Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w24 Julie bl. 8-13
  • Herken jy die waarheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Herken jy die waarheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EIENSKAPPE WAT NODIG IS OM DIE WAARHEID TE HERKEN
  • HOE ONS AAN DIE WAARHEID KAN VASHOU
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Leer uit die laaste woorde van getroue mans
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Versterk jou waardering vir Jehovah se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
w24 Julie bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 28

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

Herken jy die waarheid?

“Staan . . . vas met die lyfband van waarheid om julle middel vasgemaak.” – EF. 6:14.

DOEL

Om onsself op te lei om die verskil te sien tussen die waarheid wat ons van Jehovah geleer het en die leuens wat deur Satan en ons teenstanders bevorder word.

1. Hoe voel jy oor die waarheid?

JEHOVAH se volk is lief vir die waarheid wat in God se Woord gevind word. Ons het ons geloof daarop gebou (Rom. 10:17). Ons het oortuig geword dat Jehovah die Christengemeente ingestel het as “’n pilaar en fondament van die waarheid” (1 Tim. 3:15). En ons is gewillig om onderdanig te wees aan “dié wat die leiding onder [ons] neem” terwyl hulle die waarheid uit die Bybel verduidelik en riglyne gee wat in ooreenstemming is met God se wil. – Heb. 13:17.

2. Wat kan volgens Jakobus 5:19 met ons gebeur nadat ons die waarheid geleer het?

2 Maar nadat ons die waarheid aanvaar het, asook die rol wat God se organisasie daarin speel om betroubare leiding te voorsien, kan ons nog steeds mislei word. (Lees Jakobus 5:19.) Daar is niks wat Satan gelukkiger sal maak as om te veroorsaak dat ons ons vertroue verloor in die Bybel of in die riglyne wat ons van God se organisasie ontvang nie. – Ef. 4:14.

3. Hoekom moet ons aan die waarheid vashou? (Efesiërs 6:​13, 14)

3 Lees Efesiërs 6:​13, 14. Die Duiwel sal binnekort kragtige propaganda gebruik om hele nasies te mislei om kant te kies teen Jehovah (Op. 16:​13, 14). Ons kan ook verwag dat Satan selfs harder sal werk om Jehovah se volk te mislei (Op. 12:9). Daarom is dit belangrik dat ons onsself oplei om die verskil te sien tussen waarheid en leuens en om gehoorsaam te wees aan die waarheid (Rom. 6:17; 1 Pet. 1:22). Ons oorlewing gedurende die groot verdrukking sal daarvan afhang!

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel sal ons twee eienskappe identifiseer wat ons moet hê om die waarheid wat uit die Bybel kom, te herken en om riglyne van God se organisasie te aanvaar. Dan sal ons drie dinge bespreek wat ons moet doen om aan te hou om vas te hou aan die waarheid.

EIENSKAPPE WAT NODIG IS OM DIE WAARHEID TE HERKEN

5. Hoe help vrees vir Jehovah ons om die waarheid te herken?

5 Vrees vir Jehovah. Wanneer ons ’n gesonde vrees vir Jehovah ontwikkel het, het ons hom so lief dat ons nooit enige iets sal doen wat hom ongelukkig maak nie. Ons is gretig om die verskil te leer tussen reg en verkeerd, tussen waarheid en leuens, sodat ons Jehovah se goedkeuring kan kry (Spr. 2:​3-6; Heb. 5:14). Ons moet nooit toelaat dat ons mensevrees sterker word as ons liefde vir Jehovah nie omdat dit wat mense gelukkig maak, Jehovah dikwels ongelukkig maak.

6. Hoe het mensevrees veroorsaak dat tien Israelitiese hoofmanne die waarheid verdraai?

6 As ons mensevrees sterker is as ons vrees vir God kan ons van die waarheid af weggelei word. Kyk na die voorbeeld van die 12 hoofmanne wat die land gaan verken het wat Jehovah aan die Israeliete belowe het. Tien van die spioene se vrees vir die Kanaäniete was sterker as hulle liefde vir Jehovah. Hulle het vir die ander Israeliete gesê: “Ons kan nie teen die mense gaan veg nie, want hulle is sterker as ons” (Num. 13:​27-31). Vanuit ’n menslike oogpunt was die Kanaäniete sterker as die Israeliete – daardie deel was waar. Maar om te sê dat die Israeliete nie hulle vyande sou kon oorwin nie het Jehovah uit die prentjie gelaat. Daardie tien spioene moes gefokus het op wat Jehovah wou hê die Israeliete moes doen. Hulle moes ook nagedink het oor wat hy kort tevore vir hulle gedoen het. Dan sou hulle besef het dat die Kanaäniete se krag niks is in vergelyking met Jehovah se almagtige krag nie. Anders as daardie spioene met min geloof wou Josua en Kaleb Jehovah se goedkeuring hê. Hulle het vir die volk gesê: “As ons Jehovah se goedkeuring het, sal hy ons beslis in hierdie land inbring en dit aan ons gee.” – Num. 14:​6-9.

7. Hoe kan ons ons vrees vir Jehovah versterk? (Sien ook prent.)

7 Om ons vrees vir Jehovah te versterk, moet ons daarop fokus om hom gelukkig te maak in elke besluit wat ons neem (Ps. 16:8). Terwyl jy Bybelverslae lees, vra jouself: ‘As ek in daardie situasie was, wat sou ek gedoen het?’ Byvoorbeeld, stel jou voor dat jy na die tien Israelitiese hoofmanne luister terwyl hulle hulle negatiewe verslag gee. Sou jy die verslag geglo het en voor mensevrees ingegee het of sou jou liefde vir Jehovah en jou begeerte om hom gelukkig te maak, sterker gewees het? ’n Hele geslag Israeliete het nie geglo dat Josua en Kaleb die waarheid praat nie. As gevolg daarvan het hulle die geleentheid verloor om die Beloofde Land binne te gaan. – Num. 14:​10, 22, 23.

Josua en Kaleb smeek die woedende Israeliete wat op die punt staan om hulle te stenig. Die wolkkolom is in die agtergrond.

Wie sou jy geglo het? (Sien paragraaf 7)


8. Watter eienskap moet ons hard probeer ontwikkel, en hoekom?

8 Nederigheid. Jehovah openbaar die waarheid aan dié wat nederig is (Matt. 11:25). Ons het nederig hulp aanvaar om die waarheid te leer (Hand. 8:​30, 31). Maar ons moet oppas dat ons nie trots word nie. As ons trots is, kan dit veroorsaak dat ons begin dink dat ons persoonlike opinies net so geldig is soos Bybelbeginsels en riglyne van Jehovah se organisasie.

9. Hoe kan ons nederig bly?

9 Om nederig te bly, moet ons onthou hoe klein ons is in vergelyking met hoe groot Jehovah is (Ps. 8:​3, 4). Ons kan ook Jehovah vra om ons te help om nederiger te word en gewilliger te wees om deur hom geleer te word. Jehovah sal ons help om sy gedagtes, wat hy deur middel van sy Woord en sy organisasie voorsien, bo ons eie te stel. Wanneer jy die Bybel lees, soek na punte wat wys dat Jehovah lief is vir mense wat nederig is en dit haat wanneer mense trots, arrogant en hoogmoedig is. En probeer veral hard om nederig te bly wanneer jy ’n toewysing ontvang wat jou ’n mate van gesag en aansien gee.

HOE ONS AAN DIE WAARHEID KAN VASHOU

10. Wie het Jehovah gebruik om instruksies en riglyne aan sy volk te voorsien?

10 Hou aan om die riglyne van Jehovah se organisasie te vertrou. In eertydse Israel het Jehovah Moses en toe Josua gebruik om instruksies aan Sy volk oor te dra (Jos. 1:​16, 17). Jehovah God het die Israeliete geseën wanneer hulle hierdie mans as sy verteenwoordigers beskou het. Eeue later toe die eerste Christengemeente gevorm is, het die 12 apostels riglyne gegee (Hand. 8:​14, 15). Later het daardie groep ook ander ouermanne in Jerusalem ingesluit. Omdat hulle die riglyne van daardie getroue mans gevolg het, “het die gemeentes heeltyd sterker geword in die geloof en het hulle dag ná dag bly vermeerder” (Hand. 16:​4, 5). In ons dag word ons ook geseën wanneer ons teokratiese riglyne van Jehovah se organisasie volg. Maar hoe sou Jehovah voel as ons weier om dié te herken wat hy aangestel het? Ons kan daardie vraag beantwoord deur te kyk na wat gebeur het terwyl die Israeliete na die Beloofde Land gelei is.

11. Wat het met dié in eertydse Israel gebeur wat God se keuse van Moses as die leier bevraagteken het? (Sien ook prent.)

11 Gedurende die Israeliete se reis na die Beloofde Land het belangrike manne Moses en die rol wat Jehovah hom gegee het, bevraagteken. Hulle het gesê: “Die hele gemeenskap van Israel, hulle almal [nie net Moses nie], is heilig, en Jehovah is met hulle” (Num. 16:​1-3). Al is dit waar dat “die hele gemeenskap van Israel” heilig was, het Jehovah Moses gekies om die leiding onder Sy volk te neem (Num. 16:28). Deur Moses te kritiseer, het die rebelle eintlik Jehovah gekritiseer. Hulle het nie gefokus op wat Jehovah wou hê nie; hulle het gefokus op wat hulle wil hê – meer mag en erkenning. God het die leiers van die opstand vernietig, sowel as nog duisende wat hulle ondersteun het (Num. 16:​30-35, 41, 49). Ons kan vandag daarvan seker wees dat Jehovah nie dié goedkeur wat nie respek het vir die riglyne van sy organisasie nie.

Moses en Aäron staan op ’n rots terwyl woedende Israeliete op hulle skree en hulle vuiste vir hulle skud.

Wie sou jy ondersteun het? (Sien paragraaf 11)


12. Hoekom kan ons ons vertroue in Jehovah se organisasie behou?

12 Ons kan ons vertroue in Jehovah se organisasie behou. Wanneer dit duidelik word dat ’n aanpassing nodig is in ons begrip van ’n sekere Bybelwaarheid of in die manier hoe die Koninkrykswerk georganiseer is, is dié wat die leiding neem vinnig om die nodige veranderinge te maak (Spr. 4:18). Hulle doen dit omdat hulle Jehovah meer as enige iets anders gelukkig wil maak. Hulle doen ook hulle bes om hulle besluite te baseer op God se Woord, die patroon waarvolgens Jehovah se hele volk moet lewe.

13. Wat is “die patroon van gesonde woorde”, en wat moet ons daarmee doen?

13 “Bly by die patroon van gesonde woorde” (2 Tim. 1:13). “Die patroon van gesonde woorde” verwys na Christelike leringe wat in die Bybel gevind word (Joh. 17:17). Sulke leringe vorm die grondslag vir alles wat ons glo. Jehovah se organisasie het ons geleer om by daardie patroon te bly. So lank as wat ons dit doen, sal ons geseën word.

14. Hoe het party Christene nie gebly by “die patroon van gesonde woorde” nie?

14 Wat kan gebeur as ons nie bly by “die patroon van gesonde woorde” nie? Kyk na ’n voorbeeld. In die eerste eeu het party Christene ’n valse storie versprei dat die dag van Jehovah gekom het. Daar was moontlik ’n brief – wat glo deur die apostel Paulus geskryf is – wat dit gesê het. Party Christene in Tessalonika het nie die tyd geneem om die feite na te gaan nie, en daarom het hulle die valse storie geglo en dit selfs versprei. Hulle sou nie mislei gewees het as hulle die dinge onthou het wat Paulus hulle geleer het toe hy nog by hulle was nie (2 Tess. 2:​1-5). Paulus het sy broers raad gegee en gesê dat hulle nie alles moet glo wat hulle hoor nie. En om hulle in die toekoms te help, het Paulus sy tweede brief aan die Tessalonisense afgesluit met die woorde: “Hier is my groete, Paulus s’n, wat ek met my eie hand skryf. Dit is ’n teken in elke brief, en dit is hoe ek skryf.” – 2 Tess. 3:17.

15. Hoe kan ons onsself beskerm teen leuens wat lyk asof dit waar is? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prente.)

15 Wat kan ons leer uit Paulus se woorde aan die Tessalonisense? Ons moet goeie oordeel gebruik wanneer ons iets hoor wat nie met die Bybel ooreenstem nie of wanneer ons ’n skokkende storie hoor. In die voormalige Sowjetunie het ons vyande eenkeer ’n brief rondgestuur wat glo van die wêreldhoofkwartier gekom het. Die brief het party van die broers aangemoedig om ’n aparte, onafhanklike organisasie te vorm. Dit het gelyk asof die brief regtig van die wêreldhoofkwartier af kom. Maar getroue broers is nie om die bos gelei nie. Hulle het besef dat die boodskap in die brief nie ooreengestem het met wat hulle geleer is nie. Vyande van die waarheid gebruik vandag soms moderne tegnologie in ’n poging om ons te laat twyfel en te verdeel. Ons “moenie gou deurmekaar” gemaak word nie; ons kan onsself eerder beskerm deur mooi te dink of dit wat ons hoor of lees in ooreenstemming is met die waarhede wat ons alreeds geleer het. – 2 Tess. 2:2; 1 Joh. 4:1.

Collage: 1. Baie jare gelede wys ’n broer ’n brief met ’n “Watch Tower”-briefhoof vir ander broers wat by ’n huis bymekaargekom het. 2. In hedendaagse tye wys ’n broer ’n aanlyn video oor Jehovah se Getuies vir ander broers en susters by ’n geselligheid.

Moenie mislei word deur leuens wat lyk asof dit waar is nie (Sien paragraaf 15)a


16. Wat moet ons doen as party van die waarheid afdwaal volgens Romeine 16:​17, 18?

16 Bly verenig met dié wat lojaal is aan Jehovah. God wil hê dat ons verenig moet wees in ons aanbidding. Ons sal verenig bly solank ons aan die waarheid vashou. Enige iemand wat van die waarheid afdwaal, veroorsaak verdeeldheid in die gemeente, en daarom waarsku God ons om ‘hulle te vermy’. Anders kan ons self van die waarheid afdwaal. – Lees Romeine 16:​17, 18.

17. Watter voordele kry ons wanneer ons die waarheid herken en styf daaraan vashou?

17 Wanneer ons die waarheid herken en styf daaraan vashou, sal ons geestelik veilig en gesond bly (Ef. 4:​15, 16). Ons sal nie mislei word deur Satan se valse leringe en propaganda nie, en ons sal veilig in Jehovah se sorg bly gedurende die groot verdrukking. Hou aan om styf vas te hou aan wat waar is, “en die God van vrede sal met [ons] wees”. – Fil. 4:​8, 9.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom is dit belangrik om die waarheid te herken?

  • Hoe help vrees vir Jehovah en nederigheid ons om die waarheid te herken en te volg?

  • Wat sal ons help om vas te hou aan die waarheid?

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

a BESKRYWING VAN PRENT: ’n Dramatisering van dekades gelede toe broers in die voormalige Sowjetunie ’n brief ontvang het wat gelyk het asof dit van die wêreldhoofkwartier gekom het maar wat eintlik van ons vyande gekom het. In ons dag gebruik ons vyande dalk die internet om iets misleidends omtrent Jehovah se organisasie te versprei.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel