LEWENSVERHAAL
My gelukkige lewe in Jehovah se diens
MY EERSTE toewysing by die Bethel in Kanada was om die vloer te vee van die gebou waar die drukwerk gedoen is. Dit was 1958 en ek was 18 jaar oud. Ek het my lewe geniet, en later het ek gewerk met ’n masjien wat die tydskrifte gesny het nadat dit gedruk is. Ek was so bly om by Bethel te wees!
Die volgende jaar is daar by Bethel aangekondig dat hulle na vrywilligers soek om by die takkantoor in Suid-Afrika te werk, waar ’n nuwe rotasiepers geïnstalleer sou word. Ek het aangebied om te gaan, en ek was baie opgewonde toe ek gekies is. Drie ander Kanadese Betheliete is ook gekies – Dennis Leech, Bill McLellan en Ken Nordin. Hulle het vir ons gesê dat ons eenrigtingkaartjies sal kry!
Ek het my ma gebel en gesê: “Ma, ek het nuus. Ek gaan Suid-Afrika toe!” My ma was ’n stil vrou, maar sy het sterk geloof en ’n sterk verhouding met Jehovah gehad. Sy het nie veel gesê nie, maar ek het geweet dat sy my ondersteun. Sy en my pa het nie my besluit teëgestaan nie, maar hulle was baie hartseer dat ek so ver weg gaan.
SUID-AFRIKA TOE!
Op ’n trein van Kaapstad na Johannesburg saam met Dennis Leech, Ken Nordin en Bill McLellan in 1959
Die vier van ons by ’n 60 jaar-reünie by die takkantoor in Suid-Afrika in 2019
By die Bethel in Brooklyn het die vier van ons drie maande lank opleiding gekry oor hoe om setwerk met warm lood te doen vir die drukkery. Toe het ons op ’n skip geklim en na Kaapstad, Suid-Afrika, gereis. Ek was toe 20 jaar oud. Dit was aand toe ons die lang treinrit van Kaapstad na Johannesburg aangepak het. Nadat die son opgekom het, was ons eerste stop ’n klein dorpie in ’n baie droë gebied, wat die Karoo genoem word. Dit was stowwerig en baie warm. Die vier van ons het by die venster uitgekyk en gewonder watter soort plek dit was. Waarvoor het ons ons ingelaat? In latere jare het ons daardie gebied weer besoek en daardie oulike, rustige klein dorpies begin waardeer.
Ek het ’n paar jaar lank met die ongelooflike en ingewikkelde Linotype-masjien gewerk. Ek het setreëls gemaak vir die druk van Die Wagtoring en Ontwaak!. Die takkantoor het die tydskrifte in baie Afrikatale gedruk, nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir baie ander lande in Afrika. Daardie nuwe rotasiepers wat ons al die pad van Kanada af laat kom het, was druk besig.
Later het ek by die Fabriekkantoor gewerk, wat toesig gehou het oor die drukkery, die Versendingsafdeling en die Vertaalafdeling. My lewe was besig, maar ek het dit geniet.
DIE GETROUDE LEWE EN ’N NUWE TOEWYSING
Ek en Laura as spesiale pioniers in 1968
In 1968 het ek met Laura Bowen getrou, ’n pioniersuster wat naby Bethel gebly het. En sy het ook tikwerk vir die Vertaalafdeling gedoen. Op daardie stadium kon pasgetroude paartjies nie by Bethel aanbly nie, en daarom is ons as spesiale pioniers aangestel. Ek was ’n bietjie bekommerd. Ek het tien jaar lank kos en blyplek by Bethel gekry. Hoe sou ons nou oorleef met die klein toelaag wat spesiale pioniers gekry het? Elke maand sou ons elkeen R25 kry – maar net as ons die spesifieke aantal ure en herbesoeke gedoen het en die spesifieke aantal lektuur geplaas het wat van spesiale pioniers verwag was. Met daardie geld moes ons ons huur betaal, kos koop, vir vervoer betaal en ons mediese en persoonlike uitgawes dek.
Ons is na ’n klein groepie gestuur naby Durban, ’n stad aan die kus van die Indiese Oseaan. Daar was ’n baie groot Indiër-gemeenskap daar. Baie van hulle was afstammelinge van werkers wat in die laat 1800’s Suid-Afrika toe getrek het om in die suikerbedryf te gaan werk. Nou het hulle verskillende soorte werk gedoen, maar hulle het nog steeds hulle kultuur behou en hulle tradisionele kossoorte, soos heerlike kerries, gekook. En hulle het Engels gepraat, wat dit vir ons makliker gemaak het.
Op daardie stadium moes spesiale pioniers 150 ure velddiens elke maand doen, en daarom het ek en Laura beplan om op die eerste dag ses ure te doen. Dit was warm en bedompig. Ons het geen herbesoeke of Bybelstudies gehad nie – ons moes net ses ure lank van deur tot deur preek. ’n Ruk nadat ons begin het, het ek na my horlosie gekyk – net 40 minute het verbygegaan! Ek het gewonder hoe ons dit ooit gaan maak.
Kort voor lank het ons in ’n goeie roetine gekom. Elke dag het ons toebroodjies en koffie of sop in ’n fles saamgeneem. Wanneer ons ’n blaaskans nodig gehad het, het ons ons klein Volkswagen onder ’n boom geparkeer. Soms was ons omring deur pragtige klein Indiër-kindertjies wat ons fyn dopgehou het. Ons het besef dat die res van die dag, ná die eerste twee of drie ure, vinnig verby gegaan het.
Dit was so lekker om vir die gasvrye mense in daardie gebied van Bybelwaarhede te vertel! Ons het gevind dat die mense in die Indiër-gemeenskap baie respekvol en vriendelik is en dat hulle lief vir God is. Baie Hindoes het ons boodskap aanvaar. Hulle het baie daarvan gehou om te leer oor Jehovah, Jesus, die Bybel, die nuwe wêreld en die hoop vir die dooies. Ná ’n jaar het ons 20 Bybelstudies gehad. Elke dag het ons ons hoofmaaltyd geniet by een van die families met wie ons studeer het. Ons was so gelukkig.
Kort daarna het ons nog ’n toewysing ontvang – ons is aangestel om op die kring te dien langs die kus van die pragtige Indiese Oseaan. Elke week het ons by ’n ander familie oorgebly terwyl ons saam met die verkondigers in die gemeente gewerk het om hulle aan te moedig. Ons het deel van hulle familie geword, en ons het dit geniet om tyd saam met hulle, hulle kinders en hulle troeteldiere te spandeer. Twee wonderlike jare het verbygegaan. Toe het die takkantoor ons skielik gebel. Die boodskap was: “Ons dink daaraan om julle terug Bethel toe te bring.” Ek het gesê: “Weet jy, ons is nogal baie gelukkig hierso.” Maar ons was natuurlik bereid om te dien waar ook al ons toegewys word.
TERUG BETHEL TOE
My toewysing by Bethel was in die Diensafdeling, waar ek die voorreg gehad het om saam met baie wyse broers te werk wat baie ondervinding gehad het. In daardie dae het die kringopsiener ’n verslag aan die takkantoor gestuur nadat hy ’n gemeente besoek het. Dan het die Diensafdeling ’n brief aan die gemeente gestuur, wat gebaseer was op die kringopsiener se verslag. Die doel van die briewe was om die gemeentes aan te moedig en om hulle enige nodige riglyne te gee. Dit was baie werk vir ons sekretarisse, want hulle moes briewe van Xhosa, Zulu en ander tale na Engels vertaal en dan weer van Engels na die Afrikatale. Ek het daardie hardwerkende vertalers waardeer. Hulle het my ook gehelp om die probleme te verstaan wat ons swart broers en susters ondervind.
Op daardie stadium was daar nog apartheid in Suid-Afrika. Mense van verskillende rasse het in verskillende areas gebly, so hulle het nie baie met mekaar geassosieer nie. Ons swart broers het hulle eie tale gepraat, in hulle eie tale gepreek en vergaderinge in hulle eie tale gehou.
Ek het nie baie swart mense geken nie omdat ek nog altyd in ’n Engelse gemeente was. Maar nou het ek die kans gekry om oor swart mense en hulle kultuur en tradisies te leer. Ek het geleer van die uitdagings wat ons broers gehad het as gevolg van plaaslike tradisies en godsdiensleringe. Hulle was baie moedig. Hulle het nie onskriftuurlike tradisies gevolg nie, en hulle het geweier om aan spiritistiese gebruike deel te neem, selfs al het hulle familie en die mense in hulle dorp hulle erg teëgestaan! In die platteland was baie mense arm. En baie van hulle het min of geen skoolopleiding gehad nie, maar hulle het die Bybel gerespekteer.
Ek het die voorreg gehad om te help met ’n paar hofsake wat verband gehou het met godsdiensvryheid en neutraliteit. Dit was so geloofversterkend om te sien hoe lojaal en moedig die jong Getuiekinders was wat uit die skool geskors is omdat hulle geweier het om saam met die ander kinders te bid en godsdiensliedjies te sing.
Die broers het nog ’n uitdaging gehad in die klein Afrikaland wat op daardie stadium Swaziland genoem is. Toe koning Sobhuza II gesterf het, is daar van al die burgers verwag om aan sekere onskriftuurlike gebruike deel te neem wat met die dood verband hou. Mans moes hulle koppe kaal skeer en vrouens moes hulle hare kort sny. Baie broers en susters was vervolg omdat hulle geweier het om deel te neem aan hierdie gebruik, wat met vooroueraanbidding verband hou. Hulle lojaliteit aan Jehovah het ons harte diep geraak! Ons het baie oor getrouheid, lojaliteit en geduld by ons swart broers geleer en dit het ons geloof versterk.
TERUG NA DIE DRUKKERY
In 1981 is ek aangestel om te help met die ontwikkeling van gerekenariseerde drukmetodes. En toe was ek weer terug in die drukkery. Dit was so ’n opwindende tyd! Drukmetodes was besig om te verander. ’n Plaaslike verkoopsman het die takkantoor ’n fotosetter gegee om verniet uit te toets. Die takkantoor het toe die nege Linotype-masjiene met vyf nuwe fotosetters vervang. ’n Nuwe rotasiepers is ook geïnstalleer. Die drukkery was besiger as ooit tevore!
Rekenaars het ons gehelp om nuwe maniere te vind om die setwerk te doen deur MEPS te gebruik, dit wil sê die Veeltalige Elektroniese Uitgewerstelsel. Die tegnologie het soveel verbeter vandat die vier van ons van Kanada Suid-Afrika toe gekom het! (Jes. 60:17). Teen daardie tyd was ons almal getroud. Ons al vier het met goeie, geestelike pioniersusters getrou. Ek en Bill het nog by Bethel gedien. Ken en Dennis het al kinders gehad en het naby Bethel gebly.
Die takkantoor het al hoe meer werk gekry. Bybellektuur is in al hoe meer tale vertaal en gedruk, en dit is ook na ander takkantore toe gestuur. Daarom moes ’n nuwe Bethelkompleks gebou word. Die broers het dit in ’n pragtige area wes van Johannesburg gebou, en dit is in 1987 toegewy. Dit was wonderlik om deel te wees van daardie uitbreiding en om baie jare lank as ’n lid van die Takkomitee in Suid-Afrika te dien.
NOG ’N TOEWYSING!
Dit was vir ons ’n groot verrassing toe ek in 2001 genooi is om te dien op die Takkomitee in die Verenigde State, wat kort tevore gevorm is. Alhoewel ons hartseer was om ons werk en vriende in Suid-Afrika agter te laat, was ons baie opgewonde om ’n nuwe lewe te begin as deel van die Bethelgesin in die Verenigde State.
Ons wou natuurlik nie Laura se bejaarde ma agterlaat nie. Ons sou nie veel vir haar van New York af kon doen nie, maar Laura se drie susters het aangebied om fisies, emosioneel en finansieel vir haar te sorg. Hulle het gesê: “Ons kan nie self in die voltydse diens wees nie, maar as ons vir Ma sorg, kan dit julle help om aan te hou met julle toewysing.” Ons is so dankbaar teenoor hulle.
My broer en sy vrou wat in Toronto, Kanada, gebly het, het vir my ma gesorg. Teen daardie tyd was sy al meer as 20 jaar lank deel van hulle familie en was sy ’n weduwee. Ons is so dankbaar dat hulle so liefdevol vir haar gesorg het totdat sy gesterf het. Sy het gesterf kort nadat ons in New York aangekom het. Dit is so ’n groot seëning om familielede te hê wat jou ondersteun en wat bereid is om groot veranderinge te maak sodat hulle vir hulle bejaarde ouers kan sorg, al is dit ’n groot uitdaging!
Vir ’n paar jaar het my toewysing in die Verenigde State verband gehou met die vervaardiging van lektuur, wat al hoe meer modern en al hoe eenvoudiger geword het. Daarna het ek in die Aankope-afdeling gewerk. Dit was so ’n groot voorreg om die afgelope 20 jaar deel te kon wees van hierdie massiewe takkantoor, wat omtrent 5 000 Betheliete en omtrent 2 000 pendelaars het.
Sestig jaar gelede sou ek nooit geraai het dat ek hier sou wees nie. Laura het my al die jare heelhartig bygestaan. Wat ’n wonderlike lewe het ons tog nie gehad nie! Ons is so dankbaar dat ons soveel verskillende toewysings kon geniet en saam met soveel wonderlike mense kon werk, insluitende almal by die verskillende takkantore wat ons regoor die wêreld besoek het. Noudat ek oor die 80 jaar oud is, het ek minder werk om te doen omdat daar jonger broers is wat opgelei is om die werk te doen.
Die psalmis het geskryf: “Gelukkig is die nasie wie se God Jehovah is” (Ps. 33:12). Hoe waar is dit tog! Ek is so dankbaar vir al die jare wat ek Jehovah saam met sy gelukkige volk kon dien.