Wees Bybelstudiebewus
1. Wat is daarby betrokke om Jesus se opdrag in Matteus 28:19, 20 uit te voer?
1 Jesus het ons die opdrag gegee om ‘dissipels te maak en hulle te leer’ (Matt. 28:19, 20). Gevolglik moet ons te alle tye Bybelstudiebewus wees, nie net op die een dag van die naweek wat spesiaal opsygesit is om Bybelstudies aan te bied nie. Die volgende wenke sal dalk nuttig wees.
2. Vir wie kan ons ’n Bybelstudie aanbied?
2 Bied dit aan: Hoe meer ons ’n Bybelstudie aanbied, hoe meer geleenthede sal ons hê om ’n Bybelstudie te kry (Pred. 11:6). Het jy al die direkte benadering probeer? ’n Gemeente in die Verenigde State het ’n doelbewuste poging aangewend om dit ’n hele maand lank te doen. Hoe verheug was hulle tog dat hulle 42 nuwe Bybelstudies begin het! Moenie aanneem dat belangstellendes wat jy besoek, weet dat jy Bybellesse gee nie. Bied gerus ’n studie aan wanneer jy weer teruggaan. Dit maak nie saak as hulle jou aanbod van die hand wys nie. Jy kan aanhou om die belangstelling te kweek. Het jy al jou bure, familielede, werksmaats en skoolmaats gevra of hulle graag die Bybel met jou wil studeer? Jy kan ook jou Bybelstudente vra of hulle vriende of familielede het wat ’n Bybelstudie sal geniet.
3. Watter nuttige hulpmiddel het ons om studies te begin, en wanneer kan ons dit gebruik?
3 Nuttige hulpmiddel: ’n Nuttige hulpmiddel om Bybelstudies te begin, is die traktaat Die waarheid—Wil jy dit graag vind? Jy kan dit vir huisbewoners gee hetsy hulle ander lektuur neem of nie. Dit kan gebruik word wanneer jy in sakegebied werk, straatwerk doen, briewe stuur en herbesoeke doen. Dit kan ook by huise gelaat word waar niemand tuis is nie. Hou dit gerus by jou wanneer jy openbare vervoer gebruik, inkopies doen en by die werk is. Die agterste bladsy verduidelik kortliks ons Bybelstudiereëling en stel die Leer Bybel-boek bekend.
4. Hoe kan ons die Waarheid-traktaat gebruik om ’n studie te begin?
4 Nadat jy die traktaat vir die persoon gegee het, kan jy na die vrae op die voorste bladsy wys en hom vra: “In watter van hierdie vrae stel jy die meeste belang?” Gaan dan saam deur die antwoord in die traktaat, en lees of omskryf die agterste bladsy, wat ons Bybelstudiereëling verduidelik. Jy kan hom dan wys waar meer inligting daaroor in die Leer Bybel-boek gevind word, die boek aanbied en reëlings tref om terug te gaan en die bespreking voort te sit.
5. Waarom moet ons Bybelstudiebewus wees?
5 Daar is nog mense in ons gebied wat baie graag wil weet wat die Bybel werklik leer. As ons Bybelstudiebewus is, sal ons meer geleenthede hê om die vreugde te smaak om ander te help om op die pad na die lewe te kom.—Matt. 7:13, 14.