Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 9/1 bl. 7-10
  • Bevryding van die juk van spiritisme

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bevryding van die juk van spiritisme
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My agtergrond
  • Die eerste ontmoeting
  • Hewiger aanvalle
  • Ek soek na genesing
  • “Dit is jou einde”
  • Die finale stryd
  • Soos ’n sterk toring
  • Ek neem my standpunt in
  • Van ellende tot geluk
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
    Ontwaak!—1995
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe daar van demooninvloed weggebreek is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 9/1 bl. 7-10

Bevryding van die juk van spiritisme

’N RAMP het ons gesin getref toe ek ’n 14-jarige meisie was. ’n Boosaardige moordenaar het toe begin om my familielede uit te moor. Sy eerste slagoffers was my suster se kinders—al nege. Toe het hy teen haar man gedraai. Kort daarna het hy een van my susters ook doodgemaak. Nog vier van my broers en susters het gevolg, totdat net ek en my moeder oorgebly het. O, ek was verskriklik bang!

In die daaropvolgende jare het ek daagliks in vrees geëet, gewerk en geslaap. Ek het gewonder: ‘Wanneer gaan hy toeslaan? En wie sal volgende wees—Ek of Moeder?’

My agtergrond

Laat ek jou van my agtergrond vertel om jou te help om te verstaan wat later gebeur het. Ek is in 1917 as ’n lid van die Paramaccaner-Bosnegerstam op ’n eiland aan die Maronirivier in Suriname gebore. My voorvaders was den lowenengre, of voortvlugtige slawe, wat in die oerwoud ingevlug het om op ’n manier ’n moeilike maar vrye bestaan te maak. Wel, dit was in werklikheid ’n lewe vry van die slawerny aan mense, maar nie vry van die demone nie.

Die daaglikse lewe in ons dorp is deur demon- en vooroueraanbidding oorheers. Sommige mense het wisi, swartkuns, gebruik om ander te betower en siekte en die dood oor hul medemens te bring, of hulle het die hulp van ’n koenoe, ’n plaer, ingeroep. Hierdie plaers is glo mense wat deur ’n familielid mishandel is. Na hul dood keer hulle kwansuis na die familie terug om wraak te neem. Maar hierdie plaers is in werklikheid verdorwe demone wat mense dwing om hulle te aanbid.

As lidmaat van die Evangeliese Broedergemeente, ’n Protestantse kerk, het ek ook iets omtrent God geleer. Hoewel ek nooit vertel is hoe om hom te aanbid nie, was die ‘reënwoud om my oorvloedige bewys dat hy ’n goeie Voorsiener is. ‘Ek wil ’n goeie God aanbid, maar nie ’n bose gees wat lyding veroorsaak nie’, het ek geredeneer. Ek het geweet dat plaers dit geniet om hulle onwillige slagoffers dood te martel.

Stel jou voor hoe geskok ek was om uit te vind dat vyande van ons familie ’n koenoe na ons gestuur het. Ek was 14 ‘jaar oud toe hy met sy dodelike taak begin het. Ses-en-twintig jaar later het net ek en Moeder oorgebly.

Die eerste ontmoeting

Moeder was ’n harde werker. Terwyl sy eendag na haar plaas geloop het, is sy platgeslaan en kon sy nie opstaan nie. Die koenoe het my moeder gekies. Haar gesondheid het agteruitgegaan en sy het lam geword. Sy het hulp nodig gehad—my hulp. Maar ek het in tweestryd verkeer tussen liefde vir haar en vrees vir die demon wat in haar gevaar het. Gedurende die aanvalle van die koenoe het arme Moeder egter so van die pyn geskreeu dat ek dit nie langer kon verduur nie en haar probeer troos het deur haar met haar kop op my skoot te laat lê. Sy het tot bedaring gekom, maar ek het gevoel hoe “hande” my liggaam druk.

Toe ek wou vlug, het Moeder weer geskreeu. Ek het dus om haar ontwil gebly en my eerste sidderende ontmoeting met hierdie moordenaar verduur. Ek was 40 jaar oud.

Hewiger aanvalle

Moeder het gesterf. Net drie dae later het ek ’n vriendelike stem gehoor sê: “Lintina, Lintina, hoor jy my nie? Ek roep jou.” Dit was die begin van so ’n groot lyding dat ek vurig na ’n vinnige dood verlang het.

Aanvanklik het die demon my net lastig geval wanneer ek gaan slaap het. Wanneer ek begin insluimer het, het die stem my wakker gemaak en oor begraafplase en die dood gepraat. Die gebrek aan slaap het my swak laat voel, hoewel ek aangehou het om my kinders te versorg.

Later het die demon se aanvalle hewiger geword. Dit het etlike kere gevoel asof hy my verwurg. Hoewel ek probeer het om weg te hardloop, kon ek nie, want dit het gevoel asof ’n swaar gewig op my liggaam rus. Ek wou skreeu, maar kon nie ’n geluid uitkry nie. Ek het nietemin geweier om my aanvaller te aanbid.

Nadat ek van elke aanval herstel het, het ek my boerdery voortgesit. Ek het kassawe en suikerriet verbou en dit by die mark in ’n klein kusdorpie verkoop. Dit het makliker geword om ’n bestaan te maak, maar my ergste lyding het nog voorgelê.

Ek soek na genesing

Eendag het ek die demon hoor voorspel: “Ek sal jou maag soos ’n bal laat swel.” ’n Ruk later was daar ’n harde knop in my maag wat groter geword het totdat dit gelyk het asof ek swanger is. Ek was baie bang en het gewonder: ‘Kan God, die Skepper, my help om van die koenoe ontslae te raak? Kan Hy ’n goeie en sterker gees stuur om hom weg te jaag?’ Ek het na ’n bonoeman, ’n toordokter, gegaan om uit te vind.

Die eerste toordokter het my tapoes, of gelukbringers, gegee, maar die swelsel het gebly. Vasbeslote om ’n genesing te vind, het ek van een bonoeman na die ander gereis—alles tevergeefs. Tussen daardie besoeke deur het ek aangehou boer om geld te kry om die bier, wyn, sjampanje en lendedoeke te koop om die toordokters te betaal. Hulle het my dikwels aangeraai: “Kniel voor die koenoe. Smeek hom as jou meester. Aanbid hom, en hy sal jou met rus laat.” Maar hoe kon ek kniel voor ’n gees wat my gemartel het en wou doodmaak? Ek kon nie.

Maar uit wanhoop het ek al die ander dinge gedoen wat die toordokters my aangesê het. Een van hulle het my vyf maande lank behandel. Hy het my in kruie laat bad en het die sap van 11 verskillende plante in my oë uitgedruk—“om hulle te reinig”, het hy gesê terwyl ek van die pyn geskreeu het. Maar aan die einde van die behandeling het ek brandarm, mishandel en sieker as ooit huis toe gegaan.

“Dit is jou einde”

Een van my seuns, wat in Nederland woon, het vir my geld gestuur om my soektog na hulp voort te sit. Ek het derhalwe na ’n mediese dokter in die hoofstad gegaan. Na ’n ondersoek het hy gesê: “Ek kan jou nie help nie. Gaan raadpleeg ’n bonoeman.” Ek het gevolglik na ’n medium van Oos-Indiese afkoms gegaan—maar dit het weer eens nie gehelp nie. Ek het huiswaarts gekeer, maar het net tot in die hoofstad gekom, waar ek die huis van een van my dogters bereik het. Daar het ek inmekaargesak—platsak en siek. Ek het 17 jaar en 15 000 gulden aan ’n vergeefse soektog na genesing bestee. Ek was 57 jaar oud.

Vervolgens het die demon my gedreig: “Ek is klaar met jou. Dit is jou einde.”

“Maar jy is nie God nie, jy is nie Jesus nie”, het ek uitgeroep.

“Selfs God kan my nie keer nie”, het die demon geantwoord. “Jou dae is getel.”

Die finale stryd

’n Paar weke het verbygegaan. Meena, ’n buurvrou wat ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies was, het my dogter gevra hoe dit met my gaan en gesê: “Jou moeder kan gehelp word, maar net deur die Bybel.” Ek het die gesprek gehoor en na hulle toe gestap. Maar voordat ek hulle bereik het, is ek op die grond neergewerp. Meena het vinnig na my toe gekom en gesê: “Daardie demon sal jou nie met rus laat nie. Die enigste een wat jou kan help, is Jehovah, niemand anders nie.” Toe het sy saam met my tot Jehovah God gebid en my begin besoek. Maar hoe meer sy my besoek het, hoe hewiger, was die demon se aanvalle. Gedurende die nag het my liggaam so kwaai geskud dat niemand in die huis kon slaap nie. Ek het opgehou eet en daar was oomblikke dat ek my verstand heeltemal verloor het.

My toestand het so ernstig geword dat my seuns uit die binneland gekom het om my na my dorp terug te neem sodat ek daar kon sterf. Ek was te swak om te reis en het geweier. Maar omdat ek gevoel het dat die dood nader kom, het ek die Getuie geroep om haar te groet. Meena het aan die hand van die Bybel verduidelik dat daar die opstandingshoop is al sou ek sterf.

“Opstanding? Wat bedoel jy?”

“God kan jou tot lewe in die Paradys opwek”, het sy geantwoord. ’n Straal van hoop!

Daardie selfde aand het die demon egter in my ingevaar. Ek was in ’n beswyming en het gesien hoe ’n klomp mense die koenoe volg. Hy het spottend gesê: “Sy dink sy gaan ’n opstanding kry.” Die mense het gelag en gelag. Maar toe het ek iets gedoen wat ek nog nooit tevore gedoen het nie. Ek het uitgeroep: “Jehovah! Jehovah!” Dit was al wat ek kon sê. En die demon het weggegaan!

My seuns het weer gekom en my gesmeek: “Mamma, moenie in die stad sterf nie. Laat ons jou na jou dorp toe neem.” Ek het geweier, want ek wou meer omtrent Jehovah leer. “Goed, miskien sal ek nog steeds sterf”, het ek vir hulle gesê, “maar ek sal die Skepper dan ten minste gedien het.”

Soos ’n sterk toring

Meena en ander Getuies het aangehou om my te besoek. Hulle het my geleer om tot Jehovah te bid. Hulle het my onder andere vertel van die geskil tussen Jehovah en Satan en hoe die Duiwel Job beproef het om hom oor te haal om God te verloën. Hierdie kennis het my vasbeslotener gemaak om die demon nooit te aanbid nie. Die Getuies het ’n teks gelees wat vir my kosbaar geword het: “Die Naam van [Jehovah] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”—Spreuke 18:10, vgl. NW.

Ek het my krag stadig herwin. Toe my seun teruggekeer het, het ek hom gevra om buite te wag. Ek het aangetrek en ’n bloes in my romp ingesteek om te wys dat die swelsel amper weg was. Toe het ek na buite gestap.

“Is dit mamma Lintina?” het my seun gevra.

“Ja, dit is—danksy Jehovah, my God!”

Ek neem my standpunt in

Toe ek ’n bietjie kon loop, het ek dadelik na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gegaan. Daar het die vriende my so baie bemoedig dat ek nooit opgehou het om vergaderinge by te woon nie. ’n Paar maande later het ek die Getuies in die openbare predikingswerk vergesel. Ek is kort daarna gedoop en het ’n kneg van Jehovah, my liefdevolle Verlosser, geword. Ek was 58 jaar oud.

Maar ek moes nog iets doen. Ek het jare vantevore, in my hut in die dorp, ’n altaar gebou waarop ek offers aan my voorouers kon bring. Ek moes dit vernietig om geestelik rein te wees. Ek het Jehovah om hulp gevra, aangesien my optrede ’n opskudding onder die dorpenaars sou veroorsaak. Toe ek by my hut gekom en die deur oopgemaak het, het iemand uitgeroep: “Pingos!” (Wilde varke!). ’n Trop het oor die eiland getrek en in die rivier gespring om deur te swem. Onmiddellik het oud en jonk die dorp verlaat om hierdie maklike vangkans te benut. Ek was baie opgewonde en het gekniel om Jehovah vir hierdie ontwikkeling te bedank. Ek het die altaar inderhaas na buite gesleep, paraffien daaroor gegooi en dit aan die brand gesteek. Die altaar was uitgebrand voordat die mense teruggekeer het. Hulle het natuurlik uitgevind, maar hulle kon toe niks doen nie. Ek het dus met gemoedsrus na die hoofstad teruggekeer.

Van ellende tot geluk

Ek het nog seëninge ontvang. My seun in Nederland kon nie glo wat hy van my gehoor het nie en het na Suriname gevlieg om self te kom kyk. Hy was so bly om te sien dat ek gesond is dat hy vir my ’n pragtige huis in die hoofstad gekoop het, waar ek nou woon. Wat ’n verandering het ek tog ondergaan—van ’n brandarm slaaf van die demone tot ’n welversorgde kneg van Jehovah!

Elf jaar na my doop het ek nog meer rede tot dankbaarheid. Beweeg deur die talle seëninge wat ek ontvang het, het drie van my kinders en een skoonseun ook in Bybelwaarheid begin belangstel en uiteindelik hulle lewe aan Jehovah God toegewy. En ek het my ondervinding met demonisme herhaaldelik vertel wanneer broers en susters my saamgeneem het na hulle Bybelstudente wat nie die moed het om van die demone los te breek nie. So is selfs daardie verskriklike jare darem van nut in die Koninkrykspredikingswerk.

Ek het nie genoeg woorde om my dankbaarheid teenoor Jehovah, my God, uit te druk nie. Ek het gewis gesien hoe hy sy almag ten behoewe van my gebruik het. Jehovah was voorwaar goed vir my!—Vergelyk Psalm 18:17-19.

[Prent op bladsy 7]

Toe Lintina van Geenen van spiritisme losgebreek het, het sy geleer dat ‘die Naam van [Jehovah] ’n sterk toring is’

[Prent op bladsy 9]

Die agterland van Suriname waar baie mense deur spiritisme gevange gehou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel