Die verspreiding van Gedenkmaaluitnodigings begin op 2 April
1. Wanneer gaan ons vanjaar Gedenkmaaluitnodigings versprei, en van watter nut is hierdie jaarlikse kampanje?
1 Ons sal vanaf 2 April tot 17 April uitnodigings versprei na die belangrikste gebeurtenis van die jaar—die Herdenking van Christus se dood. In die verlede het baie belangstellendes gunstig gereageer op hierdie jaarlikse kampanje. Byvoorbeeld, op die dag van die Gedenkmaal het ’n vrou die takkantoor gebel en gesê: “Ek het nou net by die huis gekom en ’n uitnodiging onder my deur gevind. Ek wil gaan, maar ek is nie seker hoe laat dit begin nie.” Die broer het verduidelik waar hierdie inligting op die uitnodiging gevind kan word. Die vrou het haar gesprek afgesluit deur te belowe: “Ek gaan julle geleentheid vanaand bywoon!”
2. Wat kan ons sê wanneer ons die uitnodiging aanbied?
2 Hoe ons dit gaan doen: Aangesien ons ’n beperkte tyd het om die gebied te dek, sal dit goed wees om die aanbieding kort te hou. Ons kan sê: “Hallo. Ons wil graag vir julle gesin hierdie uitnodiging gee na ’n belangrike jaarlikse herdenking wat wêreldwyd op Sondag 17 April gehou sal word. [Gee die uitnodiging vir die huisbewoner.] Jesus se dood word op hierdie datum herdenk. ’n Gratis Bybeltoespraak sal gehou word oor hoe ons by Christus se losprys kan baat vind. Hierdie uitnodiging dui aan waar en wanneer hierdie vergadering in ons omgewing gehou sal word.”
3. Hoe kan ons soveel mense as moontlik nooi?
3 As die gemeente ’n groot gebied het, sal die ouer manne dalk besluit dat die uitnodigings by nietuise gelaat moet word, mits dit op ’n onopsigtelike plek is. Maak seker dat jy jou herbesoeke, familielede, werksmaats, skoolmaats en ander kennisse nooi. Wanneer jy oor naweke die uitnodiging versprei, kan jy die tydskrifte aanbied wanneer dit gepas is. Kan jy tydens April hulppionierdiens doen en ’n groter aandeel aan hierdie genotvolle kampanje hê?
4. Waarom wil ons hê dat belangstellendes die Gedenkmaal moet bywoon?
4 Wat ’n kragtige getuienis sal belangstellendes wat dit bywoon, tog ontvang! Hulle sal hoor van die groot liefde wat Jehovah getoon het deur die losprys te voorsien (Joh. 3:16). Hulle sal leer hoe God se Koninkryk die mensdom tot voordeel sal strek (Jes. 65:21-23). Hulle sal ook genooi word om die saalwagters te nader en ’n Bybelstudie te vra om meer te leer. Dit is ons bede dat talle opregtes van hart gunstig op hierdie kampanje sal reageer en saam met ons die Gedenkmaal sal bywoon!