‘Hierdie goeie nuus sal verkondig word’!
1. Hoe weet ons dat niks die predikingswerk kan keer nie?
1 Hoegenaamd niks kan Jehovah keer om sy wil uit te voer nie (Jes. 14:24). Hoewel die rigter Gideon en sy 300 man teen ’n skynbaar onoorwinlike oormag van 135 000 Midianitiese soldate te staan gekom het, het Jehovah vir hom gesê: “Jy sal Israel beslis uit Midian se palm red. Stuur ek jou nie?” (Rigt. 6:14). Watter werk geniet vandag Jehovah se steun? Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matt. 24:14). Niemand sal kan keer dat hierdie werk volbring word nie!
2. Waarom kan ons verwag dat Jehovah ons persoonlik in die bediening sal help?
2 Jehovah help ons persoonlik: Ons kan seker wees dat Jehovah sy Getuies as ’n groep sukses sal laat behaal; maar kan ons verwag dat Jehovah ons persoonlik sal help? Toe die apostel Paulus ’n moeilike tyd deurgemaak het, het hy gevoel dat Jehovah hom persoonlik ondersteun deur middel van sy Seun, Jesus (2 Tim. 4:17). Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ook ons individuele pogings om sy wil uit te voer, sal seën.—1 Joh. 5:14.
3. Onder watter omstandighede help Jehovah ons?
3 Het jy weens die daaglikse sorge van die lewe min energie vir die bediening? “Hy gee die vermoeide krag” (Jes. 40:29-31). Moet jy vervolging of teenstand die hoof bied? “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Ps. 55:22). Het jy soms te min selfvertroue? “Gaan . . . , en ek sal met jou mond wees” (Eks. 4:11, 12). Het jy gesondheidsprobleme wat beperk hoeveel jy in die bediening kan doen? Jehovah waardeer jou heelhartige pogings en kan dit gebruik, ongeag hoe gering dit is.—1 Kor. 3:6, 9.
4. Watter uitwerking sal vertroue in Jehovah op ons hê?
4 Jehovah se hand “is uitgesteek, en wie kan dit afwend?” (Jes. 14:27). Laat ons voortgaan om sonder ophou “met vrymoedigheid . . . op gesag van Jehovah” te preek, vol vertroue dat Jehovah ons bediening sal seën.—Hand. 14:3.