HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Kinders en slimfone – Deel 2: Leer jou kinders om ’n slimfoon verantwoordelik te gebruik
’n Slimfoon is soos kraggereedskap – dit kan voordelig of nadelig wees, afhangend van hoe dit gebruik word. Hoe kan jy jou kind help om goeie besluite te maak wanneer hy of sy ’n slimfoon gebruik? Byvoorbeeld, hoeveel tyd moet jy jou kind elke dag toelaat om dit te gebruik?a
Wat jy moet weet
Die slimfoon kan die gebruiker in gevaar stel. Soos in die artikel “Kinders en slimfone – Deel 1: Moet my kind ’n slimfoon kry?” uitgekom het, maak ’n slimfoon die deur oop na alles wat op die Internet beskikbaar is, goed en sleg.
“Dis maklik om te vergeet dat ’n slimfoon ons kinders aan allerhande gevaarlike mense en idees kan blootstel.” – Brenda.
Kinders het leiding nodig. Jongmense gebruik al hulle hele lewe lank tegnologie, maar baie volwassenes het dit maar eers onlangs begin gebruik. Dit beteken nie dat ouers niks oor tegnologie weet en dat kinders in ’n beter posisie is om te besluit hoe en wanneer om hulle slimfoon te gebruik nie.
Dit is waar dat jou kinders dalk meer oor ’n slimfoon weet as jy, maar dit wil nie sê dat hulle dit verantwoordelik kan gebruik nie. Selfs kinders wat baie oor tegnologie weet, het hulle ouers nodig om hulle te leer hoe om ’n slimfoon op ’n verantwoordelike manier te gebruik.
“As jy vir jou kind ’n slimfoon gee sonder om hom op te lei, is dit soos om vir hom die sleutels van ’n kar te gee, hom agter die stuurwiel te laat sit, die kar aan te skakel en dan te sê: ‘Wees asseblief versigtig’ sonder om hom eers ’n bestuursles te gee.” – Seth.
Wat jy kan doen
Vind uit wat jou kind se foon kan doen. Leer ken die funksies wat jou kind kan help om die foon verantwoordelik te gebruik. Byvoorbeeld:
Watter opsies het ek as ouer op die foon om die gebruik daarvan te beperk?
Weet jy dat funksies op ’n foon wat ongepaste inhoud blok, nie altyd werk nie?
Hoe meer jy weet oor jou kind se slimfoon, hoe beter voorbereid sal jy wees om hom te help om dit verantwoordelik te gebruik.
Bybelwaarheid: “Deur kennis kry ’n man meer krag.” – Spreuke 24:5.
Stel perke. Besluit wat jy sal en nie sal toelaat nie. Byvoorbeeld:
Sal jy jou kind toelaat om die foon na die etenstafel te bring of om dit te gebruik as julle by vriende of familie kuier?
Mag jou kinders hulle foon by hulle in die kamer hê wanneer hulle moet gaan slaap?
Watter apps sal jy toelaat?
Hoeveel tyd moet jy jou kind elke dag toelaat om dit te gebruik?
Maak seker dat jou kind weet wat jou reëls is, en wees bereid om jou kind te dissiplineer as hy die reëls breek.
Bybelwaarheid: “Moenie dissipline terughou van ’n jongmens nie.” – Spreuke 23:13, voetnoot.
Wees bewus van wat op jou kind se foon is. Jy moet weet wat jou kind se wagwoord is. Kyk ook wat op sy of haar foon is wanneer dit nodig is, wat dinge insluit soos teksboodskappe, apps, foto’s en webwerwe wat besoek is.
“Ons het vir ons dogter gesê dat ons van tyd tot tyd sal kyk wat op haar foon is sonder om haar voor die tyd te waarsku. As ons uitgevind het dat sy haar foon onverantwoordelik gebruik het, dan het ons die tyd beperk wat sy dit kon gebruik.” – Lorraine.
As ’n ouer het jy die reg om te weet hoe jou kind sy slimfoon gebruik.
Bybelwaarheid: “Deur sy dade wys ’n kind of sy gedrag rein en reg is.” – Spreuke 20:11.
Leer jou kind om waardes te hê. Help jou kind om te wil doen wat reg is. Hoekom is dit belangrik? Want as ’n kind regtig iets wil wegsteek van sy ouers, sal hy ’n manier kry om dit te doen, maak nie saak wat sy ouers doen nie.b
Daarom moet jy jou kind oplei om goeie eienskappe te hê, soos eerlikheid, selfbeheersing en om verantwoordelik te wees vir sy of haar optrede. ’n Kind wat waardes het, is meer geneig om sy foon verantwoordelik te gebruik.
Bybelwaarheid: “Volwasse mense [het] hulle denkvermoë geoefen . . . sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is.” – Hebreërs 5:14.
a In hierdie artikel verwys die woord “slimfoon” na ’n selfoon wat Internettoegang het. Dit is eintlik ’n klein rekenaar.
b Party gebruik ’n app wat onskuldig lyk – met die voorkoms van byvoorbeeld ’n sakrekenaar – om dinge weg te steek wat hulle nie wil hê hulle ouers moet sien nie.