Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Mei bl. 14-19
  • Soek na die stad wat permanent sal wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Soek na die stad wat permanent sal wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • STEL VERTROUE IN DIE EEN WAT JOU NOOIT SAL VERLAAT NIE
  • WEES GEHOORSAAM AAN DIÉ WAT DIE LEIDING NEEM
  • BETOON BROEDERLIKE LIEFDE EN GASVRYHEID
  • WAT VOORLÊ
  • ’n Brief wat ons kan help om getrou te volhard tot die einde toe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Om nader aan mekaar te kom, is goed vir ons!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Mei bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 21

LIED 21 Soek die Koninkryk voortdurend

Soek na die stad wat permanent sal wees

“Ons soek ernstig na die stad wat sal kom.” – HEB. 13:14.

FOKUS

Hoe ons vandag en in die toekoms by Hebreërs hoofstuk 13 kan baat vind.

1. Wat het Jesus voorspel sou met eerste-eeuse Jerusalem gebeur?

’N PAAR dae voor sy dood het Jesus Christus ’n profesie gegee wat sy eerste vervulling gedurende die laaste dae van die Joodse wêreldstelsel gehad het. Hy het gewaarsku dat die stad Jerusalem eendag “deur leërmagte omsingel” sou word (Luk. 21:20). Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle die gebied onmiddellik moes verlaat wanneer hulle daardie leërmagte – wat op die ou end die Romeinse leërmagte was – sien. – Luk. 21:​21, 22.

2. Watter herinnering het die apostel Paulus vir die Hebreeuse Christene in Judea en Jerusalem gegee?

2 Net ’n paar jaar voordat die Romeinse leërmagte Jerusalem omsingel het, het die apostel Paulus die kragtige brief geskryf wat nou as die boek Hebreërs bekend staan. In daardie brief het Paulus Christene in Judea en Jerusalem baie belangrike raad gegee wat hulle sou help om hulle voor te berei vir wat voorlê. En wat presies het voorgelê? Jerusalem sou vernietig word. As daardie Christene wou oorleef, sou hulle gereed moes wees om hulle huise en besighede agter te laat. Daarom het Paulus die volgende oor die stad Jerusalem geskryf: “Ons het nie hier ’n stad wat permanent is nie.” Toe het hy bygevoeg: “Maar ons soek ernstig na die stad wat sal kom.” – Heb. 13:14.

3. Wat is “die stad wat ware fondamente het,” en hoekom soek ons daarna?

3 Toe Christene besluit het om Jerusalem en Judea te verlaat, het baie mense dalk vir hulle gesê dat hulle dwaas is en vir hulle gelag, maar daardie besluit het hulle lewens gered. Vandag word ons gespot omdat ons nie ons vertroue in mense stel of ’n veilige en gemaklike lewe in hierdie wêreld soek nie. Hoekom maak ons dan daardie keuse? Ons weet dat hierdie wêreld tydelik is. Ons soek na “die stad wat ware fondamente het,” dit wil sê “die stad wat sal kom”, God se Koninkryk (Heb. 11:10; Matt. 6:33).a Onder elke onderhofie in hierdie artikel sal ons bespreek: (1) hoe Paulus se geïnspireerde raad eerste-eeuse Christene gehelp het om aan te hou soek na “die stad wat sal kom”, (2) hoe Paulus hulle vir toekomstige gebeure voorberei het en (3) hoe sy raad ons vandag help.

STEL VERTROUE IN DIE EEN WAT JOU NOOIT SAL VERLAAT NIE

4. Hoekom was Jerusalem vir Christene belangrik?

4 Jerusalem was vir Christene belangrik. Die eerste-eeuse Christengemeente is in 33 HJ daar gevorm, en die broers van die bestuursliggaam het daar gebly. Wat meer is, baie Christene het huise in Jerusalem besit en het materiële besittings daar bymekaargemaak. Maar Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle uit Jerusalem en selfs uit Judea sou moes gaan. – Matt. 24:16.

5. Hoe het Paulus Christene voorberei vir wat sou kom?

5 Om die Christene voor te berei vir wat sou kom, het Paulus hulle gehelp om te fokus op hoe Jehovah die stad Jerusalem beskou het. Paulus het hulle daaraan herinner dat die tempel, die priesterdom en die offerandes wat in Jerusalem geoffer word, uit Jehovah se oogpunt nie meer heilig is nie (Heb. 8:13). Die meeste van die stad se inwoners het die Messias verwerp. Jerusalem se tempel was nie meer die middelpunt van rein aanbidding van Jehovah nie, en dit sou vernietig word. – Luk. 13:​34, 35.

6. Hoekom het Paulus se herinnering in Hebreërs 13:​5, 6 op die regte tyd vir Christene gekom?

6 Toe Paulus die brief aan die Hebreërs geskryf het, was Jerusalem ’n florerende stad. ’n Romeinse skrywer van daardie tydperk het Jerusalem “verreweg die bekendste stad van die Ooste” genoem. Jode uit baie lande het elke jaar daarheen gereis om die feeste by te woon, wat bygedra het tot ’n florerende ekonomie. Party Christene het sekerlik ook by hierdie goeie ekonomiese situasie baat gevind. Dit is dalk hoekom Paulus die volgende vir hulle gesê het: “Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het.” Hy het toe ’n kragtige versekering uit die Bybel aangehaal met Jehovah se persoonlike waarborg: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” (Lees Hebreërs 13:​5, 6; Deut. 31:6; Ps. 118:6). Christene wat in Jerusalem en Judea gebly het, sou hierdie versekering nodig hê. Hoekom? Want kort nadat hulle hierdie brief ontvang het, sou hulle hulle huise moes agterlaat, sowel as hulle besighede en die meeste van hulle besittings. Dan sou hulle ’n nuwe lewe iewers anders moes begin, wat nie maklik sou wees nie.

7. Hoekom moet ons nou ons vertroue in Jehovah versterk?

7 Les vir ons: Wat lê vir ons voor? Die einde van hierdie huidige wêreld gedurende die “groot verdrukking” (Matt. 24:21). Soos die eerste-eeuse Christene moet ons wakker bly en gereed wees (Luk. 21:​34-36). Gedurende die groot verdrukking sal ons dalk party van of al ons besittings moet agterlaat, met die volle vertroue dat Jehovah nooit sy volk sal verlaat nie. Selfs nou, voordat daardie verdrukking begin, het ons ’n geleentheid om te wys waarin ons ons vertroue stel. Vra jou af: ‘Wys my dade en doelwitte dat ek my vertroue, nie in rykdom nie, maar in God stel wat belowe om vir my te sorg?’ (1 Tim. 6:17). Al kan ons natuurlik lesse leer uit wat in die eerste eeu gebeur het, sal die toekomstige “groot verdrukking” iets wees wat Christene nog nooit ondervind het nie. So hoe sal ons presies weet wat om te doen wanneer daardie verdrukking begin?

WEES GEHOORSAAM AAN DIÉ WAT DIE LEIDING NEEM

8. Watter instruksies het Jesus vir sy dissipels gegee?

8 ’n Paar jaar nadat Christene Paulus se brief aan die Hebreërs ontvang het, het hulle gesien hoe Romeinse leërmagte die stad Jerusalem omsingel. Dit was ’n teken dat dit tyd is vir hulle om te vlug; die stad Jerusalem sou vernietig word (Matt. 24:3; Luk. 21:​20, 24). Maar waarheen sou hulle vlug? Jesus het eenvoudig gesê: “Laat die mense wat in Judea is, . . . na die berge begin vlug” (Luk. 21:21). Daar was baie berge in die streek. So in watter rigting sou hulle vlug?

9. Hoekom het Christene dalk gewonder na watter berge hulle moes vlug? (Sien ook kaart.)

9 Kyk na party van die berge waarheen Christene kon gevlug het: die berge van Samaria, die berge in Galilea, berg Hermon en die berge van Libanon, en die berge aan die ander kant van die Jordaanrivier. (Sien kaart.) Dit het dalk gelyk asof party van die stede in daardie bergagtige gebiede veilige plekke is om te bly. Die stad Gamla was byvoorbeeld op ’n hoë berg geleë en was verskriklik moeilik om te bereik. Party Jode het geglo dat hierdie stad ’n baie veilige plek is om te bly. Maar ’n verskriklike geveg tussen die Jode en die Romeine het in Gamla plaasgevind, en baie van die inwoners het gesterf.b

’n Kaart met party van die berge en stede van Israel gedurende die eerste eeu. Noord van Jerusalem is die berge van Libanon, Galilea, Samaria en Gilead sowel as berg Hermon en berg Tabor. Die stede noord van Jerusalem is Gamla, Sesarea en Pella. Suid van Jerusalem is die berge van Judea en Abarim sowel as die stad Masada. Die kaart wys ook die roetes van die Romeinse veldtogte en die gebiede wat die Jode verloor het vanaf 67 HJ tot 73 HJ.

Daar was baie berge waarheen die vroeë Christene kon gevlug het, maar nie almal was veilig nie (Sien paragraaf 9)


10-11. (a) Hoe het Jehovah dalk leiding voorsien? (Hebreërs 13:​7, 17) (b) Hoe het Christene daarby baat gevind omdat hulle gehoorsaam was aan dié wat die leiding geneem het? (Sien ook prent.)

10 Dit lyk asof Jehovah die Christene gelei het deur middel van dié wat die leiding in die gemeente geneem het. ’n Geleerde met die naam Eusebius het later oor daardie tydperk geskryf. Hy het gesê dat God aan party van die broers in Jerusalem geopenbaar het dat die Christene Jerusalem moet verlaat en na Pella, ’n stad in Perea, moet gaan. Dit lyk asof Pella ’n ideale keuse was. Dit was nie ver van Jerusalem af nie, so dit was nie baie moeilik om daarheen te reis nie. Dit was hoofsaaklik ’n nie-Joodse stad en was oor die algemeen nie geaffekteer deur die fanatiese Joodse vryheidsvegters en hulle gevegte met die Romeine nie. – Sien kaart.

11 Die Christene wat na die berge gevlug het, het Paulus se raad toegepas om ‘gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding neem’ in die gemeente. (Lees Hebreërs 13:​7, 17.) As gevolg daarvan het God se volk oorleef. Die geskiedenis bevestig dat God nie dié verlaat het wat “uitgesien [het] na die stad wat ware fondamente het” nie – God se Koninkryk. – Heb. 11:10.

’n Groep eerste-eeuse Christene loop met hulle besittings deur ’n bergstreek.

Christene het na Pella gevlug, wat naby en veilig was (Sien paragraaf 10-11)


12-13. Hoe het Jehovah sy volk gedurende baie moeilike tye gelei?

12 Les vir ons: Jehovah gebruik dié wat die leiding neem om sy volk spesifieke riglyne te gee. Die Bybel is vol voorbeelde van hoe Jehovah getroue mans gebruik het om sy volk gedurende baie moeilike tye te lei (Deut. 31:23; Ps. 77:20). En vandag het ons al baie bewyse gesien dat Jehovah nog steeds dié wat die leiding neem, gebruik.

13 Byvoorbeeld, toe die COVID-19-pandemie begin het, het “dié wat die leiding . . . neem” die nodige riglyne gegee. Die ouermanne het instruksies ontvang oor hoe om na die geestelike behoeftes van hulle broers en susters om te sien. Kort nadat die pandemie begin het, het ons ’n geskiedkundige streekbyeenkoms in meer as 500 tale gehou deur middel van die internet, TV en radio. Die vloei van geestelike kos het nie opgehou nie. As gevolg daarvan het ons verenig gebly. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah sal aanhou om dié wat die leiding neem, te help om wyse besluite te maak, maak nie saak watter probleme ons dalk in die toekoms sal ondervind nie. Watter ander eienskappe, buiten vertroue in Jehovah en gehoorsaamheid aan sy gebooie, sal ons help om ons voor te berei vir die groot verdrukking en om wys op te tree gedurende daardie verskriklik moeilike tydperk?

BETOON BROEDERLIKE LIEFDE EN GASVRYHEID

14. Watter eienskappe moes Christene betoon gedurende die laaste dae van die Joodse wêreldstelsel volgens Hebreërs 13:​1-3?

14 Wanneer die groot verdrukking begin, sal ons liefde aan mekaar moet betoon soos nog nooit tevore nie. In hierdie verband sal ons die voorbeeld moet volg van daardie Christene wat in Jerusalem en Judea gebly het. Hulle het altyd liefde aan mekaar betoon (Heb. 10:​32-34). Maar gedurende die laaste paar jaar voordat Jerusalem vernietig is, moes Christene selfs meer “broederlike liefde” en “gasvryheid” betoon.c (Lees Hebreërs 13:​1-3.) Ons sal dit ook moet doen hoe nader ons aan die einde van hierdie wêreld kom.

15. Hoekom moes die Hebreeuse Christene broederlike liefde en gasvryheid betoon nadat hulle gevlug het?

15 Toe die Romeinse leërmagte Jerusalem omsingel en toe skielik terugtrek, het Christene met redelik min besittings gevlug (Matt. 24:​17, 18). Hulle moes op mekaar staatmaak terwyl hulle na die berge gevlug het en ’n nuwe lewe begin het. Daar was sekerlik baie wat “tye van nood” ondervind het, en dit sou Christene die geleentheid gee om opregte broederlike liefde en gasvryheid te betoon deur mekaar te ondersteun en te deel wat hulle gehad het. – Tit. 3:14.

16. Hoe kan ons liefde betoon aan medeaanbidders wat ons hulp nodig het? (Sien ook prent.)

16 Les vir ons: Liefde motiveer ons om medeaanbidders te ondersteun wanneer hulle ons hulp nodig het. Baie van God se volk was gewillig om om te sien na die geestelike en materiële behoeftes van hulle broers en susters wat vlugtelinge geword het as gevolg van onlangse oorloë en natuurrampe. ’n Oekraïense suster wat haar huis verlaat het as gevolg van oorlog, het gesê: “Ons het gevoel hoe Jehovah se hand ons deur ons broers en susters lei en help. Hulle het ons in Oekraïne, in Hongarye en nou hier in Duitsland verwelkom en so baie gehelp.” Ons werk saam met Jehovah wanneer ons gasvryheid betoon aan ons broers en susters en in hulle behoeftes voorsien. – Spr. 19:17; 2 Kor. 1:​3, 4. 

’n Bejaarde paartjie verwelkom ’n gesin wat vlugtelinge is liefdevol in hulle huis. Die gesin het een tas en ’n paar sakke.

Vandag het Christenvlugtelinge ons ondersteuning nodig (Sien paragraaf 16)


17. Hoekom is dit baie belangrik om nou te leer om broederlike liefde en gasvryheid te betoon?

17 Gedurende die groot verdrukking sal ons mekaar selfs meer moet help as wat ons mekaar nou help (Hab. 3:​16-18). Jehovah lei ons nou op om broederlike liefde en gasvryheid te betoon, eienskappe wat op daardie tyd noodsaaklik sal wees.

WAT VOORLÊ

18. Hoe kan ons die eerste-eeuse Hebreeuse Christene navolg?

18 Die geskiedenis bevestig dat die Christene wat na die berge gevlug het, die vernietiging van Jerusalem vrygespring het. Hulle het die stad verlaat, maar Jehovah het hulle nooit verlaat nie. Wat van ons dag? Ons weet nie presies wat in die toekoms sal gebeur nie. Maar Jesus het ons gewaarsku dat ons gereed moet wees om gehoorsaam te wees (Luk. 12:40). Ons kan ook nadink oor die raad wat Paulus aan die Hebreërs geskryf het en dit toepas. En ons het Jehovah se persoonlike waarborg dat hy ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie (Heb. 13:​5, 6). Laat ons ernstig soek na die stad wat permanent sal wees – God se Koninkryk – en die ewige seëninge geniet wat dit sal bring. – Matt. 25:34.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom moet ons nou ons vertroue in Jehovah versterk?

  • Hoekom sal gehoorsaamheid baie belangrik wees gedurende die “groot verdrukking”?

  • Hoekom is dit baie belangrik om nou te leer om broederlike liefde en gasvryheid te betoon?

LIED 157 Daar sal vrede wees!

a In Bybeltye het ’n koning dikwels oor ’n stad regeer. So ’n stad kon as ’n koninkryk beskou word. – Gen. 14:2.

b Dit het in 67 HJ plaasgevind, nie lank nadat Christene uit Judea en Jerusalem gevlug het nie.

c Die woord wat met “broederlike liefde” vertaal word, kan verwys na die liefde vir onmiddellike familielede, maar Paulus gebruik dit om te verwys na die hegte band van liefde binne die gemeente.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel