Jongmense vra . . .
Het ek ’n selfoon nodig?
“Ek voel baie onseker en geïrriteerd as ek nie ’n selfoon by my het nie.”—Akiko.a
SELFONE word in baie lande al hoe gewilder. Dit is gerieflik om ’n selfoon te hê. Jou vriende en ouers kan op enige tyd, op enige plek, met jou in aanraking kom—en jy met hulle. Met party modelle kan jy kort teksboodskappe stuur en ontvang, wat “die jongste manier vir jongmense is om hulle drang te bevredig om te kommunikeer”, sê The Times van Londen. Daar is selfs selfone wat jou met die Internet kan verbind, wat jou toegang gee tot webwerwe en e-pos.
Dalk het jy reeds een of beplan jy om een te kry. In ieder geval, dit sal goed wees om in gedagte te hou dat elke saak twee kante het. ’n Selfoon het wel sekere voordele. Maar jy wil dalk ook oor die ander kant van die saak nadink, want selfs al besluit jy om een te koop, sal dit jou help om dit verstandig te gebruik as jy ingelig is oor die potensiële gevare daarvan.
‘Bereken die koste’
Jesus het ’n wyse beginsel genoem toe hy gesê het dat ’n mens ‘die koste moet bereken’ voordat jy ’n belangrike projek aanpak (Lukas 14:28). Kan daardie beginsel op selfone toegepas word? Beslis. Die selfoon kos jou dalk baie min of miskien is dit selfs gratis. Maar soos die 17-jarige Henna ontdek het, “kan jy onverwags ’n baie hoë rekening kry”. Daar kan ook voortdurend druk wees om bykomende dienste aan te skaf en duurder modelle te koop. Daarom sê Hirosji: “Ek het ’n deeltydse werk en spaar geld om elke jaar ’n nuwer model te koop.” Baie jongmense doen dieselfde.b
Selfs al stem jou ouers in om die rekening vir jou te betaal, is dit nog steeds belangrik om die koste daaraan verbonde te verstaan. ’n Reisende Christenbedienaar in Japan sê: “Party moeders doen ekstra deeltydse werk net om vir hulle kinders se selfone te betaal, wat in die eerste plek dalk nie nodig is nie.” Jy wil tog sekerlik nie so ’n las op jou ouers lê nie!
‘’n Tydverkwister’
Baie wat hulle selfoon aanvanklik met matigheid gebruik, vind dalk dat dit gou meer van hulle tyd in beslag neem as wat hulle verwag het—en belangriker dinge verdring. Mika het altyd baie tyd saam met haar gesin om die etenstafel deurgebring. “Nou”, sê sy, “gaan elkeen ná ete terug na sy kamer toe met sy eie [selfoon].”
“’n Derde van jong volwassenes tussen 16 en 20 verkies teksboodskappe bo alle ander vorme van geskrewe kommunikasie”, sê The Guardian van Londen. Teksboodskappe is dalk goedkoper as ’n oproep, maar dit neem meer tyd om teksboodskappe in te tik. Mieko erken: “As iemand vir my skryf en sê ‘lekker slaap’, antwoord ek ‘lekker slaap’. Dan sal ons ’n uur lank boodskappe heen en weer stuur. Dit is net verspotte praatjies.”
Baie selfoongebruikers sal moontlik heel verbaas wees as hulle al die tyd moes bymekaartel wat hulle in een maand op hulle telefoon bestee. ’n Negentienjarige meisie, Teija, erken: “Vir baie mense is ’n selfoon ’n groter tydverkwister as ’n tydbespaarder.” Selfs al regverdig jou omstandighede dat jy een besit, is dit belangrik om bewus te wees van tyd terwyl jy dit gebruik.
’n Jong Christenmeisie met die naam Marja sê: “By Christelike byeenkomste is baie jongmense die heeltyd besig om kletsboodskappe vir ander te stuur. Dit is baie algemeen!” Daar is ook al opgemerk dat jongmense dit doen terwyl hulle aan die Christelike bediening deelneem. Die Bybel moedig Christene aan om tyd vir geestelike bedrywighede uit te koop (Efesiërs 5:16). Hoe jammer is dit tog wanneer sulke kosbare tyd deur telefoongesprekke opgeneem word!
Geheime kommunikasie
Marie noem nog ’n strik: “Aangesien die oproepe direk na die persoon gaan en nie na die huis nie, is daar ’n gevaar dat ouers nie weet met wie hulle kinders praat nie en selfs of hulle oor die telefoon gesels of nie.” Party jongmense gebruik dus selfone om in die geheim kontak te maak met iemand van die teenoorgestelde geslag. Sommige het nie waaksaam gebly nie en standaarde geïgnoreer waarby hulle normaalweg sou bly wanneer hulle met ander kommunikeer. Hoe so?
“Met teksboodskappe kan niemand monitor wat [jongmense] doen nie”, sê The Daily Telegraph van Londen. Dit kan ’n invloed op jou hê as jy nie die ander persoon kan sien of hoor nie. “Party voel dat ’n teksboodskap ’n neutraler manier is om te kommunikeer”, sê Timo. “In ’n boodskap sal party moontlik dinge skryf wat hulle nie sal waag om van aangesig tot aangesig vir iemand te sê nie.”
Toe Keiko, ’n 17-jarige Christenmeisie, ’n selfoon begin gebruik het, het sy vir baie van haar vriende haar nommer gegee. Kort voor lank het sy en ’n seun in haar gemeente elke dag vir mekaar boodskappe begin stuur. Keiko sê: “In die begin het ons net oor ditjies en datjies gepraat, maar toe het ons mekaar van ons probleme begin vertel. Ons het met ons selfone ons eie klein wêreld geskep.”
Gelukkig het sy hulp gekry van haar ouers en die Christen- ouer manne voor dinge te ernstig geword het. Sy erken nou: “Hoewel my ouers my baie daarteen gewaarsku het om boodskappe vir lede van die teenoorgestelde geslag te stuur voordat hulle vir my ’n selfoon gegee het, het ek elke dag vir hom boodskappe gestuur. Dit was nie die beste manier om die selfoon te gebruik nie.”c
Die Bybel vermaan ons om ‘’n goeie gewete te behou’ (1 Petrus 3:16). Dit sal beteken dat ’n mens seker moet maak dat, soos Koitsji sê, jy jou “oor niks hoef te skaam” wanneer jy ’n selfoon gebruik nie, selfs as iemand anders jou boodskappe sien of hoor wat jy sê. Onthou altyd dat daar geen geheime vir ons hemelse Vader is nie. Die Bybel verduidelik: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir [God se] oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Sal dit dus verstandig wees om ’n geheime verhouding te hê?
Stel perke
As jy daaraan dink om ’n selfoon te kry, sal dit goed wees om eers jou situasie deeglik te oorweeg om te sien of jy werklik een nodig het. Bespreek die saak met jou ouers. Party voel soos jong Jenna, wat sê: “Vir baie jongmense is die verantwoordelikheid van ’n selfoon te groot.”
Selfs as jy besluit om ’n selfoon te kry, is dit belangrik om dit onder beheer te hou. Hoe? Stel redelike perke. Beperk byvoorbeeld die aantal funksies wat jy gebruik of die tyd en geld wat jy aan die telefoon bestee. Aangesien die meeste telefoonmaatskappye ’n gespesifiseerde rekening van jou gebruik voorsien, sal dit goed wees as jy dit van tyd tot tyd saam met jou ouers ontleed. Party vind ’n voorafbetaalde fasiliteit gerieflik om die gebruik van hulle selfoon te beperk.
Dink ook mooi na oor wanneer en hoe jy op oproepe en boodskappe reageer. Stel jou eie redelike perke. Sjindji verduidelik wat hy doen: “Ek maak my posbus net een keer per dag oop, en ek antwoord gewoonlik net boodskappe as dit belangrik is. My vriende het gevolglik opgehou om vir my gemorspos te stuur. As ’n probleem werklik ernstig is, sal hulle my in elk geval bel.” Nog belangriker, kies die mense met wie jy kommunikeer versigtig. Moenie jou telefoonnommer sommer net vir enigiemand gee nie. Bly by dieselfde standaarde wat jy gewoonlik volg wanneer dit by goeie assosiasie kom.—1 Korintiërs 15:33.
Die Bybel sê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:1, 7). Daar is natuurlik ook tye wanneer selfone moet ‘stilbly’. Ons Christelike vergaderinge en bediening is die “vasgestelde tyd” om God te aanbid, nie om die selfoon te gebruik nie. Restaurant- en teaterbestuurders versoek dikwels dat hulle kliënte nie selfone gebruik nie. Ons gee respekvol gehoor aan sulke versoeke. Die Soewerein van die heelal verdien sekerlik geensins minder respek nie!
As hulle nie ’n baie belangrike oproep verwag nie, besluit baie om hulle telefoon af te skakel, of hulle stel hulle telefoon sodat dit nie hardop lui wanneer hulle aan noodsaaklike bedrywighede deelneem nie. Party sit hulle selfone weg. Kan die meeste boodskappe per slot van rekening nie tot later wag nie?
As jy besluit om ’n selfoon te besit, maak seker dat jy dit beheer en nie daardeur beheer word nie. ’n Mens sal ongetwyfeld waaksaam moet bly en die regte prioriteite moet behou. Die Bybel moedig ons aan: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). As jy besluit om ’n selfoon aan te skaf, moet jy vasbeslote wees om redelikheid aan die dag te lê in die manier waarop jy dit gebruik.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikel “Jongmense vra—Wat is fout daarmee om geld te maak?” in die Ontwaak! van 22 September 1997 vir ’n bespreking van naskoolse werk.
c Om gereeld oor die telefoon met iemand van die teenoorgestelde geslag te praat of vir daardie persoon boodskappe te stuur, kan ’n vorm van afsprake wees. Sien gerus die artikel “Jongmense vra—Wat is daarmee verkeerd om met mekaar te gesels?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 1992.
[Prente op bladsy 20]
Party jongmense het geheime verhoudings oor die selfoon