Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 11/1 bl. 16-17
  • Die wildernis van Juda—dor maar fassinerend

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wildernis van Juda—dor maar fassinerend
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy het vir Israel in Sinai voorsien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Praktiese lesse uit die Beloofde Land
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Studie nommer 1—’n Besoek aan die Beloofde Land
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Kom op ’n uitstappie na die See van Galilea!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 11/1 bl. 16-17

Tonele uit die Beloofde Land

Die wildernis van Juda—dor maar fassinerend

HOE stel jy jou die wildernis van Juda in die Beloofde Land voor? Party dink aan ’n wyd uitgestrekte, digte woud. Ander dink aan ’n woestyn soos die Sahara met eindelose vlaktes sand.

Soos jy uit die foto hierbo kan sien, is albei hierdie voorstellings verkeerd. Hier sien jy ’n gedeelte van die wildernis wat met Jesus se bediening verband hou. Volgens tradisie het Satan Jesus “al die koninkryke van die wêreld” van hierdie heuweltop af gewys. Dit is aan die rand van die wildernis geleë en kyk uit oor die palmryke stad Jerigo in die Jordaanvallei na die ooste.—Mattheüs 3:1; 4:1-11.

Die wildernis van Juda strek van hierdie noordoostelike deel suidwaarts al langs die westelike kant van die Dooie See. Jy sal jou hierdie landstreek dalk makliker kan voorstel as jy na die voorblad van Jehovah se Getuies se kalender vir 1989 kyk. (Die kalender het ook ’n groot weergawe van die foto hierbo.) Die wildernis (16 tot 24 kilometer wyd) strek van die oostelike hange van die berge van Judea tot onder by die oewer van die Dooie See.

Daardie berge keer die meeste van die vog wat van die Middellandse See af kom. Die sagte, kaal kalkheuwels aan die oostekant kry dus min reën behalwe gedurende die wintermaande November en Desember. Gedurende daardie tyd spruit gras uit, wat aan troppe skape weiding verskaf. Die “skaapkrale” waarvan 1 Samuel 24:4 praat, pas dus goed by hierdie landstreek.

Die gras wat hier groei, hou nie lank nie. Oostewinde uit die woestyn laat die groen gras gou verdor. Hoe goed lig dit nie die profetiese woorde toe nie: “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”—Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:24, 25.

Miskien het Jesus aan hierdie teks gedink terwyl hy 40 dae en 40 nagte in hierdie wildernis geswerf het. Dink net hoe Jesus moes gevoel het onder die versengende son wat op die boomlose rotse en skeure neergeskroei het (Jesaja 32:2). Hoe begryplik dat daar later “engele gekom en Hom gedien” het!—Mattheüs 4:1-11.

Die wildernis van Juda is weens sy dorheid en onherbergsaamheid dikwels as ’n plek van toevlug gebruik. Toe Dawid vir toornige koning Saul gevlug het, het hy daar skuiling gevind en dit as “’n dor en uitgedroogde land, sonder water” beskryf (Psalm 63:1, 2; 1 Samuel 24:1). Hy het ’n ruk in ’n grot geskuil, dalk soos die Umm Qatafa-grot in Wadi Khareitoen (’n vallei wat oos van Betlehem in die rigting van die Dooie See loop) (Hebreërs 11:32, 38). In hierdie uitsig vanuit die grot kan jy regs onder sien hoe swart skape aan die yl plantegroei eet.

Dawid was in ’n grot in die streek Engedi toe Saul binnegekom het om sy behoefte te doen. Hoewel Dawid die slip van Saul se mantel afgesny het, wou hy nie “die gesalfde van die HERE” leed aandoen nie. Later het Dawid na Saul uitgeroep, miskien terwyl die koning onder tussen die welige plantegroei was (1 Samuel 24:1-23). ‘Welige plantegroei hier?’ wonder jy dalk.

Ja, hierdie wildernis kan bloei wanneer daar volop water is. Engedi is ’n voorbeeld. Water wat deur die poreuse rots syfer, word fonteine en watervalle in hierdie vallei wat op die westelike oewer van die Dooie See uitloop. Dit maak Engedi ’n ware boswêreld, ryk aan plantegroei. As jy daar besoek aflê, sal jy baie soorte blomme en vrugte teëkom. Jy sal miskien wilde diere sien, van klipdassies tot steenbokke; daar is selfs luiperds in die omgewing!—1 Samuel 24:3; Hooglied 1:14.

Die feit dat die dor wildernis van Juda so groen kan word, verryk ons begrip van Esegiël se gesig van water wat uit die tempel in Jerusalem vloei. Die waters het toegeneem totdat dit ’n sterk stroom was wat ooswaarts deur die wildernis van Juda gevloei het. Met watter gevolg? Esegiël het geskryf: “Kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien . . . en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” Die water het in die Dooie See ingevloei en selfs daardie lewelose waters genees.—Esegiël 47:1-12; Jesaja 35:1, 6, 7.

Hoewel die wildernis van Juda dus half dor en verlate is, is dit ook ’n fassinerende streek van kontraste wat in baie Bybelverslae vermeld word.—Lukas 10:29-37.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel