Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 7/11 bl. 4-7
  • Drie dae van geestelike verkwikking

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Drie dae van geestelike verkwikking
  • Ons Koninkryksbediening—2011
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons Streekbyeenkomste—Kragtige getuienis vir die waarheid
    Ons Koninkryksbediening—2012
  • Gedrag wat God verheerlik
    Ons Koninkryksbediening—2013
  • “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies”
    Ons Koninkryksbediening—2014
  • Streekbyeenkomste—’n Tyd vir vreugdevolle aanbidding
    Ons Koninkryksbediening—2010
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2011
km 7/11 bl. 4-7

Drie dae van geestelike verkwikking

1. Wat kan ons verwag om by vanjaar se streekbyeenkoms te ontvang?

1 In hierdie geestelik verskroeide land wat Satan se wêreld is, verkwik Jehovah voortdurend sy knegte (Jes. 58:11). Een voorsiening waardeur Jehovah ons versterk, is die jaarlikse streekbyeenkoms. Vanjaar se streekbyeenkoms kom nader. Hoe kan ons dan voorberei om geestelike verkwikking te ontvang en te bied?—Spr. 21:5.

2. Watter voorbereidings moet ons finaliseer?

2 As jy dit nog nie gedoen het nie, moet jy nou tyd maak om jou persoonlike en werkrooster so te reël dat jy al drie dae van die byeenkoms kan bywoon. Het jy bereken hoe lank dit elke dag sal neem om na die byeenkoms te ry sodat jy geruime tyd voor die begin van die program daar aankom en ’n sitplek kan vind? Ons wil beslis niks misloop van die verkwikkende geestelike maaltyd wat Jehovah vir ons berei het nie! (Jes. 65:13, 14). Het jy jou reëlings vir huisvesting en vervoer gefinaliseer?

3. Watter wenke sal ons en ons gesin help om ten volle by die program baat te vind?

3 Wat sal jou help sodat jou gedagtes nie gedurende die sessies dwaal nie? Kry elke nag gedurende die byeenkoms genoeg slaap, indien moontlik. Hou jou oë op die spreker. Slaan elke teks in jou Bybel na. Maak kort aantekeninge. Dit is goed as gesinne saam sit sodat ouers hulle kinders kan help om aandagtig te luister (Spr. 29:15). Miskien kan julle elke aand as gesin glanspunte van die program bespreek. Julle kan later gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding tyd opsysit om spesifieke punte te bespreek wat julle as gesin kan toepas. Sodoende kan julle gesin selfs ná die byeenkoms verkwik word.

4. Hoe kan ons ander in ons gemeente help om geestelike verkwikking te verkry?

4 Help ander om verkwikking te verkry: Ons wil hê dat ander ook geestelik verkwik moet word. Is daar bejaarde verkondigers of ander in die gemeente wat hulp nodig het om die byeenkoms by te woon? Kan jy hulle help? (1 Joh. 3:17, 18). Ouer manne, veral groepopsieners, moet toesien dat hierdie verkondigers die nodige hulp ontvang.

5. Hoe sal ons uitnodigings na die byeenkoms versprei? (Sien ook die venster hierbo.)

5 Soos in die verlede, sal ons drie weke voor ons streekbyeenkoms aan ’n kampanje deelneem om ander te nooi om dit by te woon. Gemeentes moet hulle dit ten doel stel om al die uitnodigings wat hulle ontvang, te versprei en soveel moontlik van hulle gebied te dek. Die uitnodigings wat julle gesin ná die kampanje oorhet, moet na die byeenkoms gebring word sodat julle dit vir informele getuieniswerk kan gebruik. Verdere inligting hieroor sal Vrydag gedurende die program verstrek word. Uitnodigings wat julle gesin meen julle nie in die byeenkomsstad sal gebruik nie, moet julle vir ’n saalwagter gee wanneer julle by die byeenkoms aankom. Hou asseblief een eksemplaar vir jouself, want jy sal dit Sondag gedurende die laaste toespraak nodig hê.

6. Hoe kan ons goeie maniere by die byeenkoms aan die dag lê?

6 Goeie maniere verkwik: Hoe verkwikkend is dit tog om gedurende ’n tyd wanneer baie mense “liefhebbers van hulleself” is en nie die gevoelens van ander in ag neem nie, saam met mede-Christene te wees wat goeie maniere aan die dag probeer lê! (2 Tim. 3:2). Ons toon goeie maniere deur die gebou op ’n kalm en ordelike manier binne te gaan wanneer die deure oopgemaak word en deur sitplekke te hou net vir dié wat in ons huis woon of wat in ons voertuig ry of diegene met wie ons tans die Bybel studeer. Ons gee gehoor aan die voorsitter se versoek wanneer hy vra dat ons gaan sit om na die musiektussenspel te luister wat elke sessie inlui. Dit toon goeie maniere om ons selfoon of roepradio te stel sodat dit nie ander se aandag gedurende die program aflei nie. Ons lê ook goeie maniere aan die dag deur nie gedurende die program te praat, SMS’e te stuur, te eet of onnodig in die gange rond te loop nie.

7. Hoe kan ons verkwikking verkry en bied terwyl ons met ons broers assosieer?

7 Verkwikkende assosiasie: Streekbyeenkomste bied ons groter geleenthede om ons verkwikkende Christelike eenheid en broederskap te geniet (Ps. 133:1-3). Neem gerus die inisiatief om ‘verruim te word’ en broers en susters van ander gemeentes te ontmoet (2 Kor. 6:13). Jy kan jou dit ten doel stel om elke dag ten minste een nuwe persoon of nuwe gesin te leer ken. Die middagpouse bied ’n goeie geleentheid om dit te doen. Bring dus ’n ligte ete en geniet dit om by die byeenkoms saam met ander te eet en met hulle te assosieer eerder as om die fasiliteit te verlaat om kos te gaan koop of om in ’n nabygeleë restaurant te eet. Sodoende kan ons met nuwe en blywende vriendskappe geseën word.

8. Waarom moet ons aanbied om by die byeenkoms te werk, en hoe kan ons dit doen?

8 Hoe verkwikkend is dit tog om sy aan sy met medeaanbidders heilige diens te verrig! Kan jy aanbied om ’n afdeling te help of om julle gemeente met hulle skoonmaaktoewysing te help? (Ps. 110:3). As jy nie alreeds ’n werkstoewysing het nie, moet jy dit asseblief oorweeg om na die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms te gaan. Baie hande maak die werk vreugdevol en lig.

9. Waarom moet ons gedurende die byeenkoms spesiale aandag aan ons gedrag en voorkoms skenk?

9 Ons gedrag is verkwikkend vir buitestanders: Ons is byeenkomsgangers gedurende al drie dae van die streekbyeenkoms, nie net gedurende die program nie. Mense wat ons sien terwyl ons in die byeenkomsstad is, moet ’n verkwikkende verskil kan sien tussen ons en diegene wat nie Getuies is nie (1 Pet. 2:12). Ons kleredrag en persoonsversorging by die byeenkoms, by ons huisvesting en by restaurante moet Jehovah verheerlik (1 Tim. 2:9, 10). As ons ons lapelkaart dra, sal buitestanders ons as Jehovah se Getuies kan identifiseer. Dit kan ons ’n geleentheid bied om hulle van ons streekbyeenkoms te vertel en ’n verdere getuienis te gee.

10. Hoe kan ons verseker dat hotel- en restaurantwerkers ’n positiewe beskouing van ons streekbyeenkoms het?

10 Hoe kan ons met die werkers by die hotel of gastehuis of restaurant saamwerk? Ons moenie meer kamers bespreek as wat ons sal gebruik nie, want dit verhinder dat ander byeenkomsgangers kamers kry. As die hotel of gastehuis besig is wanneer ons daar aankom of vertrek, moet ons geduldig en aangenaam wees (Kol. 4:6). Ons moet die gebruiklike fooitjie gee aan kelners by restaurante en aan hotel- of gastehuiswerkers wat ons bagasie dra, ons kamer skoonmaak en ander dienste lewer.

11. Watter ondervindinge lig toe dat ons Christelike gedrag ’n goeie getuienis lewer?

11 Watter indruk skep ons goeie gedrag gedurende die streekbyeenkoms by ander? Volgens ’n koerantartikel het die bestuurder van ’n fasiliteit wat vir streekbyeenkomste gebruik is, die volgende gesê: “Die mense is baie beleef. Ons is verheug om hulle elke jaar te hê.” Verlede jaar het ’n man wat nie ’n Getuie is nie, sy beursie verloor by ’n hotel wat deur byeenkomsgangers gebruik is. Toe die beursie aan die hotelbestuurder terugbesorg is met alles wat oorspronklik daarin was, het die bestuurder vir die eienaar van die beursie gesê: “Jy is gelukkig dat Jehovah se Getuies hulle byeenkoms hier naby bygewoon het en dat die hotel vol Getuies was. Anders sou jy waarskynlik nie die beursie teruggekry het nie.”

12. Wat moet ons doelwit wees noudat die streekbyeenkoms nader kom, en waarom?

12 Vanjaar se streekbyeenkomste kom vinnig nader. Baie tyd en inspanning is daaraan bestee om die program en die atmosfeer by die byeenkoms verkwikkend te maak. Stel jou dit ten doel om al drie dae by te woon, en wees gereed vir wat Jehovah en sy organisasie vir jou voorberei het. Wees vasbeslote om ander deur jou goeie maniere, vreugdevolle assosiasie en voortreflike gedrag te verkwik. Dan sal jy en ander moontlik voel soos een van verlede jaar se byeenkomsgangers wat geskryf het: “Dit was seker die bevredigendste ondervinding wat ek nog gehad het!”

[Lokteks op bladsy 4]

Soos in die verlede, sal ons drie weke voor ons streekbyeenkoms aan ’n kampanje deelneem om ander te nooi om dit by te woon

[Lokteks op bladsy 4]

Ons kleredrag en persoonsversorging by die byeenkoms, by ons huisvesting en by restaurante moet Jehovah verheerlik

[Lokteks op bladsy 7]

Wees vasbeslote om ander deur jou goeie maniere, vreugdevolle assosiasie en voortreflike gedrag te verkwik

[Venster op bladsye 4]

Herinneringe vir die streekbyeenkoms vir 2011

◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. Wanneer die inleidende musiek aangekondig word, moet ons almal by ons sitplekke wees sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag om 4:15 nm., Saterdag om 4:30 nm. en Sondag om 3:05 nm. eindig.

◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons beheer oor die parkeerterreine het, sal die parkering gratis wees; dié wat eerste kom, sal die eerste parkeerplekke kry. Aangesien parkering gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers sover moontlik met vol motors ry.

◼ Huisvesting: Special Needs Room Request-vorms (CO-5-E) is beskikbaar vir verkondigers wat huisvesting nodig het. Die Gemeentelike Dienskomitee moet kyk of die verkondiger hiervoor kwalifiseer deur gebruik te maak van die riglyne op die vorm sowel as die brief van 14 Desember 2010 aan alle liggame van ouer manne. Hierdie voorsiening is slegs vir verkondigers wat ’n goeie naam in die gemeente het, asook hulle kinders wat goedgemanierd is.

◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon, asook dié met wie jy tans ’n Bybelstudie hou.—1 Kor. 13:5.

◼ Middagete: Bring asseblief middagete saam eerder as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Groot piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.

◼ Bydraes: Ons kan ons waardering vir die byeenkomsreëlings toon deur by ons Koninkryksaal of by die byeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is. Elektroniese kaartfasiliteite sal by sekere byeenkomste beskikbaar wees sodat bydraes met ’n debiet- of kredietkaart gemaak kan word. Vind asseblief by die Byeenkomskomitee uit waar hierdie fasiliteit sal wees.

◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief die naaste saalwagter inlig, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.

◼ Medisyne: As jy voorskrifmedisyne gebruik, moet jy asseblief seker maak dat jy genoeg saambring, aangesien niks by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie.

◼ Skoene: Elke jaar is daar ’n aantal beserings wat met skoene verband hou. Dit is raadsaam om skoene te kies wat beskeie is en goed pas, sodat jy veilig op trappe, traliewerk, ensovoorts kan loop.

◼ Opnames: Opneemtoestelle moenie aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsel gekoppel word nie en mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.

◼ Kinderwaentjies: Kinderwaentjies moenie in die byeenkomsouditorium ingeneem word nie. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar.

◼ Parfuums: Baie streekbyeenkomste word in geboue gehou waar ons op meganiese lugversorging staatmaak. Dit sal dus liefdevol van ons wees om die gebruik te beperk van skerp naskeermiddels en parfuums wat diegene met asemhalings- of verwante probleme kan aantas.—1 Kor. 10:24.

◼ Volg asseblief op-vorms (S-43): ’n Volg asseblief op-vorm moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigiemand wat belangstelling toon as gevolg van informele getuieniswerk gedurende die byeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms saambring na die byeenkoms. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of aan die gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir November 2009, bl. 4.

◼ Restaurante: Verheerlik Jehovah se naam deur jou goeie gedrag by restaurante. Dit is gebruiklik om ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.

◼ Vrywilligerdiens: Die vreugde wat dit ons verskaf om die byeenkoms by te woon, sal selfs groter wees as ons aanbied om met die nodige werk te help (Hand. 20:35). Enigiemand wat dit graag wil doen, moet na die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms gaan. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur te werk onder die toesig van ’n ouer of ’n voog of ’n ander volwassene wat deur een van hulle goedgekeur is.

◼ Liedere: Gemeentes sal moontlik die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen. Liedere vir Vrydag: 5, 18, 31, 30, 86 en 19. Liedere vir Saterdag: 93, 40, 59, 24, 89 en 134. Liedere vir Sondag: 109, 99, 133, 69, 64 en 2.

[Venster op bladsy 5]

Hoe sal ons die uitnodiging aanbied?

Hoe sal ons die uitnodiging aanbied? Ons moet die aanbieding kort hou sodat ons ons gebied kan dek. Ons kan iets sê soos: “Hallo. Ons neem deel aan ’n wêreldwye poging om hierdie uitnodiging te versprei. Hier is jou eksemplaar. Jy sal meer besonderhede op die uitnodiging vind.” Die voorkant van die uitnodiging is treffend; gee dit dus vir die huisbewoner op so ’n manier dat hy dit kan sien. Wees geesdriftig. Wanneer ons die uitnodiging oor die naweke versprei, moet ons ook die tydskrifte aanbied wanneer dit gepas is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel