Hou aan om op die dissipelmaakwerk te fokus
1. Wat moet gedoen word sodat mense gered kan word?
1 Die jaarlikse diensrapport vir 2014 weerspieël die ywer van God se volk en hulle vasbeslotenheid om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matt. 24:14). Deur middel van die huis-tot-huis-bediening, spesiale kampanjes om traktate en uitnodigings te versprei en die openbare getuieniswerk, bereik ons meer mense met die Bybel se boodskap as ooit tevore. Maar om mense te help om gered te word, moet ons hulle help om dissipels van Jesus te word deur die Bybel met hulle te studeer.—1 Tim. 2:4.
2. Watter vrae moet ons ons afvra om ons te help om Bybelstudiebewus te wees?
2 Wees Bybelstudiebewus: Probeer jy, wanneer iemand belangstelling toon, om sy kontakbesonderhede te kry? En gaan jy dan so gou as moontlik na hom terug met die doel om ’n Bybelstudie te begin? Wanneer laas het jy probeer om ’n Bybelstudie by die eerste besoek te demonstreer? Wanneer laas het jy vir diegene op jou tydskrifroete ’n Bybelstudie aangebied? Het jy al die video’s Waarom moet jy die Bybel studeer? en Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie? aan werksmaats, skoolmaats, bure, familielede en ander kennisse gewys? Sê jy, wanneer jy by ’n lektuuruitstalling getuig, vir diegene wat ’n studiepublikasie neem dat ons ook gratis Bybelstudies aanbied?
3. Wat is nodig sodat ons die waarheid met sukses aan ander kan leer?
3 Hulp van Jehovah en Jesus: Deur sy bevel om ‘dissipels te maak’ met die woord “gaan” te begin, het Jesus aangedui dat ons ons moet inspan en die inisiatief moet neem. Maar hy het ons nie op ons eie gelaat nie; hy het eerder belowe om met ons te wees (Matt. 28:19, 20). Boonop gee Jehovah ons sy heilige gees sowel as die opleiding en die hulpmiddele wat ons nodig het om mense die waarheid te leer (Sag. 4:6; 2 Kor. 4:7). Ons kan vir die begeerte asook die krag bid om aan hierdie belangrike werk deel te neem.—Fil. 2:13.
4. Waarom moet ons aanhou om op die dissipelmaakwerk te fokus?
4 Die predikingswerk gee ons baie vreugde. Maar ons is selfs gelukkiger wanneer ons iemand die waarheid leer en hom help om ook op “die pad wat na die lewe lei,” te kom (Matt. 7:14; 1 Tess. 2:19, 20). Nog belangriker, deur aan te hou om op die dissipelmaakwerk te fokus, maak ons Jehovah se hart bly omdat hy “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom”.—2 Pet. 3:9.