‘Jehovah, laat my asseblief toe om u te dien’
Soos vertel deur Danielle Hall
Toe ek ’n klein dogtertjie was, het ek dit geniet om te gaan kuier by my ouma, wat langs ons gebly het. Sy het elke dag ’n middagslapie geneem. As ek toevallig dan by haar gaan kuier het, het ons saam in die bed gesit terwyl sy vir my Bybelverhale gelees het. Sy het dikwels vir my gesê: “Moet nooit vergeet dat Jehovah jou liefhet nie. En as jy hom liefhet, sal hy altyd vir jou sorg.” Haar woorde het tot diep in my verstand en hart deurgedring.
MY OUMA is in 1977 oorlede, toe ek vier jaar oud was. Sy was een van Jehovah se Getuies, en so ook die res van my pa se familie in ons tuisdorp Moe, Australië. My ouers was nie Getuies nie, maar my pa was hulle goedgesind. Ons gesin het later na Tintenbar getrek, ’n dorpie naby die kus van Nieu-Suid-Wallis. Daar het ek en my ouer broer, Jamie, af en toe vergaderinge van die Getuies saam met ons pa bygewoon.
Toe ek agt jaar oud was, het my ouers uitmekaar gegaan. My pa het na Moe teruggekeer, en ek en Jamie het by ons ma gebly. Sy het nie in die Bybel belanggestel nie en wou nie hê dat ons die Getuies se vergaderinge moes bywoon nie. Dit het my baie hartseer gemaak. Ek het teruggedink aan my ouma se woorde, wat vir my soveel beteken het. Ek het geweet ek het Jehovah lief! En ek wou hom dien. Daarom het ek tot Jehovah gebid en vir hom gesê dat ek ook een van sy Getuies is. Jamie het ook so gevoel.
Beproewinge by die skool
Kort daarna het ’n onderwyser elke kind in ons klas gevra om te sê aan watter godsdiens hy of sy behoort sodat hy dit in ’n register kon skryf. Toe dit Jamie se beurt was, het hy met ’n harde, duidelike stem gesê: “Jehovah se Getuie.” Die onderwyser het hom gevra om sy antwoord te herhaal, wat hy toe gedoen het. “Ek is nie so seker daarvan nie, maar ek sal later na jou toe terugkom”, het die onderwyser gesê. Toe dit my beurt was, het ek ook uitgeroep: “Jehovah se Getuie.” Die onderwyser, wat ooglopend gefrustreerd was, het die skoolhoof laat roep.
“Ek het julle inskrywingsvorms hier voor my, en julle ouers het julle nie as Jehovah se Getuies geregistreer nie”, het die hoof met ’n ferm stemtoon gesê. “Maar dit is die godsdiens waaraan ons behoort”, het ons beleef geantwoord. Nie hy of die onderwyser het die saak ooit weer aangeroer nie.
By die skool het ek vir my klasmaats probeer getuig met my beperkte Bybelkennis. Ek het my eksemplaar van My boek met Bybelverhale saamgeneem en het van tyd tot tyd verhale gelees vir een meisie wat in God geglo het.a Maar omdat ek altyd volgens Christelike standaarde probeer leef het, was ek nooit baie gewild nie, en soms het ek baie eensaam gevoel.
Ek het so dikwels en vurig tot Jehovah gebid dat hy my intiemste vriend geword het. Elke dag ná skool het ek op my bed gesit en Jehovah tot in die fynste besonderhede vertel van die dag se gebeure. Ek het dikwels gehuil. Met trane wat oor my wange rol, het ek gesmeek: “Jehovah, laat my asseblief toe om u saam met u volk te dien.” Nadat ek gebid het, het ek altyd baie beter gevoel.
’n Bemoedigende brief
Toe ek tien was, het Jamie na Moe teruggekeer om by ons pa te gaan woon. Ek was toe in geestelike sin selfs meer afgesonder. Later, terwyl ek by bure gekuier het, het ek tydskrifte gevind wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Ek was baie opgewonde en het die adres van die plaaslike takkantoor gememoriseer en toe vinnig huis toe gegaan om dit neer te skryf. Ek het ’n openhartige brief aan die takkantoor geskryf waarin ek my situasie verduidelik het en geestelike hulp gevra het. Hulle hartroerende antwoord van twee bladsye, wat spesiaal vir my geskryf is, het trane in my oë laat opwel. Hier was ’n bewys dat ek wel vir Jehovah kosbaar is!
Die brief het my aangemoedig om die geloof na te volg van die jong Israelitiese meisie wat ’n dienskneg geword het van Naäman, ’n Siriese leërhoof in Bybeltye. Hoewel sy ’n gevangene was en ver van haar tuisland gewoon het, het sy na aan haar God, Jehovah, gebly. En deur moedig oor haar geloof te praat, het sy getoon dat sy ’n ware getuie vir hom is.—2 Konings 5:1-4.
Die brief van die takkantoor het bygevoeg: “As ’n jong meisie moet jy Jehovah dien deur gehoorsaam te wees aan jou ouers en hard te werk op skool. Jy moet ook na aan Jehovah bly deur gebed en studie.” Die brief het ten slotte gesê: “Danielle, onthou dat Jehovah altyd na aan ons is, ongeag waar ons woon. Ons weet dat jy dit glo” (Romeine 8:35-39). Daardie brief, wat nou oud en verslete is, hou ek altyd voor in my Bybel. Oor die jare heen het ek dit al dikwels gelees, maar nie een keer sonder trane nie.
Kort hierna het ek nog ’n brief ontvang. Dit het gesê dat my pa gereël het dat ek Die Wagtoring en Ontwaak! per pos ontvang. Ek was in die wolke! Nou sou ek gereeld geestelike voedsel kry. Wanneer elke nommer afgelewer is, het ek dit van voor tot agter deurgelees. Ek het nog steeds my heel eerste eksemplare van hierdie pragtige tydskrifte. Omstreeks hierdie tyd het ’n Christen- ouer man van die plaaslike gemeente my begin besoek. Hoewel sy besoeke kort was, was dit baie bemoedigend.
Veranderinge lei tot vooruitgang
Ondanks die feit dat my geestelike situasie verbeter het, het ek nog steeds daarna gesmag om Jehovah vryelik te aanbid. Toe ek 13 geword het, het ek my ma gevra of ek by my pa kon gaan bly. Ek was baie lief vir my ma, en sy vir my, maar ek was vasbeslote om God te dien. Sy het ingestem, en ek het toe na Moe teruggekeer en die Bybel saam met die plaaslike gemeente begin studeer. Ek en Jamie het ook, met ons pa se goedkeuring, al die vergaderinge bygewoon. Die plaaslike Getuies het uit hulle pad gegaan om ons te help. Ek en Jamie het vinnig geestelike vooruitgang gemaak en is later net ’n paar maande ná mekaar gedoop. Ja, my gebed uit my kinderdae is verhoor. Ek het Jehovah saam met sy volk gedien!
Intussen het ek ’n spesiale verhouding opgebou met my oom en tannie, Philip en Lorraine Taylor, wat ook in die Moe-gemeente was. Hulle het my soos ’n dogter behandel. Toe hulle na Bougainville-eiland, Papoea-Nieu-Guinee, getrek het om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was, het ek hulle uitnodiging om saam met hulle te gaan, met albei hande aangegryp. Ek was net 15 jaar oud, maar my pa en ma het my toegelaat om te gaan.
In Bougainville het ek my skoolopleiding deur middel van korrespondensie voortgesit. Ek het andersins die meeste van my tyd in die getuieniswerk deurgebring. Wat ’n vreugde was dit tog om saam met sendelinge en pionierbedienaars te werk! Die plaaslike mense was verreweg die nederigste mense wat ek nog ontmoet het, en baie van hulle was gretig om die Bybel te bestudeer.
Later daardie jaar het politieke onluste uitgebreek, en dit het te gevaarlik geword vir my om daar te bly. Ek was baie hartseer toe ek daardie eilandjie en sy pragtige mense moes verlaat. Terwyl die klein vliegtuig opgestyg het, het oom Philip langs die aanloopbaan gestaan en vir my gewaai. Ek het bitterlik gehuil en Jehovah in my hart gesmeek om my toe te laat om eendag as ’n sendeling in ’n ander land te dien.
Nog gebede word verhoor
Nadat ek na Australië teruggekeer het en hoërskool klaargemaak het, het ek by ’n prokureursfirma opleiding begin kry as ’n kantoorklerk. Intussen het my pa weer getrou en moes hy na ’n groot stiefgesin omsien. Jamie het by my ma gebly. Ek het ’n tyd lank heen en weer tussen my pa en ma getrek. Die lewe het gekompliseerd gelyk. Ek moes my lewe vereenvoudig en op geestelike doelwitte fokus. In 1994 het ek dus die voltydse bediening as ’n pionier in Moe betree.
Ek was weer eens gelukkig. My vriende was geestelikgesinde jongmense in die gemeente, en hulle het my steunpilare geword. Trouens, in 1996 het ek met een van hulle getrou—Will—’n saggeaarde, goedhartige en nederige man wat ’n ware seën van Jehovah is.
Ons het goed aangepas by die getroude lewe, en dit het gelyk asof ons nie gelukkiger kon wees nie. Eendag het Will by die huis aangekom nadat hy saam met die reisende opsiener gewerk het wat gemeentes in ons omgewing besoek het. Hy het my gevra om te sit en toe gesê: “Sal jy bereid wees om na ’n ander gemeente te gaan om daar te gaan help?” In my hart het ek onmiddellik ja gesê. Maar ek het speels gevra: “Waarheen? Vanuatu? Fidji?” Toe Will “Morwell” sê, het ek uitgeroep: “Maar dis net hier langsaan!” Ons het albei gelag en daar en dan saamgestem dat ons glad nie sal omgee om na ons buurgemeente te gaan om daar as pioniers te dien nie.
Die volgende drie jaar in Morwell was gelukkig en produktief. Toe het ons nog ’n verrassing gekry. Ons het ’n uitnodiging ontvang van die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies om as spesiale pioniers te dien. Ons toewysing? Oos-Timor, ’n klein land aan die oostelike punt van die Indonesiese eilandgroep.b Trane het in my oë opgewel. Ek het Jehovah gedank omdat hy al my gebede verhoor het. Hy het my nie net as sy kneg verwelkom nie, maar nou kon ek en my man in ’n ander land dien.
Diens in die buiteland
Ons het in Julie 2003 in Dili, die hoofstad, aangekom. Die Dili-gemeente—die enigste een in die land—het bestaan uit 13 spesiale pioniers uit Australië en ’n handjievol plaaslike Getuies. Die Timorese broers en susters was brandarm; die meeste van hulle het besittings en familielede verloor in die 24 jaar lange burgeroorlog wat in 1999 geëindig het. Baie het ook hewige familieteenstand teen hulle nuutgevonde geloof verduur. Maar ondanks hulle beproewinge en armoede was hulle geestelik ryk en gelukkig.—Openbaring 2:8, 9.
Ons het gevind dat die meeste Timorese godvresend is en die Bybel respekteer. Trouens, ons het kort voor lank meer Bybelstudies gehad as wat ons kon behartig! Mettertyd het party van ons eerste studente saam met ons as ons gedoopte broers en susters gedien. Dit het ons baie bly gemaak om hulle geestelike vooruitgang te sien.
Toe, in 2006, is Dili weer eens in chaos gedompel. Spanning tussen verskillende etniese groepe het opgelaai totdat ’n volskaalse konflik losgebars het. Baie huise is geplunder of tot op die grond afgebrand, en die plaaslike Getuies het skuiling gesoek in die huise van die spesiale pioniers. Ons huis en werf is omskep in ’n tydelike vlugtelingkamp, en op een stadium het byna honderd mense saam met ons gebly! Ons groot motorafdak het ’n kombuis, eetsaal en tydelike Koninkryksaal geword.
Hoewel ons geweervuur en ontploffende granate daar naby gehoor het, was ons pionierhuis ’n oase van vrede. Ons het almal Jehovah se beskermende hand oor ons gevoel. Elke dag het met ’n groepbespreking van ’n Bybelteks begin. Vergaderinge is soos gewoonlik gehou. Ons het ook Bybelstudies met belangstellendes gehou.
Ná verloop van ’n paar weke het dit duidelik geword dat dit gevaarlik sou wees vir broers wat in die ooste van die land gebore is, om in Dili te bly. Getuies in verantwoordelike posisies het dus besluit om ’n nuwe groep op die been te bring in Baucau, die tweede grootste stad, omtrent drie uur oos van Dili. En dit is waarom ek en Will ’n nuwe toewysing gekry het.
Ons het in Julie 2006 in Baucau aangekom, amper presies drie jaar ná ons aankoms in Oos-Timor. Ons nuwe groep het uit vier spesiale pioniers en ses Timorese Getuies bestaan. Die plaaslike broers en susters het al hulle besittings in Dili agtergelaat, maar hulle het nie hulle groot glimlagte verloor nie. Ons het hulle lojale, selfopofferende gees werklik bewonder!
Ek en Will dien nog steeds in Baucau. Ons is lief vir ons toewysing en beskou dit as nog ’n seën van Jehovah. Wanneer ek terugkyk, kan ek sien dat my ouma reg was. Jehovah het deur die jare heen getrou na my omgesien. Ek dank hom altyd dat hy my die voorreg gegee het om hom saam met sy volk te dien. Ek sien ook gretig daarna uit om my ouma weer te sien in die opstanding. Dan kan ek haar bedank omdat sy my die sleutel gegee het wat die deur ontsluit het tot ’n waarlik gelukkige en lonende lewe.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b In Afrikaans word dit Oos-Timor genoem, maar dit staan ook bekend as Timor-Leste.
[Prent op bladsy 26]
Saam met my ouma
[Prent op bladsy 28, 29]
Saam met my man, Will