HOU AAN WAAK!
Hoekom verdeel die politiek so baie mense? – Wat sê die Bybel?
Baie nasies regoor die wêreld is polities verdeeld. Volgens ’n opname deur die Pew-navorsingsentrum in 2022 “sê 65% volwassenes in 19 verskillende lande dat daar groot of baie groot verdeeldheid in hulle land is tussen mense wat verskillende politieke partye ondersteun”.
Het jy opgelet dat mense waar jy bly, al hoe meer verdeeld is oor die politiek? Hoekom is dit die geval? Is daar ’n oplossing? Kyk na wat die Bybel sê.
Gesindhede wat verdeel
Die Bybel het voorspel dat baie mense in ons tyd, wat “die laaste dae” genoem word, gesindhede sou hê wat dit onmoontlik sou maak vir mense om verenig te wees.
“In die laaste dae [sal daar] swaar tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal selfsugtig wees, . . . nie bereid wees om tot enigiets in te stem nie.” – 2 Timoteus 3:1-3.
Al werk baie mense hard om regerings suksesvol te maak, gebeur dit nie. Mense met teenstrydige beskouings vind dit moeilik, selfs onmoontlik, om saam te werk om probleme op te los. Die resultate bevestig wat die Bybel lank gelede gesê het.
‘Die mens heers oor die mens tot sy nadeel.’ – Prediker 8:9.
Maar die Bybel gee die oplossing – ’n regering met ’n leier wat die probleme kan oplos wat veroorsaak dat mense vandag swaarkry.
’n Bekwame leier wat omgee
Die Bybel identifiseer ’n leier wat die unieke vermoëns het om hierdie probleme op te los: Jesus Christus. Jesus het die mag, die gesag en die begeerte om eenheid en vrede vir die hele mensdom te bring.
“Die regverdige sal in sy dae floreer, en daar sal ’n oorvloed van vrede wees.” – Psalm 72:7.
“Al die nasies sal hom dien.” – Psalm 72:11.
Jesus is die beste leier omdat hy vir mense omgee en hulle wil help. Hy wil veral dié help wat onregverdig behandel is.
“Hy sal die arme red wat om hulp roep, en ook enigiemand wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die hulpelose en die arme, en hy sal die lewens van die armes red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle red.” – Psalm 72:12-14.
Leer meer oor God se Koninkryk, die hemelse regering met Jesus as leier. Vind uit hoe hierdie regering jou kan help en hoe jy dit kan ondersteun.
Kyk na die video Wat is God se Koninkryk?
Lees die artikel “God se Koninkryk—’n Regering sonder korrupsie”.