Sal jy die geleentheid aangryp?
Die komende Gedenkmaal is ’n geleentheid om ons dankbaarheid te betoon
1. Watter spesiale geleentheid bied die Gedenkmaal ons?
1 Die Gedenkmaal wat op 14 April sal plaasvind, bied ons ’n unieke geleentheid om selfs groter dankbaarheid vir Jehovah se goedheid te betoon. Die verslag in Lukas 17:11-18 toon wat Jehovah en Jesus se beskouing van dankbaarheid is. Net een van die tien melaatses wat genees is, het die geleentheid aangegryp om sy dank uit te spreek. In die toekoms sal mense geheel en al van hulle kwale genees word en die ewige lewe ’n werklikheid wees danksy die gawe van die losprys! Dan sal ons Jehovah ongetwyfeld elke dag dank vir hierdie seëninge. Maar hoe kan ons gedurende die komende weke dankbaarheid betoon?
2. Hoe kan ons ons dankbaarheid vir die losprys vergroot?
2 Hoe ons ons dankbaarheid kan vergroot: Ons kan ons dankbaarheid vir die losprys vergroot deur diep daaroor na te dink. Die rooster vir die spesiale Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal kan ons hiermee help. Dit kan op ’n aantal plekke gevind word, soos in aanhangsel B12 van die bygewerkte Engelse Nuwe Wêreld-vertaling, die kalender en Ondersoek die Skrif elke dag. Kan gesinne dalk hierdie inligting saam bespreek? Dit sal ons waardering vir die losprys vergroot. En dit sal weer ’n positiewe uitwerking op ons gedrag hê.—2 Kor. 5:14, 15; 1 Joh. 4:11.
3. Op watter maniere kan ons gedurende die Gedenkmaalseisoen ons dankbaarheid betoon?
3 Betoon dankbaarheid: Dankbaarheid word deur dade betoon (Kol. 3:15). Die dankbare melaatse het moeite gedoen om Jesus te vind en hom te bedank. Hy het ongetwyfeld ook ander geesdriftig vertel van hoe hy wonderdadig genees is (Luk. 6:45). Sal dankbaarheid vir die losprys ons beweeg om ywerig deel te neem aan die kampanje om die Gedenkmaal te adverteer? Nog ’n manier waarop ons ons dankbaarheid kan betoon, is om gedurende die Gedenkmaalseisoen aan die hulppionierdiens deel te neem of om meer in die bediening te doen. Op die aand van die Gedenkmaal sal ’n dankbare hart ons beweeg om besoekers te verwelkom en hulle vrae te beantwoord.
4. Hoe kan ons seker maak dat ons nie sal spyt voel nadat die Gedenkmaal verby is nie?
4 Sal hierdie Gedenkmaal ons laaste een wees? (1 Kor. 11:26). Ons weet nie. Maar wat ons wel weet, is dat wanneer dit eers verby is, ’n gulde geleentheid om dankbaarheid te betoon ook verby sal wees. Sal jy dus hierdie geleentheid aangryp? Mag die woorde van waardering wat ons spreek en die bepeinsing van ons hart aangenaam wees vir Jehovah, die vrygewige Voorsiener van die losprys.—Ps. 19:14.