Die Koninkryk word al ’n eeu lank geadverteer!
1. Wat is Jehovah se volk byna ’n eeu gelede aangespoor om te doen?
1 “Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Met hierdie treffende woorde wat broer Rutherford byna ’n eeu gelede gespreek het, is Jehovah se volk aangespoor om die Koninkryksboodskap wyd en syd te verkondig. En dit is wat ons gedoen het! Soos die vroeë Christene, het ons die goeie nuus van die Koninkryk “in die hele skepping wat onder die hemel is”, verkondig (Kol. 1:23). Wat het ons oor die afgelope eeu gedoen om God se Koninkryk te adverteer? Hoe kan ons voortgaan om dit te adverteer terwyl die 100ste herdenking van die Koninkryk se geboorte nader kom?
2. Hoe het ons lektuur God se Koninkryk bevorder?
2 In die verlede: Ons lektuur bevorder al dekades lank God se Koninkryk. Sedert 1939 is die titel van ons hooftydskrif: Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Hierdie tydskrif bevat dikwels besprekings oor die Koninkryk en wat dit tot stand sal bring. Die Ontwaak! vestig ook die aandag op God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom. Hoe gepas is dit tog dat hierdie twee tydskrifte nou die mees vertaalde en wyds verspreide tydskrifte in die wêreld is!—Op. 14:6.
3. Wat is party van die metodes wat ons gebruik het om die Koninkryk te adverteer?
3 Jehovah se volk het verskeie metodes gebruik om die Koninkryk te adverteer. In die vroeë dae het ons klankmotors, radio-uitsendings en draagbare grammofone gebruik. Hierdie metodes het ons gehelp om die goeie nuus aan ’n groot gehoor bekend te maak gedurende ’n tyd toe daar betreklik min Koninkryksverkondigers was (Ps. 19:4). In onlangse jare het ons inligting op jw.org gepubliseer en sodoende die Koninkryk aan miljoene bekend gemaak—insluitende mense wat in lande woon waar daar beperkings op ons werk is.
4. Aan watter spesiale inisiatiewe het ons deelgeneem?
4 Jehovah se volk het ook aan spesiale inisiatiewe deelgeneem om die Koninkryksboodskap te versprei. Byvoorbeeld, vanaf die middel-1990’s wend ons ’n poging aan om ons huis-tot-huis-bediening aan te vul met getuieniswerk in openbare parke, in parkeerterreine en by besighede. Onlangs het ons spesiale openbare getuieniswerk in groot stede regoor die wêreld georganiseer. Daarbenewens neem baie gemeentes deel aan openbare getuieniswerk in hulle plaaslike gebied met behulp van lektuurstaanders en -tafels wat naby besige plekke opgerig word. Ons huis-tot-huis-bediening bly natuurlik die vernaamste aspek van ons Koninkrykspredikingswerk.—Hand. 20:20.
5. Watter geleenthede sal die nuwe diensjaar vir baie van ons bied?
5 In die toekoms: Baie sal aan die begin van die nuwe diensjaar in September as gewone pioniers begin dien. Kan jy een van hulle wees? Indien nie, kan jy dalk van tyd tot tyd as ’n hulppionier dien? Hetsy jy kan pionier of nie, Jehovah sal jou beslis seën vir enige opofferings wat jy maak om soveel moontlik te doen om die Koninkryk te adverteer.—Mal. 3:10.
6. Waarom sal Oktober 2014 ’n spesiale maand wees?
6 Die 100ste herdenking van die geboorte van die Koninkryk val in Oktober 2014. Die publieke uitgawe van Die Wagtoring sal daardie maand gepas die aandag op God se Koninkryk vestig. Span jou in om hierdie nommer in die hande van soveel mense moontlik te kry. Laat elkeen van ons in die toekoms voortgaan om ‘die goeie nuus van die koninkryk van God bekend te maak’ aan almal wat sal luister.—Hand. 8:12.