KAMAL VIRDEE | LEWENSVERHAAL
“Ek het nog altyd ’n vurige sin vir geregtigheid gehad”
In Augustus 1973 het ek en my twee susters die “Goddelike Oorwinning”- internasionale byeenkoms in Twickenham, Engeland, bygewoon. Daar het ons broer Edwin Skinner ontmoet, wat vanaf 1926 as ’n sendeling in Indië gedien het. Nadat hy uitgevind het dat ons Pandjabi praat, het hy gesê: “Wat soek julle hier? Kom Indië toe!” So, dit is wat ons gedoen het, en dit was die begin van my werk in die Pandjabi-veld. Maar kom ek verduidelik wat voor daardie gesprek gebeur het.
Ek is in April 1951 in Nairobi, Kenia, gebore. My ouers was van Indië en het aan die Sikh-godsdiens behoort. Omdat my pa sy skoonsuster wat ’n weduwee was as sy tweede vrou geneem het, het hy twee vrouens gehad. Sy eerste vrou, my ma, het geen sê in die saak gehad nie. My ma en stiefma het dikwels min of meer dieselfde tyd kinders gehad. So, ek het grootgeword met baie broers, susters en halfbroers en -susters sowel as ’n neef. Ons was altesaam sewe kinders. In 1964, net nadat ek 13 geword het, het my pa gesterf.
Op soek na geregtigheid
Terwyl ek grootgeword het, het ek baie stryery en voortrekkery gesien. Later terwyl ek die Bybel studeer het, het ek besef dat ons gesinslewe soortgelyk aan die verslag van Lea en Ragel in die Bybel is. Ek het agtergekom dat my gesinslede die Keniane wat vir ons gewerk het, sleg behandel het omdat ons geleer is om hulle as minderwaardig te beskou. My pa wou gehad het dat ons vriende moes maak met ons Europese bure en het gesê dat ons by hulle kon leer. Maar hy het ons gevra om nie met swart mense te assosieer nie omdat hy gedink het dat ons niks by hulle kon leer nie. Hy het ook vir ons gesê om nie vriende te wees met mense van Pakistanse afkoms nie, maar hulle eerder as ons vyande te beskou. Ek het nog altyd ’n vurige sin vir geregtigheid gehad, en ek het nie met my pa se manier van dink saamgestem nie.
Sikhisme is teen die einde van die 15de eeu deur Ghoeroe Nānak gestig. Ek het Nānak se leringe aanvaar, insluitende die idee dat daar een ware God is. Maar die ongeregtighede wat ek oral in die Sikh-gemeenskap gesien het, het my laat dink dat daar ’n probleem met die godsdiens is.
Dit was nie die enigste ding wat my bekommer het nie. Aangesien Sikhisme net ’n paar honderd jaar oud was, het ek dikwels gewonder: ‘Wat was voor dit? Wat was die heel eerste manier van aanbidding wat God goedgekeur het?’ Ons gesin het kalenders met prente van die tien historiese Sikh-ghoeroes opgehang. Maar ek het gewonder: ‘Hoe weet ons eintlik hoe hulle gelyk het? Hoekom moet enige iemand voor prente van die ghoeroes neerbuig soos my gesin en ander gedoen het, terwyl die ghoeroes self gesê het dat ons die een ware God moet aanbid?’
In 1965, toe ek 14 was, het ons gesin Indië toe getrek. Lewe daar was moeilik omdat ons nie baie geld gehad het nie. Omtrent ’n jaar later het ons Leicester, Engeland, toe getrek. Maar ons kon net bekostig dat twee van ons op ’n slag trek.
Op die ouderdom van 16 het ek verskillende werke gehad wat handearbeid vereis het. Ek het ook aandskool bygewoon om aan te gaan met my opvoeding wat onderbreek is. Maar ek het diskriminasie in die werksplek gesien. Byvoorbeeld, Engelse werkers is meer as immigrante betaal. My sin vir geregtigheid het my gemotiveer om ’n jong vakbondaktivis te word. Ek het georganiseer dat immigrantevroue staak vir gelyke betaling. Ek wou gehad het dat die wêreld ’n regverdige plek moes wees.
Ek kry die antwoord
Ek het Jehovah se Getuies vir die eerste keer in 1968 ontmoet toe twee Getuiemans aan my deur geklop het. Ek het onmiddellik van die belofte gehou dat die Koninkryk gelykheid vir almal sal bring. Een van die Getuies het saam met sy vrou teruggekom. Ek, my suster Jaswinder en my halfsuster Chani het die Bybel begin studeer. Nadat ons net ses hoofstukke studeer het, was ons oortuig dat Jehovah die ware God is, dat die Bybel Sy Woord is en dat net die Koninkryk ware geregtigheid vir almal kan bring.
Maar ons het wrede familieteenstand ondervind. Ná my pa se dood het my halfbroer die gesinshoof geword. My stiefma het hom aangemoedig om ons teen te staan. Hy het my jonger susters Jaswinder en Chani geslaan en hulle met veiligheidstewels geskop. Hy het geweet dat ek, as ’n 18-jarige, wetlike regte gehad het, maar het aangeneem dat hy met my susters kon doen wat hy ook al wou. Eenkeer het hy ’n Bybel gevat, dit oopgemaak, die bladsye aan die brand gesteek en dit in hulle gesigte gedruk en gesê: “Vra julle Jehovah om die vlamme te blus!” Gedurende daardie tyd het ons ’n paar vergaderinge in die geheim bygewoon. Ons wou regtig die enigste ware God, Jehovah, dien. Maar dit het onmoontlik gelyk onder ons omstandighede. So, ons het planne begin maak om die huis te verlaat en weg te hardloop na ’n veilige plek toe. Hoe?
Ons het in die geheim geld begin spaar wat ons vir middagete en die bus gebruik het, sowel as ’n gedeelte van my salaris, wat ek aan my stiefma moes gee. Ons het drie tasse gekoop wat ons in ’n sluitkas weggesteek het en geleidelik ons klere daarin gepak. In Mei 1972, toe Jaswinder amper 18 was en ons 100 pond (R4 800) gehad het, het ons ’n trein na Penzance in die suidweste van Engeland gevat. Nadat ons in Penzance aangekom het, het ons die plaaslike Getuies van ’n telefoonhokkie af gebel. Die broers het ons liefdevol verwelkom. Ons het ’n verskeidenheid werke gekry, insluitende om vis skoon te maak, sodat ons ’n plek kon huur en daar bly.
Ons het aangehou om die Bybel saam met ’n ouer paartjie, Harry en Betty Briggs, te studeer. In September 1972, terwyl ons nog vir ons familie weggekruip het, is ons in ’n klein swembad by die Koninkryksaal in Truro gedoop. Chani het begin pionier, en ek en Jaswinder het haar finansieel ondersteun.
Ons dien waar daar hulp nodig is
Al was Harry en Betty in hulle laat tagtigerjare het hulle gereeld na die Scilly-eilande, naby die suidweskus van Engeland, gegaan om te preek. Hulle voorbeeld het gemaak dat ons iets soortgelyks wil doen. Daarom, in 1973, ná ons gesprek met broer Skinner, soos beskryf in die inleiding, het ons geweet wat om te doen.
In Januarie 1974, het ons eenrigtingkaartjies na Nieu-Delhi, Indië, gekoop waar broer Dick Cotterill ons toegelaat het om as gaste in die sendinghuis te bly. Chani was ’n gewone pionier terwyl ek en Jaswinder baie meer tyd in die bediening spandeer het.
Uiteindelik is ons na Pandjab, ’n deelstaat in die noordweste van Indië, gestuur. Daar het ons ’n ruk lank in ’n sendinghuis in die stad Chandigarh gebly, en later het ons ’n woonstel gehuur. In September 1974 het ek begin pionier en in 1975 is ek genooi om ’n spesiale pionier te word. Om te preek het my gehelp om te besef dat daar ’n groot behoefte vir publikasies in Pandjabi is sodat meer mense oor Jehovah se liefde en geregtigheid kon leer. In 1976 het die takkantoor in Indië die drie van ons genooi om te help om publikasies in Pandjabi te vertaal. Sonder tikmasjiene of rekenaars was dit baie harde werk. Ons moes die vertaalde teks met die hand skryf en dit self nagaan en proeflees. Dan het ons saam met ’n plaaslike drukkery gewerk wat outydse masjiene gehad het waar hulle die teks met die hand een letter op ’n slag in plek gesit het.
Ons gemeente in Chandigarh, Pandjab, Indië
Vreugdevol ten spyte van gesondheidsprobleme
Ons omstandighede het nogal vinnig verander. Jaswinder het ’n broer ontmoet wat haar man geword het en hulle het Kanada toe getrek. Chani het met ’n Duitse broer van die Verenigde State wat kom kuier het, getrou en soontoe getrek. Ek het baie siek geword en in Oktober 1976 teruggegaan Engeland toe. My eie ma en broer, wat nie die waarheid teëgestaan het nie, het in Leicester gebly en my liefdevol toegelaat om by hulle te bly. Ek is met ’n baie skaars outo-immuunsiekte wat bloedselle beskadig, gediagnoseer. Ek het verskeie behandelings nodig gehad, insluitende die verwydering van my milt. Ek moes ophou pionier.
Ek het opreg tot Jehovah gebid en gesê dat ek weer met voltydse diens sal begin as ek gesond genoeg word. En ek het! Ten spyte van terugslae het ek in 1978 Wolverhampton toe getrek en in ’n gebied waar mense hoofsaaklik Pandjabi praat, gepionier. Ons het uitnodigings vir die vergadering met die hand geskryf en by plaaslike winkels afskrifte daarvan gemaak. Ons het dit toe aan mense uitgedeel wat Pandjabi praat en hulle na die openbare toespraak genooi. Brittanje het nou vyf Pandjabi-gemeentes en drie groepe.
Die takkantoor in Brittanje het geweet dat ek as ’n Pandjabi-vertaler in Indië gewerk het. So, die takkantoor het my in die laat 1980’s gekontak. Ek het as ’n pendelaar by Bethel in Londen begin dien om te help om tikfonte en sagteware voor te berei en om die reëls vir die gebruik van die Gurmukhi-alfabet in ons publikasies op te stel. Ek het ’n baie besige rooster gehad omdat ek gewerk het, vir my ma gesorg het wat ’n hele ent daarvandaan gebly het en as ’n pendelaar by Bethel gedien het. Maar dit was wonderlik om by Bethel te kon werk.
Ek word in die laat 1980’s by Bethel in Londen opgelei
In September 1991 is ek genooi om deel van die Bethelgesin te word en om Bybelpublikasies in Pandjabi te vertaal. Dit was heeltemal onverwags. Ek het ongekwalifiseerd gevoel, het ’n siekte gehad en was oor die ouderdomsvereiste vir ’n nuwe Betheliet. Maar Jehovah het vir my hierdie wonderlike voorreg gegee. Terwyl ek vreugdevol by Bethel gedien het, het my gesondheidsprobleme aangehou. Ek het baie keer voor die bloedkwessie te staan gekom terwyl ek chemoterapie en ander behandelings ontvang het. My hematoloë was so beïndruk met hoe goed ek herstel het dat ek genooi is om ’n seminaar met omtrent 40 mediese deskundiges by ’n groot hospitaal in Londen by te woon. Ek het 10 minute lank gepraat oor hoekom ek nie bloed aanvaar nie. Dit was gevolg deur ’n vraag-en-antwoord-sessie wat deur ’n broer van die Hospitaalinligtingsafdeling gehou is.
Gedurende hierdie moeilike tye het my susters Jaswinder en Chani my liefdevol gehelp, en ek waardeer baie die ondersteuning en liefde van die Bethelgesin en ander vriende. Jehovah het my die krag gegee om deur al my probleme aan te hou met my toewysing. – Psalm 73:26.
Die seën van Jehovah maak ryk
Die afgelope 33 jaar by Bethel het my in staat gestel om te ‘kom ondervind en self te sien dat Jehovah goed is’ (Psalm 34:8; Spreuke 10:22). Die voorbeelde van getroue bejaardes inspireer my. Dit het my baie bly gemaak om te sien hoe baie van my Pandjabi-Bybelstudente lojale knegte van Jehovah geword het. Ek het ’n goeie verhouding met my naaste familielede. My ma en broer is nie Getuies nie, maar my ma sê dikwels: “Jy is regtig toegewyd aan God.” En toe ek aangebied het om Bethel te verlaat om voltyds vir ons bejaarde ma te sorg, het my broer gesê: “Jy is besig om ’n goeie werk te doen. Bly daar.” Al bly my ma in ’n verpleeginrigting ver van Bethel af, gaan kuier ek vir haar so gereeld as wat ek kan.
Wanneer ek ook al voor ’n moeilike tyd in my lewe te staan gekom het, het ek in my gedagtes vir myself gesê: ‘Moenie bang wees nie, Kamal. Jehovah is ’n skild vir jou. Jou beloning sal baie groot wees’ (Genesis 15:1). Ek dank Jehovah, die “God van geregtigheid”, omdat hy my as ’n jong meisie raakgesien het en vir my my hele lewe lank betekenisvolle werk gegee het (Jesaja 30:18). En ek sien uit na die tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”. – Jesaja 33:24.
By Bethel in Chelmsford