Gedenkmaaluitnodigings gaan wêreldwyd versprei word!
1. Watter spesiale wêreldwye kampanje sal voor die Gedenkmaal aangepak word?
1 “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Luk. 22:19). In gehoorsaamheid aan hierdie opdrag van Jesus sal aanbidders van Jehovah saam met belangstellendes op 30 Maart 2010 vergader om Jesus se dood te herdenk. ’n Spesiale uitnodiging na die Gedenkmaal sal van 13 Maart tot 30 Maart wêreldwyd versprei word.
2. Hoe kan ons die uitnodiging aanbied?
2 Hoe om te werk te gaan: Jy kan die uitnodiging vir die huisbewoner gee sodat hy die illustrasie op die voorblad kan sien. Sê dan: “Op die aand van 30 Maart sal miljoene mense regoor die wêreld bymekaarkom om Jesus se dood te herdenk. Ek het gekom om vir jou en jou gesin hierdie uitnodiging te gee om die herdenking by te woon. Jou vriende is ook welkom. Die tyd en plek van die herdenking in dié omgewing word hier aangegee.” Na gelang van die omstandighede kan jy besluit om sy aandag op die skriftuurlike opdrag te vestig deur Lukas 22:19 te lees. Hou egter in gedagte dat dit goed is om die aanbieding kort te hou, aangesien ons ’n beperkte tyd het om die gebied te dek.
3. Wie kan ons uitnooi?
3 As julle gemeente ’n groot gebied het, sal die ouer manne moontlik sê dat julle reeds met die eerste besoek uitnodigings kan laat by huise waar niemand tuis is nie. Wanneer dit gepas is, kan julle die tydskrifte saam met die uitnodiging aanbied. Moenie vergeet om julle herbesoeke, Bybelstudente, werksmaats, skoolmaats, familielede, bure en ander kennisse uit te nooi nie.
4. Wat sal waardering vir Jehovah se liefdevolle voorsiening van die losprys ons beweeg om te doen?
4 Berei voor om soveel moontlik te doen: Die Gedenkmaalseisoen is ’n uitstekende tyd om bedrywiger te word. Kan jy jou rooster aanpas sodat jy hulppionierdiens kan doen? Het jy kinders of Bybelstudente wat goeie geestelike vordering maak? Indien wel, kan jy gerus die ouer manne nader om uit te vind of die nuwelinge aan die vereistes voldoen om as ongedoopte verkondigers aan hierdie spesiale kampanje deel te neem. Waardering vir Jehovah se liefdevolle voorsiening van die losprys sal ons beweeg om nie net teenwoordig te wees by die Gedenkmaal nie, maar ook om soveel moontlik uit te nooi om dit saam met ons by te woon.—Joh. 3:16.