Getuig met selfvertroue in sakegebied
1. Waarom moet ons nie mismoedig word as ons skrikkerig voel om in sakegebied te getuig nie?
1 Is jy skrikkerig om in sakegebied te getuig? Indien wel, moet jy nie mismoedig voel nie, want selfs Paulus, wat ’n moedige en vreeslose bedienaar was, moes ‘vrymoedigheid bymekaarskraap’ om te preek (1 Tess. 2:2). ’n Paar algemene vrese word hieronder genoem, sowel as praktiese wenke om dit te oorkom.
2. Waarom moet ons nie bekommerd wees dat werkers geïrriteerd sal raak nie?
2 Sal die werkers nie geïrriteerd raak as hulle onderbreek word nie? In baie sakeondernemings is werkers daar om die publiek te bedien, en daarom verwag hulle onderbrekings. Hulle sal dikwels vriendelik wees, aangesien hulle jou dalk as ’n potensiële klant sal beskou. As jy netjies aangetrek en vriendelik is, sal dit hulle aanspoor om jou met respek te behandel.
3. Wat kan ons doen sodat ons nie die klante irriteer nie?
3 Sal ek my aanbieding voor baie klante moet doen? Indien moontlik, moet jy ’n tyd kies wanneer winkels nie baie besig is nie, soos net nadat hulle oopgemaak het. Wag totdat die bestuurder of klerk alleen is voordat jy hom of haar nader. Hou jou aanbieding baie kort.
4. Wat kan ons sê wanneer ons ’n sakeonderneming besoek?
4 Wat moet ek sê? As daar ’n hele paar werkers is, moet jy met die bestuurder praat. Jy kan sê: “Dit is moeilik om mense in die sakewêreld by die huis te vind, en daarom besoek ons u by u werksplek. Ek besef dat u besig is om te werk, en daarom sal ek nie baie van u tyd in beslag neem nie.” Aangesien ons nie met verkoopsagente verwar wil word nie, is dit gewoonlik beter om nie die bydraereëling te meld tensy iemand ons vra hoe ons werk gefinansier word nie. Afhangende van die soort sakeonderneming wat jy besoek, kan jy die bestuurder vra of jy kortliks met die werkers mag praat. Doen dan jou aanbieding vir hulle. As dit lyk of ’n werker besig is, kan jy jou aanbieding verkort en ’n traktaat by hom laat. As dit nie moontlik is om met die werkers te praat nie, kan jy vra of jy lektuur in die teekamer of op ’n ander plek vir hulle kan laat.
5. Waarom kan jy met selfvertroue in sakegebied getuig?
5 Jesus en Paulus het met selfvertroue vir mense by hulle werksplekke gepreek, en jy kan ook (Matt. 4:18-21; 9:9; Hand. 17:17). Vra Jehovah om jou ’n kalm hart te gee en jou te help om met vrymoedigheid te preek (Hand. 4:29). In sakegebied is daar baie min “nietuise”. Dit is dus ’n produktiewe aspek van die getuieniswerk wat jy gerus kan probeer.