1 Die opdrag wat Jesus sy dissipels in Matteus 28:19, 20 gegee het, het beslis verreikende gevolge gehad. Christus se dissipels is beveel om nog dissipels te maak, wat op hulle beurt met die dissipelmaakwerk sou voortgaan. Dit sou die grondslag lê vir die laaste wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk gedurende die betekenisvolle tyd van die einde, waarin ons nou lewe.—Matt. 24:14.
2 Ons Bybelstudente kan ons kinders wees of ander wat gewillig is om die Bybel saam met ons te studeer. Ons wil hulle graag help om die persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar om ander te help om dissipels van Jesus Christus te word.—Luk. 6:40.
3 Berei hulle voor om ’n getuienis te gee: Spoor diegene met wie jy studeer aan om ander te vertel van wat hulle leer. Vertel hulle bemoedigende velddiensondervindinge. Leer jou kinders van ’n vroeë ouderdom af om volgens hulle vermoë ’n betekenisvolle deelname aan die bediening te hê (Ps. 148:12, 13). Toon deur woord en daad jou waardering vir die bediening.—1 Tim. 1:12.
4 Jehovah gebruik slegs mense wat sy regverdige standaarde aanvaar en daarby bly. Nuwe verkondigers weet natuurlik nie soveel soos ervare, toegewyde en gedoopte Koninkryksverkondigers nie, maar die nuwelinge moet die grondleerstellings van die Bybel glo en dit kan verduidelik. (Sien Georganiseer, bl. 79-82.) Hulle moet hoegenaamd niks meer met “Babilon die Grote” of die politiek te doen hê nie en moet gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon.—Op. 18:2, 4; Joh. 17:16; Heb. 10:24, 25.
5 Wanneer jy dink dat een van jou Bybelstudente voldoen aan die vereistes om ’n ongedoopte verkondiger te wees, moet jy dit vir die presiderende opsiener sê. Hy sal reël dat twee ouer manne saam met jou en jou Bybelstudent vergader om te bepaal of hy voldoen aan die vereistes om as ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus van die Koninkryk saam met die gemeente te werk. Jy sal dan die voorreg hê om jou Bybelstudent verder op te lei terwyl hy saam met jou velddiens doen.