Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 11/1 bl. 31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Hy het tot die einde toe volhard
    Volg hulle geloof na
  • Waardeer jy bejaarde medegelowiges?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 11/1 bl. 31

Vrae van lesers

Waarom het Elisa “twee dele” van Elia se gees gevra?

Net voordat Elia sy toewysing as profeet in Israel voltooi het, het die jonger profeet Elisa hom gevra: ‘Laat twee dele van u gees asseblief op my kom’ (2 Konings 2:9). In geestelike sin het Elisa blykbaar ’n dubbele porsie gevra, soos dié wat aan die eersgebore seun gegee is (Deuteronomium 21:17). ’n Kort oorsig van die verslag sal dit duidelik maak en ons help om lesse daaruit te leer.

Elia het in ooreenstemming met Jehovah se riglyne die profeet Elisa as sy opvolger gesalf (1 Konings 19:19-21). Elisa het Elia ongeveer ses jaar lank getrou gedien en was vasbeslote om dit tot die einde toe te doen. Selfs op Elia se laaste dag as ’n profeet in Israel het Elisa by sy mentor gebly. Hoewel Elia by Elisa aangedring het om hom nie verder te volg nie, het die jonger profeet drie keer gesê: “Ek sal u nie verlaat nie” (2 Konings 2:2, 4, 6; 3:11). Ja, Elisa het die ouer profeet as sy geestelike vader beskou.—2 Konings 2:12.

Elisa was egter nie Elia se enigste geestelike seun nie. Elia en Elisa het met ’n groep manne geassosieer wat as “die profeteseuns” bekend gestaan het (2 Konings 2:3). Die verslag in Tweede Konings toon dat hierdie ‘seuns’ ook ’n hegte band met hulle geestelike vader, Elia, gehad het (2 Konings 2:3, 5, 7, 15-17). Maar as die gesalfde opvolger was Elisa die vernaamste onder Elia se geestelike seuns—hy was soos die eersgeborene. In eertydse Israel het ’n letterlike eersgebore seun twee dele van sy vader se erfenis ontvang, terwyl die ander seuns elkeen een deel ontvang het. Daarom het Elisa twee dele van Elia se geestelike erfenis gevra.

Waarom het Elisa op dié spesifieke tyd hierdie versoek gerig? Omdat hy op die punt was om ’n gewigtige taak aan te pak—naamlik om Elia as profeet in Israel op te volg. Elisa het besef dat die verantwoordelikhede van hierdie oorweldigende toewysing groter geestelike krag sou verg as wat hy gehad het—krag wat slegs Jehovah kon voorsien. Hy moes so vreesloos soos Elia wees (2 Konings 1:3, 4, 15, 16). Hy het dus twee dele van Elia se gees gevra, ’n gees van moed en ’n gees wat hom “absoluut jaloers ten opsigte van Jehovah” sou maak—begeerlike eienskappe wat deur God se gees voortgebring word (1 Konings 19:10, 14). Wat was Elia se reaksie?

Elia het geweet dat Elisa iets gevra het wat nie hy nie, maar slegs God hom kon gee. Daarom het Elia beskeie geantwoord: “Jy het iets moeiliks gevra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, sal dit so met jou gebeur” (2 Konings 2:10). En Jehovah het Elisa inderdaad toegelaat om Elia in ’n windstorm te sien opvaar (2 Konings 2:11, 12). Elisa se versoek is toegestaan. Jehovah het hom die gees gegee wat hy nodig gehad het om sy nuwe taak aan te pak en toekomstige beproewinge die hoof te bied.

Vandag kan gesalfde Christene (wat soms die Elisa-klas genoem word) en God se knegte oor die algemeen baie bemoediging uit hierdie Bybelverslag put. By tye voel ons dalk oorweldig of onbevoeg wanneer ons ’n nuwe toewysing ontvang of ons verloor dalk moed om met ons Koninkrykspredikingswerk voort te gaan namate ons al hoe meer onverskilligheid of teenstand in ons gebied ondervind. Maar as ons Jehovah smeek om ons te onderskraag, sal hy ons heilige gees gee wanneer ons dit nodig het om uitdagings en veranderende omstandighede die hoof te bied (Lukas 11:13; 2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13). Ja, net soos Jehovah Elisa vir sy gewigtiger verantwoordelikhede versterk het, sal hy almal van ons, jonk en oud, help om ons bediening uit te voer.—2 Timoteus 4:5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel