Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/8 bl. 19-23
  • ’n Onreg word deur ’n Europese hof reggestel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Onreg word deur ’n Europese hof reggestel
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onwettig gevange geneem
  • In en uit gevangenisse
  • Wydverspreide reaksie
  • Appèl by die Europese Hof van Menseregte
  • Die onreg word reggestel
  • Godsdiensvryheid word gehandhaaf
  • Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland
    Ontwaak!—1997
  • Die wetlike beskerming van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Waarom ’n internasionale hof in Europa?
    Ontwaak!—1996
  • ‘Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus’
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/8 bl. 19-23

’n Onreg word deur ’n Europese hof reggestel

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

IN GRIEKELAND is diensplig verpligtend. Op enige gegewe tydstip is daar omtrent 300 Getuies van Jehovah in die tronk omdat hulle weier om diensplig te doen. Amnestie Internasionaal beskou hulle as gevangenes met gewetensbesware en het al herhaaldelik by opeenvolgende Griekse regerings daarop aangedring dat hulle vrygelaat moet word en dat wetgewing aangeneem moet word wat sal toelaat dat hulle burgerlike diens verrig wat nie strafmaatreëls insluit nie.

In 1988 is nuwe wetgewing aangeneem wat diensplig geraak het. Dit het onder andere bepaal dat “die volgende van diensplig vrygestel word: . . . Rekrute wat godsdiensbedienaars, monnike of leerlingmonnike van ’n erkende godsdiens is, indien hulle dit sou verkies.” Die bedienaars van die Grieks-Ortodokse Kerk word altyd maklik vrygestel, sonder dat hulle enige probleem ondervind of dat hulle basiese menseregte enigsins geskend word. Sou dieselfde van toepassing wees op bedienaars van ’n minderheidsgodsdiens? ’n Toets het weldra ’n antwoord verskaf.

Onwettig gevange geneem

Laat in 1989 en vroeg in 1990 het Dimitrios Tsirlis en Timotheos Kouloumpas, wat deur die Sentrale Gemeente van die Christengetuies van Jehovah in Griekeland as bedienaars aangestel is, kragtens hierdie wet aansoeke by hulle onderskeie werwingskantore ingedien om van diensplig vrygestel te word. Saam met hulle aansoeke het hulle dokumente ingedien wat bewys het dat hulle aktiewe bedienaars is. Soos daar verwag is, is die aansoeke verwerp op grond van die valse argument dat Jehovah se Getuies nie aan ’n “bekende godsdiens” behoort nie.

Broers Tsirlis en Kouloumpas het by hulle onderskeie militêre opleidingsentrums aangemeld en is gearresteer, van diensweiering aangekla en in aanhouding geplaas. Intussen het die Groot Hoofkwartier vir Landsverdediging hulle appèl teen die beslissings van die werwingskantore van die hand gewys. Die militêre owerheid het die argument gebruik dat die Heilige Sinode van die Grieks-Ortodokse Kerk hulle ingelig het dat die geloof van Jehovah se Getuies nie ’n erkende godsdiens is nie! Dit het die beslissings weerspreek van ’n aantal burgerlike howe wat gesê het dat Jehovah se Getuies wel ’n bekende godsdiens is.

Die militêre howe het Tsirlis en Kouloumpas egter skuldig bevind aan diensweiering en hulle tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Die twee broers het appèl teen hierdie beslissings aangeteken by die Militêre Appèlhof wat om verskillende redes die ondersoek na die appèl drie keer uitgestel het. Maar die hof het elke keer geweier om die appellante voorlopig uit die tronk vry te laat, alhoewel die Griekse reg daarvoor voorsiening maak.

Die Administratiewe Hooggeregshof het intussen in ’n ander reeks sake die beslissings van die Groot Hoofkwartier vir Landsverdediging ongeldig verklaar op grond daarvan dat Jehovah se Getuies wel aan ’n bekende godsdiens behoort.

Gedurende die 15 maande wat Tsirlis en Kouloumpas in die Avlona- Militêre Gevangenis moes deurbring, het hulle sowel as ander Getuies in die gevangenis besonder onmenslike en vernederende behandeling verduur. ’n Verslag oor daardie tyd het gepraat van “die haglike tronktoestande waarin [Jehovah se Getuies as gevangenes] verkeer” en het melding gemaak van “die bedorwe vleis en muissterte wat dikwels saam met die kos bedien is, die inkorting van besoektye volgens die Administrasie se giere, die gebrek aan ruimte omdat die selle oorvol is en die veel strenger behandeling van sulke gevangenes as wat gewetensbeswaardes ontvang”.

Die Militêre Appèlhof het broers Tsirlis en Kouloumpas uiteindelik vrygespreek, maar het terselftertyd beslis dat die Staat geensins verplig was om hulle vir hulle aanhouding te vergoed nie, omdat “hierdie aanhouding die gevolg van die aansoekers se growwe nalatigheid was”. Dit het geldige vrae in regskringe laat ontstaan: Wie was verantwoordelik vir die growwe nalatigheid? Die Getuies of die militêre howe?

Die broers is onmiddellik uit die gevangenis vrygelaat en uiteindelik uit die weermag ontslaan op grond van die feit dat hulle godsdiensbedienaars is. Nadat hulle vrygelaat is, het Amnestie Internasionaal aangekondig dat dit die vrylating van Dimitrios Tsirlis en Timotheos Kouloumpas verwelkom het, en hulle het die hoop uitgespreek dat bedienaars van Jehovah se Getuies in die toekoms van diensplig vrygestel sou word in ooreenstemming met die voorsienings van die Griekse wet. Hierdie hoop sou egter kort voor lank verydel word.

In en uit gevangenisse

Nog ’n aangestelde bedienaar van Jehovah se Getuies moes om dieselfde rede beproewinge van ’n effens ander aard deurmaak. Op 11 September 1991 het Anastasios Georgiadis op dieselfde manier om vrystelling van diensplig aansoek gedoen. Ses dae later het die werwingskantoor hom in kennis gestel dat sy aansoek verwerp is, weer eens omdat die Heilige Sinode van die Grieks-Ortodokse Kerk nie aanvaar dat Jehovah se Getuies ’n bekende godsdiens is nie. En dít ten spyte van die uitdruklike beslissings van die Administratiewe Hooggeregshof in die sake van Tsirlis en Kouloumpas!

Die geskrewe antwoord van die Groot Hoofkwartier vir Landsverdediging het gesê: “Die Administrasie het tot ’n negatiewe beslissing gekom met betrekking tot [Georgiadis se] aansoek, gegrond op die deskundige oordeel van die Heilige Sinode van die Kerk van Griekeland wat Jehovah se Getuies nie as ’n bekende godsdiens beskou nie.”—Ons kursiveer.

Georgiadis het op 20 Januarie na die Nafplion- Opleidingskamp gegaan en is onmiddellik in die dissiplinêre sel van die kamp gesit. Hy is later na die Avlona- Militêre Gevangenis oorgeplaas.

Op 16 Maart 1992 het die Militêre Hof van Atene Georgiadis vrygespreek. Dit was die eerste keer dat ’n militêre hof in Griekeland erken het dat Jehovah se Getuies inderdaad ’n bekende godsdiens is. Die direkteur van die Avlona- Militêre Gevangenis het hom onmiddellik vrygelaat, maar het hom aangesê om weer op 4 April by die Nafplion-werwingskantoor vir diens aan te meld. Op daardie dag het Georgiadis weer geweier om aan te sluit en is hy weer van diensweiering aangekla, ’n tweede keer gevange geneem en vir verhoor verwys.

Op 8 Mei 1992 het die Militêre Hof van Atene hom van die nuwe strafsaak vrygespreek, maar beslis dat geen vergoeding vir sy aanhouding toegestaan moet word nie. Georgiadis is onmiddellik uit die Avlona- Militêre Gevangenis vrygelaat, maar is aangesê om weer vir ’n derde keer, op 22 Mei 1992, vir diens by die Nafplion-werwingskantoor aan te meld! Hy het weer eens geweier om aan te sluit en is ’n derde keer van diensweiering aangekla en aangehou.

Op 7 Julie 1992 het die Administratiewe Hooggeregshof die beslissing van September 1991 ter syde gestel op grond daarvan dat Jehovah se Getuies wel aan ’n bekende godsdiens behoort. Op 27 Julie 1992 is Georgiadis uiteindelik uit die Tessalonika- Militêre Gevangenis vrygelaat. Op 10 September 1992 het die Militêre Hof van Tessalonika hom vrygespreek, maar was van mening dat Georgiadis nie op vergoeding geregtig was nie, omdat daar weer eens aangevoer is dat sy aanhouding ‘die gevolg van sy growwe nalatigheid’ was.

Wydverspreide reaksie

In ’n kommentaar oor die saak van Georgiadis het die Europese Parlement verklaar: “Hierdie situasie is ’n geval van diskriminasie teen godsdiensbedienaars van Jehovah se Getuies wat betref die beginsel van gelykheid voor die wet en die reg om gelyke behandeling te ontvang.”

In Februarie 1992 het Amnestie Internasionaal verklaar dat hulle daarvan “oortuig is dat [Anastasios Georgiadis] slegs gevange geneem is weens die militêre owerheid se diskriminering teen bedienaars van Jehovah se Getuies en op sy onmiddellike en onvoorwaardelike vrylating as ’n gewetensbeswaarde” aandring.

Selfs die militêre aanklaer in een van Georgiadis se verhore moes erken: “Die omvang van ’n samelewing se kulturele ontwikkeling word geopenbaar deur die manier waarop dit sekere situasies met betrekking tot sy burgers hanteer. As ons hier in Griekeland wil hê dat ons kulturele ontwikkeling in ooreenstemming met Europese standaarde moet wees, as ons vooruitgang wil maak, dan moet ons volgens internasionale regulasies optree en ontslae raak van vooroordeel. ’n Gebied waarop dit die duidelikste is, is respek vir burgers se individuele regte. Die werklike gebeure en die administrasie se taktiek dui egter onteenseglik op die vooroordeel en godsdiensonverdraagsaamheid wat daar teenoor godsdiensminderhede bestaan. Dié betrokke geval is verregaande.”

Ian White, ’n lid van die Europese Parlement van Bristol, Engeland, het geskryf: “Die idee dat Jehovah se Getuies nie ‘’n bekende godsdiens’ is nie, sal baie mense in hierdie graafskap laat glimlag. Al is die Getuies betreklik min, is hulle beslis baie goed bekend in hierdie land, en hulle besoek mense dikwels van huis tot huis.” Met meer as 26 000 Getuies wat die predikingswerk in Griekeland doen, kan hulle nouliks ‘’n onbekende godsdiens’ wees!

’n Groep van tien lede van die Europese Parlement het geskryf om hulle verontwaardiging oor die Georgiadis-saak uit te spreek en het gesê dat hulle “heeltemal verstom en jammer” is oor sulke skendings van menseregte in Griekeland.

Appèl by die Europese Hof van Menseregte

Nadat hulle vrygespreek en toe uit die gevangenis vrygelaat is, het al drie slagoffers van hierdie godsdiensdiskriminasie eties verplig gevoel om by die Europese Hof van Menseregte appèl aan te teken. Die rede vir hierdie appèl was hulle onwettige aanhouding, wat op sigself onregverdig was, en die verstandelike en liggaamlike marteling waaraan hulle onderwerp is sowel as die ontsaglike sedelike en maatskaplike gevolge wat daarmee gepaardgegaan het om herhaaldelik en oor so ’n lang tyd van hulle vryheid beroof te word. Hulle het om hierdie redes ’n geldige en gepaste bedrag vir vergoeding geëis.

Die Europese Kommissie van Menseregte het in die sake van Tsirlis en Kouloumpas eenparig besluit dat hulle reg op vryheid en veiligheid van persoon geskend is, dat hulle aanhouding onwettig was, dat hulle op vergoeding geregtig is en dat hulle nie onpartydig deur ’n geregshof verhoor is nie. Die Kommissie het tot ’n soortgelyke gevolgtrekking gekom in die saak van Georgiadis.

Die onreg word reggestel

Die saak sou op 21 Januarie 1997 verhoor word. Daar was baie mense in die hofsaal, onder meer studente van die plaaslike universiteit, joernaliste en ’n aantal Getuies van Jehovah uit Griekeland, Duitsland, België en Frankryk.

Mnr. Panos Bitsaxis, die prokureur vir die Getuies, het gepraat van “die volgehoue onversetlike en koppige houding van die Griekse owerheid om nie die bestaan van een godsdiensminderheid te erken nie”, naamlik Jehovah se Getuies. Hy het dit veroordeel dat die Griekse owerheid altyd hulle amptelike beskouing van die Getuies grond op die standpunt van hulle grootste teenstanders—die Grieks-Ortodokse Kerk! Hy het voortgegaan: “Hoever sal dit gaan? . . . En tot wanneer?” Hy het gepraat van die “weiering om ’n sekere godsdiensgemeenskap te erken, ’n weiering wat absurd lyk as ’n mens besef dat dit direk, openlik, sonder enige redenering, onwettig, in stryd met tientalle beslissings van die Administratiewe Hooggeregshof is”.

Die verteenwoordiger van die Griekse regering het die bevooroordeelde gesindheid van die Griekse owerheid bevestig deur te sê: “Ons moenie uit die oog verloor dat feitlik die hele bevolking van Griekeland al eeue lank aan die Ortodokse Kerk behoort nie. ’n Natuurlike gevolg hiervan is dat die organisasie van daardie Kerk en die maatskaplike posisie van sy bedienaars en hulle rol in die Kerk baie duidelik is. . . . Die posisie van bedienaars van die Kerk van die Jehovah se Getuies is nie so duidelik nie.” Wat ’n blatante erkenning van die bevooroordeelde manier waarop godsdiensminderhede in Griekeland behandel word!

Godsdiensvryheid word gehandhaaf

Die uitspraak is op 29 Mei gelewer. Die President van die Kamer, mnr. Rolv Ryssdal, het die beslissing afgelees. Die Hof, wat uit nege regters bestaan het, het eenparig beslis dat Griekeland Artikels 5 en 6 van die Europese Konvensie geskend het. Die Hof het ook ’n bedrag van ongeveer R319 000 aan die aansoekers toegeken as vergoeding en om hulle koste te dek. Bowenal het die beslissing talle noemenswaardige argumente ten gunste van godsdiensvryheid ingesluit.

Die Hof het gesê dat “die militêre owerheid” die feit dat Jehovah se Getuies in Griekeland, volgens die beslissings van die Administratiewe Hooggeregshof, as ’n “bekende godsdiens” erken word, “blatant geïgnoreer het”. Dit het verder verklaar: “Die betrokke owerheid se hardnekkige verset om Jehovah se Getuies as ’n ‘bekende godsdiens’ te erken en die minagting van die aansoekers se reg op vryheid wat daarna gevolg het, was diskriminerend as dit vergelyk word met die manier waarop bedienaars van die Grieks-Ortodokse Kerk vrystelling verkry.”

Die Griekse media het groot publisiteit aan die saak gegee. Athens News het gesê: ‘E[uropese] hof kritiseer Griekeland skerp oor Jehovah-eis.’ Die beslissing in die saak van Tsirlis en Kouloumpas en Georgiadis v. Griekeland laat die hoop ontstaan dat die Griekse staat sy wetgewing in ooreenstemming met die uitspraak van die Europese Hof sal bring sodat Jehovah se Getuies in Griekeland godsdiensvryheid kan geniet sonder administratiewe, militêre of kerkinmenging. Daarbenewens is dit nóg ’n uitspraak wat die Europese Hof teen die Griekse regbank gelewer het oor sake rakende godsdiensvryheid.a

Jehovah se Getuies waardeer hulle vryheid en hulle streef daarna om dit te gebruik om God te dien en hulle naaste te help. Die drie Getuie-bedienaars het nie vir enige materiële gewin met hulle sake voortgegaan tot by die Europese Hof vir Menseregte nie, maar bloot om sedelike en etiese redes. Al drie het dus besluit dat die vergoeding wat aan hulle toegeken is uitsluitlik ter bevordering van die opvoedkundige werk van Jehovah se Getuies gebruik gaan word.

[Voetnote]

a Die eerste beslissing, wat in 1993 gelewer is, was die saak van Kokkinakis v. Griekeland; die tweede, in 1996, was die saak van Manoussakis en Ander v. Griekeland.—Sien Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31; die Ontwaak! van 22 Maart 1997, bladsye 14-16.

[Prent op bladsy 20]

Esther en Dimitrios Tsirlis

[Prent op bladsy 21]

Timotheos en Nafsika Kouloumpas

[Prent op bladsy 22]

Anastasios en Koula Georgiadis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel