Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 2/15 bl. 26-28
  • Skatte uit Egiptiese vullishope

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skatte uit Egiptiese vullishope
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Skatkamer
  • Bybelmanuskripte
  • Bewys van goddelike bewaring
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
    Ontwaak!—2008
  • ’n Antieke skat word uit die rommel gered
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 2/15 bl. 26-28

Skatte uit Egiptiese vullishope

SOU jy verwag om kosbare Bybelmanuskripte in ’n hoop vullis te vind? Dit is wat teen die einde van die vorige eeu onder die sand van Egipte gebeur het. Hoe?

’n Klompie papirusgeskrifte is van 1778 af tot die einde van die 19de eeu toevallig in Egipte ontdek. Maar tot honderd jaar gelede was daar nie veel sprake van ’n sistematiese soektog nie. Teen dié tyd het boorling-fellahs (of, kleinboere) voortdurend antieke dokumente gevind, en die Brits-geborgde Egypt Exploration Fund het besef dat ’n ekspedisie uitgestuur moes word voor dit te laat was. Hulle het twee geleerdes van Oxford, Bernard P. Grenfell en Arthur S. Hunt, gekies, wat toestemming verkry het om in die gebied suid van die landboustreek in die Fajoem-distrik wat ons hierbo sien te soek.

Grenfell het gemeen dat Behnesa na ’n belowende terrein gelyk het vanweë sy ou Griekse naam, Oxirhinchus. Oxirhinchus was gedurende die vierde en vyfde eeu ’n belangrike plek en ’n sentrum van die Egiptiese Christendom. Talle vroeë kloosters was daar naby geleë, en die puinhope van hierdie provinsiale dorp het oor ’n groot gebied gelê. Grenfell het gehoop om fragmente van Christelike lektuur daar te vind, maar die soektog deur die begraafplase en die puinhope van huise het niks opgelewer nie. Nog net die dorp se vullishope het oorgebly, waarvan sommige nege meter hoog was. As hulle daar na papirusgeskrifte sou begin soek, sou dit lyk of hulle die stryd gewonne gee; die argeoloë het nogtans besluit om daar te grawe.

’n Skatkamer

In Januarie 1897 is ’n toetssloot gegrawe en binne ure is antieke papirusstukke gevind. Onder hulle was briewe, kontrakte en amptelike dokumente. Hulle was onder waaisand begrawe, en die droë klimaat het hulle bykans 2 000 jaar lank bewaar.

Amper twee ton papirusgeskrifte is in net meer as drie maande by Oxirhinchus uitgegrawe. Vyf-en-twintig groot kiste is volgepak en na Engeland teruggestuur. En hierdie twee onverskrokke geleerdes het die volgende tien jaar elke winter na Egipte teruggekeer om hulle versameling aan te vul.

Hulle het by een geleentheid tydens opgrawings in ’n begraafplaas by Tebtunis net op mummies van krokodille afgekom. ’n Werker het in sy frustrasie een stukkend geslaan. Tot sy verbasing het hy gevind dat die mummie in papirusvelle toegewikkel was. Die opgrawers het ontdek dat ander krokodille ook so toegewikkel was en dat papirusrolle selfs in party se kele gestop was. Fragmente van ou klassieke geskrifte is gevind, en daar was ook koninklike ordonnansies en kontrakte tussen sakerekeninge en persoonlike briewe.

Van watter waarde was al hierdie dokumente? Hulle was van groot belang, want die meeste is deur gewone mense in Koine, die gewone Grieks van die dag, geskryf. Uit die feit dat baie van die woorde wat hulle gebruik het ook in die Bybel se Griekse Geskrifte, die “Nuwe Testament”, voorkom, het dit skielik duidelik geword dat die taal in die Skrif nie ’n spesiale Bybelse Grieks is soos sommige geleerdes te kenne gegee het nie, maar dat dit die spreektaal is wat die gewone mense gepraat het. Gevolglik het geleerdes ’n duideliker begrip van die betekenis van woorde in die Christelike Griekse Geskrifte verkry deur te kyk hoe die woorde in alledaagse situasies gebruik is.

Bybelmanuskripte

Fragmente van Bybelmanuskripte is ook ontdek, en hierdie manuskripte is dikwels in ’n onegalige handskrif sonder veel versiering en op swak gehalte materiaal geskryf, wat getoon het dat dit die Bybel van die gewone mense was. Kom ons ondersoek nou van hierdie vondste.

Hunt het ’n afskrif ontdek van die eerste hoofstuk van Mattheüs se Evangelie, verse 1 tot 9, 12 en 14 tot 20, wat in die derde eeu G.J. in unsiaalskrif (hoofletters) geskryf is. Dit sou bekend word as P⁠1, die eerste stuk wat aangegee word in ’n katalogus van papirusgeskrifte wat op verskillende plekke gevind is en wat nou reeds bykans honderd manuskripte of dele van manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte insluit. Van watter waarde was die enkele verse wat deur Hunt gevind is? Die skrifvorm het duidelik getoon dat dit uit die derde eeu G.J. dateer en ’n ondersoek van die bewoording het getoon dat dit ooreenstem met die grondteks wat pas tevore deur Westcott en Hort saamgestel is. P⁠1 is tans in die Universiteitsmuseum in Philadelphia, Pennsilvanië, VSA.

’n Papirusvel van ’n kodeks, of boek, het op die linkerkantse bladsy dele van Johannes hoofstuk 1 en op die regterkantse bladsy dele van Johannes hoofstuk 20. ’n Rekonstruksie van die dele wat ontbreek, dui daarop dat daar oorspronklik 25 velle vir die hele Evangelie was en dat hulle van die vroegste tyd af hoofstuk 21 moes ingesluit het. Hierdie papirusvel is P⁠5 genommer, kom volgens datering uit die derde eeu G.J. en is nou in die Britse Biblioteek in Londen, Engeland.

’n Fragment wat Romeine 1:1-7 bevat, is in sulke groot onegalige letters geskryf dat party geleerdes gemeen het dat dit die werk van ’n skoolseun kon wees. Dit dra nou die nommer P⁠10 en is volgens datering uit die vierde eeu G.J.

’n Baie groter vonds bevat sowat ’n derde van die brief aan die Hebreërs. Die afskrif is agterop ’n rol gemaak wat klassieke geskrifte van die Romeinse geskiedskrywer Livy op die voorkant gehad het. Waarom verskyn daar op die voorkant en die agterkant stof wat so verskillend van aard is? Skryfmateriaal was destyds skaars en duur; ou papiri kon dus nie gemors word nie. Hierdie papirusvonds staan nou bekend as P⁠13 en is volgens datering afkomstig uit die derde of uit die vierde eeu G.J.

’n Papirusbladsy wat dele van Romeine hoofstukke 8 en 9 bevat en wat in ’n baie klein handskrif geskryf is, kom uit ’n boek wat sowat 11,5 sentimeter lank en slegs 5 sentimeter breed was. Dit lyk dus of daar in die derde eeu G.J. sakformaat-afskrifte van die Skrif was. Hierdie papirus is P⁠27 genoem en stem oor die algemeen ooreen met die Codex Vaticanus.

Stukke van vier velle uit ’n Griekse Septuagint-kodeks bevat gedeeltes van ses hoofstukke van Genesis. Hierdie kodeks is belangrik omdat hy uit die tweede of derde eeu G.J. dateer en omdat hierdie hoofstukke in die Codex Vaticanus ontbreek en in die Codex Sinaiticus beskadig is. Hierdie velle wat as Papirus 656 genommer is, word tans in die Bodleian-biblioteek, Oxford, Engeland, gehou.

Al hierdie fragmente toon geen belangrike variasies in vergelyking met ons bestaande vroeë manuskripte nie, en gevolglik bevestig hulle dat die Bybelteks destyds in ’n afgeleë deel van Egipte onder die gewone mense in omloop was. Hulle bevestig ook ons geloof in die betroubaarheid en akkuraatheid van God se Woord.

[Prent op bladsy 27]

Papirusfragmente wat by Fajoem gevind is en wat dele van Johannes, hoofstuk 1, bevat

[Erkenning]

By permission of the British Library

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel