Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Maart bl. 2-7
  • Moenie wag om jou te laat doop nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moenie wag om jou te laat doop nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE SAMARITANE HET HULLE LAAT DOOP
  • SAULUS VAN TARSUS HET HOM LAAT DOOP
  • KORNELIUS HET HOM LAAT DOOP
  • DIE KORINTIËRS HET HULLE LAAT DOOP
  • JOU GELOOF KAN BERGE VERSKUIF
  • Hou aan om Jesus te volg ná jou doop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Is jy gereed om jouself aan Jehovah toe te wy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Maart bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 9

LIED 51 Ons is aan God toegewy!

Moenie wag om jou te laat doop nie

“Waarvoor wag jy nou? Staan op, laat jou doop.” – HAND. 22:16.

FOKUS

Vind die krag wat jy nodig het om tot doop te vorder deur te kyk na die voorbeelde van die Samaritane, Saulus van Tarsus, Kornelius en die Korintiërs.

1. Wat is ’n paar goeie redes om jou te laat doop?

IS JY lief vir Jehovah God, die een wat vir jou elke goeie geskenk, selfs die lewe, gegee het? Wil jy vir hom wys dat jy vir hom lief is? Die beste manier om dit te doen, is om jou aan hom toe te wy en om dan jou toewyding deur waterdoop te simboliseer. Hierdie stappe maak jou deel van Jehovah se familie. Gevolglik sal jou Vader en Vriend jou lei en vir jou sorg omdat jy aan hom sal behoort (Ps. 73:24; Jes. 43:​1, 2). Toewyding en doop gee jou ook die hoop om die lewe vir ewig te geniet. – 1 Pet. 3:21.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Is daar iets wat keer dat jy jou laat doop? Indien wel, is jy nie alleen nie. Miljoene voor jou moes hulle gedrag en hulle denke verander om vir doop te kwalifiseer. Hulle dien Jehovah nou met vreugde en ywer. Wat kan jy leer by party wat hulle in die eerste eeu laat doop het? Kom ons bespreek struikelblokke wat hulle gehad het en kyk wat ons uit hulle voorbeeld kan leer.

DIE SAMARITANE HET HULLE LAAT DOOP

3. Watter struikelblokke het dit dalk vir party Samaritane moeilik gemaak om hulle te laat doop?

3 Die Samaritane in Jesus se dag het aan ’n godsdienssekte behoort, en baie van hulle het in die omgewing van eertydse Sigem en Samaria, noord van Judea, gebly. Voordat die Samaritane hulle kon laat doop, moes hulle ’n vollediger kennis van die Woord van God opdoen. Die Samaritane het geglo dat net die eerste vyf boeke van die Bybel – Genesis tot Deuteronomium – en moontlik die boek Josua, geïnspireer is. Die Samaritane het wel verwag dat die Messias sou kom, gebaseer op God se belofte in Deuteronomium 18:​18, 19 (Joh. 4:25). Om gedoop te word, moes hulle Jesus as die beloofde Messias aanvaar. “Baie van die Samaritane” het dit gedoen (Joh. 4:39). Ander moes dalk die diepgewortelde vooroordeel wat daar tussen Samaritane en Jode was, oorkom. – Luk. 9:​52-54.

4. Hoe het party Samaritane op Filippus se boodskap gereageer volgens Handelinge 8:​5, 6, 14?

4 Wat het die Samaritane gehelp om hulle te laat doop? Toe Filippus die evangelieprediker “oor die Christus gepreek” het, het party Samaritane “die woord van God aanvaar”. (Lees Handelinge 8:​5, 6, 14.) Filippus het ’n Joodse agtergrond gehad, maar hulle het nog steeds na hom geluister. Dalk het hulle gedink aan tekste uit die Pentateug wat wys dat God nie partydig is nie (Deut. 10:​17-19). Wat ook al die geval was, hulle “het aandag geskenk aan wat Filippus gesê het” oor die Christus, en hulle het die duidelike bewyse aanvaar dat God Filippus ondersteun het. Hy het ook baie tekens gedoen, wat ingesluit het dat hy die siekes genees het en demone uitgedryf het. – Hand. 8:7.

5. Watter lesse kan jy by die Samaritane leer?

5 Daardie Samaritane kon toegelaat het dat vooroordeel of ’n gebrek aan kennis keer dat hulle vordering maak. Maar hulle het nie toegelaat dat dit gebeur nie. Die Samaritane het nie gewag om hulle te laat doop nadat hulle oortuig was dat Filippus hulle die waarheid geleer het nie. Die Bybelverslag verduidelik: “Toe Filippus die goeie nuus van die Koninkryk van God en die naam van Jesus Christus bekend gemaak het, het die mense hom geglo, en mans en vrouens is gedoop” (Hand. 8:12). Is jy oortuig dat God se Woord die waarheid is en dat Jehovah se Getuies vooroordeel oorkom en probeer om ware liefde aan mekaar te betoon – die identifiserende kenmerk van ware Christene? (Joh. 13:35). Moet dan nie bang wees om jou te laat doop nie. Jy kan seker wees dat Jehovah jou sal seën.

6. Hoe kan Ruben se voorbeeld jou help?

6 Ruben, van Duitsland, het as ’n Getuie grootgeword. Maar toe hy jonk was, het hy getwyfel of Jehovah bestaan. Hoe het hy sy twyfelgedagtes oorkom? Hy het besef dat hy nie genoeg kennis gehad het nie, en daarom het hy besluit om iets daaromtrent te doen. Hy het gesê: “Ek het persoonlike studie gedoen om die feite te kry. Ek moes die onderwerp van evolusie ’n hele paar keer studeer.” Hy het die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? gelees. Daardie publikasie het ’n baie groot uitwerking op Ruben gehad. Hy het gedink: ‘Sjoe! Jehovah bestaan regtig.’ En gedurende ’n besoek aan die wêreldhoofkwartier het Ruben meer waardering gekry vir ons verenigde internasionale broederskap. Toe Ruben teruggegaan het na Duitsland, het hy hom op die ouderdom van 17 laat doop. As jy twyfel oor wat jy geleer het, moet jy navorsing doen in ons publikasies. Twyfelgedagtes kan oorkom word met “akkurate kennis” (Ef. 4:​13, 14). En wanneer jy verslae hoor oor die liefde en eenheid onder Jehovah se volk in ander dele van die wêreld en bewyse daarvan sien in jou eie gemeente, sal jou waardering vir ons wêreldwye broederskap groei.

SAULUS VAN TARSUS HET HOM LAAT DOOP

7. Op watter manier moes Saulus sy denke verander?

7 Dink aan die voorbeeld van Saulus van Tarsus. Hy het goeie vordering gemaak in Judaïsme en het ’n indrukwekkende Joodse agtergrond gehad (Gal. 1:​13, 14; Fil. 3:5). Op ’n tyd toe baie Jode Christene as afvalliges beskou het, het Saulus hulle wreed vervolg. Hy het verkeerdelik gedink dat hy besig is om God se wil te doen (Hand. 8:3; 9:​1, 2; 26:​9-11). Om Jesus te aanvaar en as ’n Christen gedoop te word, moes Saulus bereid wees om self vervolg te word.

8. (a) Wat het Saulus gehelp om hom te laat doop? (b) Hoe het Ananias Saulus gehelp volgens Handelinge 22:​12-16? (Sien ook prent.)

8 Wat het Saulus gehelp om hom te laat doop? Toe die verheerlikte Here Jesus aan hom verskyn het, is Saulus verblind (Hand. 9:​3-9). Hy het drie dae lank gevas en beslis nagedink oor wat hy so pas ondervind het. Ja, Saulus het oortuig geword dat Jesus die Messias is en dat sy volgelinge die ware godsdiens beoefen. Saulus was sekerlik baie spyt oor sy aandeel in Stefanus se dood! (Hand. 22:20). Aan die einde van die drie dae het ’n dissipel met die naam Ananias na Saulus toe gekom, sy blindheid genees en hom aangemoedig om nie te wag om hom te laat doop nie. (Lees Handelinge 22:​12-16.) Saulus het die hulp nederig aanvaar en ’n nuwe lewenswyse begin. – Hand. 9:​17, 18.

Saulus klim in ’n poel water in om gedoop te word. ’n Paar mense staan in die agtergrond en lyk gelukkig.

Sal jy, soos Saulus, aanmoediging aanvaar om jou te laat doop? (Sien paragraaf 8)


9. Watter lesse kan jy by Saulus leer?

9 Daar is lesse wat ons by Saulus kan leer. Hy kon toegelaat het dat trots of mensevrees keer dat hy hom laat doop. Maar hy het nie toegelaat dat dit gebeur nie. Saulus het sy lewenswyse nederig verander toe hy die waarheid oor die Christus aanvaar het (Hand. 26:​14, 19). Saulus was bereid om ’n Christen te word, al het hy geweet dat hy vervolg sou word (Hand. 9:​15, 16; 20:​22, 23). Ná sy doop het hy voortgegaan om op Jehovah te vertrou om hom te help om verskillende moeilike tye te verduur (2 Kor. 4:​7-10). As jy as een van Jehovah se Getuies gedoop word, kan dit veroorsaak dat jy toetse van geloof of moeilike tye ondervind, maar jy sal hulp hê. Jy kan seker wees dat God en Christus jou altyd sal ondersteun. – Fil. 4:13.

10. Hoe kan Anna se voorbeeld jou help?

10 Anna het in Oos-Europa in ’n Koerdiese familie grootgeword. Nadat haar ma gedoop is, het Anna met haar pa se toestemming die Bybel begin studeer toe sy 9 was. Maar dit het probleme veroorsaak met haar uitgebreide familie, wat almal saam in een huis met Anna se gesin gebly het. Die familielede het dit as ’n skande beskou as iemand die godsdiens van die voorvaders verlaat het. Toe Anna 12 jaar oud was, het sy haar pa gevra of sy haar kon laat doop. Hy wou weet of dit haar persoonlike besluit is en of iemand anders druk op haar plaas. Sy het gesê: “Ek is lief vir Jehovah.” Haar pa het toe gesê dat sy gedoop kan word. Nadat Anna gedoop is, het haar familielede aangehou om haar sleg te behandel. Een van haar familielede het vir haar gesê: “Jy sal beter af wees as jy ’n onsedelike lewe lei en rook as om een van Jehovah se Getuies te wees.” Hoe het Anna dit hanteer? Sy het gesê: “Jehovah het my gehelp om sterk te wees, en my ma en pa het my baie ondersteun.” Anna hou ’n rekord van die spesifieke kere dat sy Jehovah se hand in haar lewe gesien het. Sy kyk van tyd tot tyd daarna sodat sy nie vergeet hoe Jehovah haar gehelp het nie. As jy bang is dat jy vervolg sal word, moet jy onthou dat Jehovah jou ook sal help. – Heb. 13:6.

KORNELIUS HET HOM LAAT DOOP

11. Wat was Kornelius se omstandighede?

11 Ons kan ook belangrike lesse uit Kornelius se voorbeeld leer. Hy was “’n centurio”, dit wil sê ’n bevelvoerder oor 100 soldate in die Romeinse leërmag (Hand. 10:​1, vtn.). As gevolg daarvan was hy dalk prominent in die gemeenskap en leërmag. Hy “het baie geskenke aan die armes gegee” (Hand. 10:2). Jehovah het die apostel Petrus gestuur om die goeie nuus aan hom bekend te maak. Het Kornelius se posisie veroorsaak dat hy gewag het om hom te laat doop?

12. Wat het Kornelius gehelp om hom te laat doop?

12 Wat het Kornelius gehelp om hom te laat doop? Ons lees dat “hy en almal in sy huis . . . God aanbid” het. En Kornelius het voortdurend smeekgebede tot God gedoen (Hand. 10:2). Toe Petrus die goeie nuus aan Kornelius bekend gemaak het, het hy en sy gesin Christus aanvaar en hulle onmiddellik laat doop (Hand. 10:​47, 48). Kornelius was beslis bereid om enige nodige veranderinge te maak sodat hy Jehovah saam met sy gesin kon aanbid. – Jos. 24:15; Hand. 10:​24, 33.

13. Watter lesse kan jy by Kornelius leer?

13 Soos Saulus kon Kornelius toegelaat het dat sy posisie keer dat hy ’n Christen word. Maar hy het nie toegelaat dat dit gebeur nie. Sal jy groot veranderinge in jou lewe moet maak om jou te laat doop? Indien wel, sal Jehovah jou Helper wees. Hy sal jou vasbeslotenheid seën om hom in ooreenstemming met Bybelbeginsels te dien.

14. Hoe kan Tsoejosji se voorbeeld jou help?

14 Tsoejosji, van Japan, moes ’n verandering in sy werk maak om vir doop te kwalifiseer. Hy was die assistent vir die hoof van die Ikenobo-blommerangskikkingskool. Wanneer die hoof nie begrafnisse kon bywoon nie, het Tsoejosji hom dikwels in Boeddhistiese rituele verteenwoordig. Maar toe Tsoejosji die waarheid oor die dood geleer het, het hierdie gebruik dit vir hom moeilik gemaak om hom te laat doop. Hy het ’n persoonlike besluit geneem om nie aan Boeddhistiese rituele deel te neem nie (2 Kor. 6:​15, 16). Tsoejosji het met die hoof daaroor gepraat. Wat was die gevolg? Tsoejosji kon sy werk behou sonder om aan die rituele deel te neem. Omtrent ’n jaar nadat hy die Bybel begin studeer het, het hy hom laat doop.a As jy ’n aanpassing in jou werk moet maak om God gelukkig te maak, wees verseker dat hy jou en jou gesin sal gee wat julle nodig het. – Ps. 127:2; Matt. 6:33.

DIE KORINTIËRS HET HULLE LAAT DOOP

15. Watter struikelblokke het dit vir die Korintiërs moeilik gemaak om hulle te laat doop?

15 Eertydse Korinte was bekend vir sy materialisme en onsedelikheid. Baie mense wat daar gebly het, het op ’n manier gelewe wat nie God se goedkeuring het nie. Dit het dit beslis moeilik gemaak vir enige iemand wat die goeie nuus wou aanvaar. Maar toe die apostel Paulus na daardie stad toe gekom het en die goeie nuus oor die Christus bekend gemaak het, het “baie van die Korintiërs wat gehoor het, . . . begin glo en is [hulle] gedoop” (Hand. 18:​7-11). Toe het die Here Jesus Christus in ’n visioen aan Paulus verskyn en gesê: “Ek het baie mense in hierdie stad.” Daarom het Paulus voortgegaan om ’n jaar en ’n half lank daar te preek.

16. Wat het party in Korinte gehelp om hulle te laat doop? (2 Korintiërs 10:​4, 5)

16 Wat het die Korintiërs gehelp om hulle te laat doop? (Lees 2 Korintiërs 10:​4, 5.) God se Woord en sy kragtige heilige gees het hulle gehelp om drastiese veranderinge in hulle lewe te maak (Heb. 4:12). Dié in Korinte wat die goeie nuus oor die Christus aanvaar het, kon gewoontes en gebruike soos dronkenskap, diefstal en homoseksualiteit agterlaat. – 1 Kor. 6:​9-11.b

17. Wat kan jy by die Korintiërs leer?

17 Al het party in Korinte diepgewortelde gewoontes gehad wat hulle moes oorkom, het hulle nie gedink dat dit te moeilik vir hulle sou wees om Christene te word nie. Hulle het baie hard gewerk om op die smal pad te kom wat na die ewige lewe lei (Matt. 7:​13, 14). Sukkel jy om ’n slegte gewoonte of ’n verkeerde gebruik te oorkom sodat jy jou kan laat doop? Hou aan veg! Smeek Jehovah vir sy heilige gees om jou te help om die begeerte te weerstaan om te doen wat sleg is.

18. Hoe kan Monika se voorbeeld jou help?

18 Monika, van die land Georgië, het hard gewerk om op te hou om lelik te praat en om na slegte dinge te kyk en te luister sodat sy tot doop kon vorder. Sy het gesê: “Gedurende my tienerjare het gebed my krag gegee. Jehovah het geweet dat ek die regte ding wou doen, en hy het my altyd gehelp en my gelei.” Monika is op die ouderdom van 16 gedoop. Is daar gebruike wat jy moet agterlaat sodat jy Jehovah op ’n aanvaarbare manier kan dien? Hou aan om hom vir die krag te vra om veranderinge te maak. Jehovah voorsien sy heilige gees in oorvloed. – Joh. 3:34.

JOU GELOOF KAN BERGE VERSKUIF

19. Wat kan jou help om bergagtige struikelblokke te oorkom? (Sien ook prent.)

19 Wees verseker dat Jehovah jou liefhet en wil hê dat jy deel van sy gesin moet wees. Dit is waar ongeag watter struikelblokke dit vir jou moeilik maak om jou te laat doop. Jesus het vir ’n groep van sy eerste-eeuse dissipels gesê: “As julle geloof het wat so groot soos ’n mosterdsaadjie is, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan van hier af soontoe,’ en dit sal gaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:20). Dié wat dit gehoor het, was net ’n paar jaar lank saam met Jesus, so hulle geloof was nog besig om te groei. Maar Jesus het hulle verseker dat Jehovah hulle sou help om bergagtige struikelblokke te verskuif as hulle genoeg geloof ontwikkel het. En Jehovah sal jou help om dieselfde te doen!

’n Gelukkige groep broers en susters klap hulle hande by ’n streekbyeenkoms terwyl pasgedooptes verbyloop.

Wees verseker dat Jehovah jou liefhet en wil hê dat jy deel van sy familie moet wees (Sien paragraaf 19)c


20. Hoe het die voorbeelde van eerste-eeuse en hedendaagse Christene in hierdie artikel jou gemotiveer?

20 As jy besef dat daar struikelblokke is wat keer dat jy jou laat doop, moet jy nie wag om stappe te neem om dit te verwyder nie. Word vertroos en versterk deur die voorbeelde van eerste-eeuse en hedendaagse Christene. Mag hulle voorbeeld jou aanmoedig en jou motiveer om jouself aan Jehovah toe te wy en jou te laat doop. Dit is die beste besluit wat jy ooit kan maak!

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het die Samaritane struikelblokke oorkom wat kon keer dat hulle hulle laat doop?

  • Hoe het Saulus van Tarsus en Kornelius struikelblokke oorkom wat kon keer dat hulle hulle laat doop?

  • Hoe het die Korintiërs struikelblokke oorkom wat kon keer dat hulle hulle laat doop?

LIED 38 Hy maak jou sterk

a Die lewensverhaal van broer Tsoejosji Foedjii verskyn in die Ontwaak! van 8 Augustus 2005, bl. 20-23.

b Sien op jw.org die video ‘Hoekom wag jy om gedoop te word?’

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Groep broers en susters verwelkom dié wat so pas gedoop is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel