Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Mei bl. 8-13
  • Vertrou op Jehovah vir vertroosting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah vir vertroosting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JEHOVAH IS GENADIG EN VERGEWE ONS
  • JEHOVAH GEE ONS HOOP
  • JEHOVAH KALMEER ONS VRESE
  • Jehovah “genees dié wie se hart gebreek is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Ons is nooit alleen nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Mei bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 20

LIED 7 Jehovah, ons sterkte

Vertrou op Jehovah vir vertroosting

“Mag . . . die Vader van groot genade en die God van alle vertroosting, geloof word.” – 2 KOR. 1:3.

FOKUS

Lesse wat ons leer uit hoe Jehovah die Joodse gevangenes vertroos het.

1. Beskryf die situasie van die Joodse gevangenes.

STEL jou voor hoe die Joodse gevangenes in Babilon moes gevoel het. Hulle het gesien hoe hulle vaderland vernietig word. As gevolg van hulle sondes en dié van hulle voorvaders is hulle uit hulle huise geneem en na ’n vreemde land gestuur (2 Kron. 36:​15, 16, 20, 21). Dit is so dat die gevangenes in Babilon ’n mate van vryheid gehad het om hulle daaglikse bedrywighede uit te voer (Jer. 29:​4-7). Maar die lewe was nie maklik nie, en dit was beslis nie die lewe wat hulle sou gekies het nie. Hoe het hulle oor hulle situasie gevoel? Kyk na die woorde van een getroue gevangene: “By die riviere van Babilon het ons gesit. Ons het gehuil toe ons aan Sion gedink het” (Ps. 137:1). Die mismoedige gevangenes het vertroosting nodig gehad, maar waar kon hulle dit vind?

2-3. (a) Wat het Jehovah vir die Joodse gevangenes gedoen? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Jehovah is “die God van alle vertroosting” (2 Kor. 1:3). As ’n liefdevolle God wil hy graag almal wat nader aan hom kom, vertroos. Jehovah het geweet dat party van die gevangenes sy dissipline sou aanvaar en na hom toe sou terugkeer (Jes. 59:20). So meer as 100 jaar voordat hulle na Babilon geneem is, het hy die profeet Jesaja geïnspireer om die boek te skryf wat sy naam dra. Met watter doel? Jesaja sê: “‘Vertroos my volk,’ sê julle God, ‘vertroos hulle’” (Jes. 40:1). Ja, deur middel van die boek Jesaja het Jehovah die vertroosting voorsien wat die Joodse gevangenes nodig sou hê.

3 Net soos daardie Joodse gevangenes het ons ook van tyd tot tyd vertroosting nodig. In hierdie artikel sal ons kyk na drie maniere hoe Jehovah die gevangenes vertroos het: (1) Hy het belowe om berouvolles te vergewe, (2) hy het sy volk hoop gegee en (3) hy het hulle vrese gekalmeer. Terwyl ons hierdie punte bespreek, let op hoe ons kan baat vind by Jehovah se vertroostende woorde.

JEHOVAH IS GENADIG EN VERGEWE ONS

4. Hoe het Jehovah gewys dat hy ’n genadige God is? (Jesaja 55:7)

4 Jehovah is “die Vader van groot genade” (2 Kor. 1:3). Hy het daardie eienskap geopenbaar toe hy belowe het om berouvolle Jode te vergewe. (Lees Jesaja 55:7.) Hy het gesê: “Met ewige lojale liefde sal ek genade aan jou betoon” (Jes. 54:8). Hoe sou Jehovah wys dat hy genadig is? Al sou die Jode as ’n volk nog steeds die gevolge van hulle dade moes dra, het Jehovah belowe dat hulle nie vir ewig in Babilon sou bly nie. Hulle sou net vir ’n beperkte tydperk in Babilon bly (Jes. 40:2). Hierdie woorde moes seker baie vertroostend gewees het vir berouvolle Jode onder hulle!

5. Hoekom het ons selfs meer rede as wat die Jode in Babilon gehad het om Jehovah se genade te waardeer?

5 Wat leer ons? Jehovah is gewillig om sy knegte heeltemal te vergewe. Vandag het ons selfs meer rede as wat die Jode in Babilon gehad het om hierdie feit te waardeer. Hoe so? Ons verstaan die grondslag vir Jehovah se vergifnis. Honderde jare nadat Jesaja geprofeteer het, het Jehovah sy geliefde Seun na die aarde gestuur om ’n losprys te voorsien vir alle berouvolle sondaars. Daardie offerande voorsien die grondslag vir sondes om “uitgewis [te] word” – heeltemal uitgevee te word (Hand. 3:19; Jes. 1:18; Ef. 1:7). Ons dien beslis ’n genadige God!

6. Hoe kan ons daarby baat vind as ons op Jehovah se genade fokus? (Sien ook prent.)

6 Jehovah se geïnspireerde woorde in Jesaja 55:7 kan ons vertroos as ons heeltyd skuldig voel. Party van ons voel dalk nog steeds skuldig oor ’n vorige fout selfs nadat ons berou getoon het. Dit is dalk veral die geval as ons nog steeds die gevolge van ons fout dra. Maar as ons ons sondes bely het en opgehou doen het wat verkeerd is, kan ons seker wees dat Jehovah ons vergewe het. En wanneer Jehovah vergewe, kies hy om nie aan ons sonde te dink nie. (Vergelyk Jeremia 31:34.) So as Jehovah nie heeltyd aan ons vorige sondes dink nie, moet ons ook nie heeltyd daaraan dink nie. Wat vir Jehovah belangrik is, is wat ons nou doen, nie die foute wat ons in die verlede gemaak het nie (Eseg. 33:​14-16). En binnekort sal ons Vader van groot genade die gevolge van ons foute vir ewig verwyder.

’n Broer loop met selfvertroue. Collage: Tonele wys hoe wat hy voorheen gedoen het, verskil van wat hy nou doen. Foute wat hy in die verlede gemaak het: 1. Hy het gewelddadige videospeletjies gespeel. 2. Hy het te veel gedrink en gerook. 3. Hy het na ongepaste dinge op sy rekenaar gekyk. Wat hy nou doen: 1. Hy maak die Koninkryksaal skoon. 2. Hy praat met ’n bejaarde suster. 3. Hy neem aan die veldbediening deel.

Wat vir Jehovah belangrik is, is nie watter foute ons in die verlede gemaak het nie, maar wat ons nou doen (Sien paragraaf 6)


7. Wat kan ons beweeg om vir hulp te vra as ons ’n sonde wegsteek?

7 Wat moet ons doen as ’n skuldige gewete ons pla omdat ons ’n ernstige sonde wegsteek? Die Bybel moedig ons aan om die ouermanne vir hulp te vra (Jak. 5:​14, 15). Dit sal dalk nie maklik wees om vir hulle te sê wat ons gedoen het nie. Maar ons sal beweeg word om met hierdie getroue mans te praat as ons berouvol is en as ons onthou dat Jehovah en die mans wat hy aangestel het om ons te help, liefdevol en genadig sal wees. Kyk hoe Jehovah se genade Arthur,a ’n broer wie se gewete hom erg gepla het, vertroos het. “Ek het omtrent ’n jaar lank na pornografie gekyk,” het Arthur gesê. “Maar nadat ek ’n toespraak oor die gewete gehoor het, het ek vir my vrou en vir die ouermanne van my sonde vertel. Daarna het ek uiteindelik verlig gevoel, maar ek was nog steeds baie hartseer oor wat ek gedoen het. Die ouermanne het my daaraan herinner dat Jehovah my nie verwerp het nie. Hy dissiplineer ons omdat hy ons liefhet. Hulle liefdevolle woorde het my hart bereik en het my gehelp om my denke reg te stel.” Vandag dien Arthur as ’n pionier en ’n bedieningskneg. Dit is baie vertroostend om te weet dat Jehovah genadig teenoor ons is as ons berouvol is!

JEHOVAH GEE ONS HOOP

8. (a) Watter hoop het Jehovah vir die Jode gegee? (b) Watter uitwerking kon hoop op berouvolle Jode hê volgens Jesaja 40:​29-31?

8 Uit ’n menslike standpunt was die Joodse gevangenes in ’n hopelose situasie. Die Babiloniese Wêreldmag was daarvoor bekend dat hulle nie hulle gevangenes vrygelaat het nie (Jes. 14:17). Maar Jehovah het vir sy volk hoop gegee. Hy het belowe om sy volk te bevry, en niks kon hom keer nie (Jes. 44:26; 55:12). In Jehovah se oë was Babilon soos ’n stoflagie (Jes. 40:15). Dit sou vir hom so maklik wees om sy volk te bevry soos om stof weg te blaas. Watter uitwerking kon hoop op die gevangenes hê? Dit sou hulle vertroos. Maar dit kon meer doen. Jesaja het geskryf: “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry.” (Lees Jesaja 40:​29-31.) Ja, hoop sou hulle versterk; hulle sou “sweef soos arende”.

9. Watter redes het die Jode gehad om vertroue in Jehovah se beloftes te hê?

9 Jehovah het ook vir die Jode rede gegee om vertroue in sy beloftes te hê. Hoe? Dink aan die profesieë wat alreeds vervul is. Hulle het geweet dat Assirië die noordelike koninkryk van Israel oorwin het en die volk gevange geneem het (Jes. 8:4). Hulle het gesien hoe die Babiloniërs Jerusalem vernietig en die inwoners na Babilon neem (Jes. 39:​5-7). Hulle het geweet dat koning Sedekia verblind is en na Babilon weggeneem is (Jer. 39:7; Eseg. 12:​12, 13). Alles wat Jehovah voorspel het, het waar geword (Jes. 42:9; 46:10). Al hierdie dinge het sekerlik hulle geloof versterk dat Jehovah se belofte van bevryding, ook waar sou word!

10. Wat kan ons help om ons hoop sterk te hou gedurende hierdie laaste dae?

10 Wat leer ons? Wanneer ons af voel, kan hoop ons vertroos en ons help om nuwe krag te kry. Ons lewe in baie moeilike tye en kom voor kragtige vyande te staan. Maar ons moenie te mismoedig word nie. Jehovah het ons ’n wonderlike hoop gegee – ewige lewe in ware vrede en veiligheid. Ons moet daardie hoop helder in ons verstand en hart hou. Anders kan ons hoop dof word soos ’n uitsig van ’n pragtige landskap wat nie duidelik gesien kan word nie omdat ons deur ’n vuil venster kyk. Hoe kan ons “die venster skoonmaak”, dit wil sê ons hoop helder hou? Ons kan gereeld tyd maak om te dink aan hoe wonderlik ons lewe in die nuwe wêreld sal wees. Ons kan artikels lees, video’s kyk en na liedjies luister wat ons hoop bespreek. En ons kan met Jehovah in gebed praat oor die beloftes waarna ons gretig uitsien.

11. Wat help een suster wat chroniese gesondheidsprobleme het om nuwe krag te kry?

11 Kyk hoe hoop ’n suster met die naam Joy, wat chroniese gesondheidsprobleme het, vertroos en versterk het. Sy sê: “Wanneer ek oorweldig voel, deel ek my diepste gevoelens met Jehovah, en ek weet dat hy my verstaan. Op daardie tye gee Jehovah my ‘die krag wat bo die normale is’” (2 Kor. 4:7). Joy sien ook haarself in die nuwe wêreld, waar “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jes. 33:24). As ons ons hart voor Jehovah uitstort en op ons hoop fokus, kan ons nuwe krag kry.

12. Watter redes het ons om vertroue in Jehovah se beloftes te hê? (Sien ook prent.)

12 Soos in die geval van die Jode het Jehovah ons ook baie redes gegee om vertroue in sy beloftes te hê. Dink aan die profesieë wat ons sien vervul word. Byvoorbeeld, ons sien ’n wêreldmag wat “gedeeltelik sterk en gedeeltelik swak” is (Dan. 2:​42, 43). Ons hoor ook van “aardbewings op die een plek ná die ander”, en ons preek vir “al die nasies” (Matt. 24:​7, 14). Hierdie profesieë en baie ander versterk ons geloof in Jehovah se vertroostende beloftes wat nog vervul moet word.

’n Suster lees en dink na oor Bybelprofesieë. Collage: 1. ’n Paartjie staan langs ’n lektuurtrollie en praat met ’n man. 2. ’n Pa en sy seun kyk na die skade wat deur ’n natuurramp veroorsaak is. 3. ’n Klip tref die voete van die beeld in Nebukadnesar se droom wat in Daniël hoofstuk 2 beskryf word. 4. Mense geniet die lewe op ’n paradysaarde.

Die profesieë wat ons vandag sien vervul word, gee ons redes om vertroue in Jehovah se beloftes te hê (Sien paragraaf 12)


JEHOVAH KALMEER ONS VRESE

13. (a) Watter uitdagings sou die Jode ondervind wanneer hulle bevry word? (b) Hoe het Jehovah die Joodse gevangenes vertroos soos beskryf word in Jesaja 41:​10-13?

13 Al het Jehovah die Jode met ’n wonderlike hoop vertroos, het hy geweet dat hulle uitdagings sou ondervind wanneer hulle bevry word. Jehovah het voorspel dat ’n magtige koning die nasies rondom Babilon sou aanval en dit sou oorneem en dan Babilon self sou aanval (Jes. 41:​2-5). Moes die Jode bekommerd wees? Jehovah het sy volk vooraf vertroos en gesê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie angstig wees nie, want ek is jou God.” (Lees Jesaja 41:​10-13.) Wat het hy bedoel met die woorde “ek is jou God”? Hy het nie die Jode daaraan herinner dat hulle hom moes aanbid nie – hulle het geweet dat hulle dit moet doen. Hy het hulle eerder daaraan herinner dat hy nog steeds aan hulle kant is. – Ps. 118:6.

14. Wat het Jehovah nog gedoen om die Jode se vrese te kalmeer?

14 Jehovah het ook die Jode se vrese gekalmeer deur hulle te herinner aan sy onbeperkte krag en kennis. Hy het die Joodse gevangenes genooi om na die sterrehemel op te kyk. Hy het vir hulle gesê dat hy nie net die sterre geskep het nie, maar dat hy ook elke ster se naam ken (Jes. 40:​25-28). Hoeveel te meer dan ken hy die persoonlike naam van elkeen van sy knegte! En as Jehovah die krag gehad het om die sterre te skep, het hy beslis die krag om sy volk te help. Ja, die Joodse gevangenes het geen rede gehad om bekommerd of bang te wees nie.

15. Hoe het God die Joodse gevangenes voorberei vir wat voorgelê het?

15 Jehovah het ook sy volk voorberei vir wat voorgelê het. In ’n vroeër deel van die boek Jesaja het God vir die nasie gesê: “Gaan in julle binnekamers in, my volk, en sluit julle deure agter julle toe. Verberg julle vir net ’n oomblik, totdat die woede verby is” (Jes. 26:20). Hierdie gedeelte het dalk ’n eerste vervulling gehad toe koning Kores Babilon verower het. ’n Eertydse Griekse geskiedkundige sê dat Kores, toe hy Babilon binnegegaan het, vir sy soldate “gesê het om almal dood te maak wat buite was”. Dink net hoe bang die inwoners van Babilon moes gevoel het! Maar die Joodse gevangenes se lewens is heel moontlik gespaar omdat hulle Jehovah se instruksies gehoorsaam het.

16. Hoekom moet ons nie bang wees vir wat in die toekoms gaan gebeur nie? (Sien ook prent.)

16 Wat leer ons? Ons sal binnekort die grootste verdrukking in die mensegeskiedenis ondervind. Wanneer dit begin, sal mense oor die algemeen verward en bang wees. Maar nie Jehovah se volk nie. Ons weet dat Jehovah ons God is. Ons sal regop staan omdat ons weet dat ‘ons verlossing nader kom’ (Luk. 21:28). Selfs wanneer ’n groep nasies ons aanval, sal ons standvastig bly. Jehovah sal die engele gebruik om ons te beskerm, en hy sal vir ons instruksies gee wat ons lewens sal red. Hoe sal daardie instruksies aan ons oorgedra word? Ons sal moet wag en sien. Maar ons sal waarskynlik sulke instruksies deur ons gemeentes ontvang. In ’n sekere sin sal dit dalk ons “binnekamers” wees, waar ons veiligheid sal vind. Hoe kan ons voorberei vir wat voorlê? Ons moet nader kom aan ons broers en susters, gewilliglik gehoorsaam wees aan teokratiese riglyne en oortuig wees dat Jehovah ons organisasie lei. – Heb. 10:​24, 25; 13:17.

Broers en susters lees die Bybel saam in ’n kamer gedurende die groot verdrukking. Hulle kyk by ’n venster uit terwyl een van die broers met sy vinger na die naghemel wys.

As ons nadink oor Jehovah se krag en vermoë om ons te red, sal ons nie bang hoef te wees vir wat met ons sal gebeur gedurende die groot verdrukking nie (Sien paragraaf 16)b


17. Hoe kan jy op Jehovah vertrou vir vertroosting?

17 Al was die Joodse gevangenes in ’n moeilike situasie, het Jehovah vir hulle die vertroosting gegee wat hulle nodig gehad het. Hy sal dieselfde vir ons doen. So ongeag wat môre dalk sal bring, hou aan om op Jehovah te vertrou vir vertroosting. Ja, vertrou in sy groot genade. Hou jou hoop sterk. Onthou, met Jehovah as jou God het jy niks om te vrees nie.

HOE VERTROOS DIE VOLGENDE TEKSTE JOU?

  • Jesaja 55:7

  • Jesaja 40:​29-31

  • Jesaja 41:​10-13

LIED 3 U gee ons hoop en krag

a Party name is verander.

b BESKRYWING VAN PRENT.: ’n Klein groep broers en susters kom bymekaar. Hulle is oortuig van Jehovah se krag en vermoë om sy volk te beskerm waar hulle ook al op die aarde bly.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel