Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 12/22 bl. 15-17
  • Hoe kan ek gelukkig wees met net een ouer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek gelukkig wees met net een ouer?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kwaliteit—nie kwantiteit nie
  • Hoe om met minder klaar te kom
  • Hoe om oorlading die hoof te bied
  • Kan ek gelukkig wees in ’n enkelouergesin?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Sal ek normaal wees met net een ouer?
    Ontwaak!—1990
  • Hoe kan ek my enkelouer help?
    Ontwaak!—1991
  • Hoe moet ek my ouer behandel wat die huis verlaat het?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 12/22 bl. 15-17

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek gelukkig wees met net een ouer?

“Kinders met twee ouers het hulle eie kamer en koop nuwe klere. Maar ek moet ’n kamer deel; ek kry omtrent nooit die soort klere waarvan ek hou nie. My ma sê sy kan dit nie bekostig nie. Met al die take wat ek by die huis moet doen terwyl sy werk, voel ek soos ’n bediende—so asof ek van ’n deel van my kinderjare beroof word.”—Shalonda, 13 jaar oud.

DIE tweeouerhuis is ideaal. Twee liefdevolle ouers kan gewoonlik beter leiding, beskerming en ondersteuning bied as een. “Twee is beter daaraan toe as een” sê die Bybel, “want saam kan hulle doeltreffender werk.”—Prediker 4:9, Today’s English Version.

Dit verbaas ons dan nie dat, nieteenstaande die skerp styging in enkelouerhuishoudings, baie jeugdiges hulle skaam om in sulke gesinne te woon nie. Hulle voel moontlik dat hulle nie gereed is om die druk en probleme te hanteer wat met so ’n leefwyse gepaard gaan nie. Wat staan jou te doen as omstandighede buite jou beheer jou die liefde en sorg van een van jou ouers ontneem? Is jy tot ellende gedoem? Glad nie.

Baie hang af van jou beskouing van die situasie. Spreuke 15:15 sê: “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.” In ooreenstemming met hierdie beginsel sê dr. Helen Mendes: “Enkelouergesinne moet hulleself as ’n span beskou en hulleself as volwaardige gesinne aanvaar”, nie as gebroke huisgesinne nie. Sy voeg by: “Sulke gesinne het ’n totaal ander gesindheid en uitkyk op die lewe wanneer hulle begin om hulleself as sosiaal aanvaarbare eenhede te beskou.” Maar is dit realisties om so ’n positiewe beskouing te hê?

Kwaliteit—nie kwantiteit nie

Navorsers vir die tydskrif Family Relations bring die volgende onder ons aandag: “Die teenwoordigheid van twee ouers in ’n huis is geen waarborg dat liefde, behoorlike opvoeding en wyse leiding voorsien word nie.” Hulle merk ook op: “’n Ouer wat fisies in ’n huis teenwoordig is, kan ook ’n groot deel van die tyd psigologies [verstandelik] afwesig wees.” Jou geluk hang gevolglik nie af van hoeveel ouers saam met jou woon nie, maar van die soort ouer of ouers in die huis en van hulle belangstelling in en besorgdheid oor jou welsyn. Soos sielkundige Richard A. Gardner opgemerk het: “Slegte ouers, hetsy een of twee, maak kinders ongelukkig; en goeie ouers, hetsy een of twee, help kinders om gesonder en gelukkiger op te groei.” Enkelouers wend dikwels bewonderenswaardige pogings aan om hulle kinders die nodige aandag te gee.

Sewentienjarige Melanie sê: “Dinge was nie altyd maklik sedert my pa ons verlaat het nie. Dit is regtig moeilik vir my ma omdat sy nou werk. Maar ons woon ons Christelike vergaderinge by en hou gereelde Bybelstudies, iets wat ons selde gedoen het toe my pa nog by ons was.” Sy voeg by: “Ons doen nou meer dinge as gesin, en ons is baie na aan mekaar. Natuurlik mis ek my pa, maar ek is baie gelukkig by my ma.” As jou enkele ouer ’n soortgelyke poging aanwend om jou in “die tug en vermaning van die Here” op te voed, kan jy steeds floreer en gedy al is jou gesinstruktuur nie ideaal nie.—Efesiërs 6:4.

Hoe om met minder klaar te kom

Daar is egter ’n paar praktiese probleme wat kan opduik. Een ondersoek het aan die lig gebring dat ’n enkelouerhuishouding onmiddellik na ’n egskeiding ’n daling van 73 persent in sy lewenspeil kan ervaar. Dit is dan ook te verstane dat geld ’n groot probleem in die meeste enkelouergesinne is.a

Wat kan jy doen? Jy het waarskynlik min beheer oor jou gesin se geldsake. Maar jy kan help om die middele tot julle beskikking te bewaar en langer te laat hou deur vermorsing te vermy. (Vergelyk Johannes 6:12.) Jong Rodney sê: “By die huis probeer ek om versigtig te wees om nie goed te breek of te laat rondlê nie omdat dit geld kos om dit reg te maak of te vervang. Ek probeer om elektriese toebehore of ligte wat nie gebruik word nie, af te skakel. Dit help om ons elektrisiteitsrekening laer te hou.”

Veertienjarige Tony probeer ’n ander benadering. Hy sê: “Die kinders in my skool dring daarop aan dat hulle ouers vir hulle ontwerperskoene en -klere koop. Hulle weier om daarsonder skool toe te gaan.” Tony sê verder: “Ek het nie die jongste ontwerpersklere nie, maar ek is netjies en skoon, en ek pas wat ek het op. My ma doen haar bes; ek wil dit nie vir haar moeiliker maak nie.” Wanneer ’n mens so medelydend is, dien dit nie net om beperkte middele te bewaar nie, maar is dit ook ’n ware bron van aanmoediging vir ’n ouer.—1 Petrus 3:8.

’n Mens kan ook help deur minder versnaperings of prulkos te eet of dit heeltemal uit te skakel. Jong Rita merk op: “Om by die huis te eet is nou wel nie so lekker as om by ’n kitskosrestaurant te eet nie, maar dit bespaar geld.” Inderdaad ’n verstandige gevolgtrekking! Ander jongmense dra ’n gedeelte van hulle verdienste uit deeltydse werk tot die gesin se fondse by. Dertienjarige Danny gee vir sy ma die geld wat hy verdien deur koerante af te lewer. Sy moeder verduidelik: “Nadat ek die huisverband, die elektrisiteit en die telefoon betaal het en kos en klere gekoop het, is dít die geld waarvan ons moet lewe. En Danny is regtig ’n dierbare kind; dit pla hom nie regtig nie.” Sulke samewerking is een manier om ‘jou ouer te eer’.—Mattheüs 15:4.

Voordat jy egter ’n deeltydse werk soek, bespreek die saak met jou ouer.b ’n Deeltydse werk kan inbreuk maak op jou skoolwerk, jou verpligtinge tuis en op jou bywoning van Christelike vergaderinge (Hebreërs 10:24, 25). Ouers kan gewoonlik ’n manier prakseer om hulle kinders te onderhou sonder dat die kinders ’n groot deel van die verantwoordelikheid op hulle hoef te neem. Nogtans moet jy miskien met ’n beperkte inkomste klaarkom. Maar onthou dat hoewel materiële dinge en geld nuttig is, Christene gemaan word om vergenoeg te wees met “voedsel en klere”.—1 Timotheüs 6:8-10; Lukas 12:15.

Dit kan byvoorbeeld vir jou gesin nodig wees om van ’n groter na ’n kleiner huis of na ’n woonstel te trek, wat kan beteken dat jy ’n kamer met ’n ander gesinslid moet deel. Maar jy kan steeds vergenoeg wees. En met ’n bietjie vindingrykheid kan jy ’n mate van privaatheid behou. Party gesinne het byvoorbeeld in die woonvertrek ’n slaapsolder gebou wat agter ’n boekrak versteek is. ’n Bietjie organisering van die beskikbare ruimte, of deur ’n kamerskeiding te gebruik, kan jy minstens nog ’n gevoel van privaatheid behou.

Hoe dit ook al sy, sielkundige Richard A. Gardner herinner enkelouer-jongmense: “Dit is belangrik om in gedagte te hou dat geld—en die dinge wat geld kan koop—nie die belangrikste dinge in die lewe is nie. Dit is . . . dinge soos die soort persoon wat jy is en hoe jy teenoor ander mense optree wat sal bepaal hoe gelukkig jy in die lewe gaan wees.” (Vergelyk Handelinge 20:35.) In dieselfde verband het die apostel Paulus gesê: “Ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.”—Filippense 4:11.

Jy sal moontlik ook groter verantwoordelikheid moet aanvaar vir die vlot verloop van sake tuis as wat nodig sou gewees het indien jy in ’n tweeouerhuis gewoon het. Maar pleks van dit negatief te beskou, probeer om dit te sien as ’n geleentheid om enersyds jou ouer te help en andersyds jouself vir toekomstige verantwoordelikhede toe te rus.

Hoe om oorlading die hoof te bied

Soms gebeur dit egter dat ’n jong persoon met meer verantwoordelikheid belas word as wat hy of sy kan dra. Dit kan veral gebeur as jy die oudste kind is. Wat moet jy doen? Probeer om met jou ouer daaroor te praat en verduidelik hoe hierdie probleem jou raak. Jy kan miskien voorstel dat die take regverdiger verdeel word. Party gesinne het byvoorbeeld ’n lys wat aantoon watter take elke gesinslid moet doen. Om te voorkom dat net een van hulle voortdurend met die onaangenamer take opgesaal sit, roteer sommige gesinne gereeld die take onder die bevoegde lede van die gesin.

Die voorgaande voorstelle kan jou help om jou met jou omstandighede te versoen. Dit beteken egter nie dat jy nie soms sal wens dat jy ’n tweede ouer by die huis gehad het nie. Maar ’n jong persoon met die naam Carrie stel dit soos volg: “Jy kom die pyn nooit regtig te bowe nie, maar dit neem af. Dis soos ’n groot sproet op jou hand. Dit is altyd daar, maar partykeer sien jy dit nie raak nie.”

Baie hang egter af van hoe hard jy probeer om jou omstandighede die hoof te bied. Want ten spyte van die nadele daarvan om in ’n enkelouerhuis te woon, kan jy help om jou lewe daar suksesvol en vreugdevol te maak!

[Voetnote]

a Enkelouerhuise met ’n pa aan die hoof vaar geldelik beter as dié met ’n ma aan die hoof omdat (1) mans ’n hoër inkomste verdien, en (2) vaders wat nie toesig oor kinders het nie dikwels versuim om onderhoud of kinderbystand te betaal.

b Ontwaak! se nommers van 22 November 1990 en 8 Desember 1990 bespreek die kwessie van naskoolse werk in meer besonderhede.

[Prent op bladsy 16]

Een manier waarop jy jou ouer tyd en geld kan bespaar, is om jou eie middagete voor te berei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel