Ek laat vaar ’n lewe van geweld
EK EN my vriend het so vinnig gehardloop as wat ons kon, en toe ons die rivier naby my tuisdorp bereik, het ons ingeduik. Toe ons opkom, het ons met ’n wilde vaart na die oorkantste oewer begin swem.
Was hierdie ’n soort seunspel? Glad nie! Dit was eerder ’n saak van lewe en dood. Toe ek omkyk, het ek die polisie gesien met hulle wapens op ons gerig. Om die koeëls te probeer ontduik, het ek onder die water ingeduik en aangehou om na die oorkantste wal toe te swem. Selfs onder die water kon ek die skote hoor.
Eers toe ons die oorkantste oewer bereik het, kon ons sê dat ons ontsnapping uit die gevangenis, waar ons opgesluit was vir inbraak en motordiefstal, suksesvol was.
Hierdie was een van baie kere dat ek deur die polisie gesoek of werklik agtervolg is vir die een of ander misdaad. Hoewel ek destyds net 17 jaar oud was, was ek reeds baie keer in hegtenis geneem. Eindelik is ek en my vriend gevang en ek is weer tot tronkstraf gevonnis, hierdie keer vir twee en ’n half jaar.
Selfs in die tronk het ek ’n gewelddadige gesindheid geopenbaar. Omdat ek so baie met ander gevangenes baklei het, het hulle my ’n wit uniform gegee. Dit het my en ander opstokers vir spesiale aandag deur die wagte uitgesonder.
Gewelddadiger ná ek vrygelaat is
Ek is uit die gevangenis vrygelaat, maar ek het nie ten goede verander nie. Trouens, ek was gewelddadiger as ooit. Ek het my gou as leier van verskeie strate gevestig. Enigeen wat my uitgedaag het, het gou ’n gewillige teenstander gekry.
Eenkeer het ’n groep jong mans my geïrriteer. Ek het hulle aangeval en ’n hele paar beseer voordat die polisie die bakleiery stopgesit het, en dit nadat ek my regterhand die vorige week in ’n bakleiery gebreek het.
’n Ander keer het ek en twee vriende ’n groep mans van ’n buurdorp uitgedaag. Die leier het vorentoe getree en my met ’n stuk yster tegemoetgekom. Ek het hom ontwapen, maar hy het uit my greep geglip en weggehardloop. Die enigste manier om hom sover te kry om aan te hou baklei, was om hom sy stuk yster terug te gee, wat ek gedoen het. Hy het teruggekom en ek het hom weer ontwapen en hierdie keer het ek seker gemaak dat hy nie wegkom voordat ek hom ’n loesing gegee het nie.
Een aand het ek op ’n straathoek in Harlem, in die stad New York, gestaan en net vir die “pret” enigeen vir ’n geveg uitgedaag. Verskeie mense het my aanbod aanvaar en die gevegte was talloos. My reputasie as ’n gevaarlike, gewelddadige persoon het gevolglik gegroei. In al hierdie gevegte is ek met bottels, bandgereedskap en knuppels geslaan en met messe en ander wapens aangeval. Maar al hierdie dinge het niks gedoen om my van my gewelddadige lewenswyse te laat afsien nie.
Geweld vermeerder
Ek het gou ontdek dat daar groot geld in die dwelmbedryf gemaak kon word. Omdat ek ’n dwelmgebruiker was, het ek die dwelmwêreld geken. Ek het kort voor lank mense gehad wat vir my dwelms verkoop het en dit het my selfs gewelddadiger gemaak.
Op ’n keer het ons ’n ander dwelmsmous aangeval om sy dwelms te steel. Gewapen met ’n pistool en ’n mes het ons in sy huis ingebreek en twee mans en ’n vrou as gyselaars aangehou terwyl ons die huis geplunder het op soek na dwelms.
’n Ander keer het ek en ’n vriend, gewapen met haelgewere en met skimaskers op, besluit om ’n ryk man te beroof sodat ons geld vir dwelms kon kry. Ons het sy huis dopgehou, maar hy het nie opgedaag nie, en ons het vertrek. As hy opgedaag het, sou ons sonder twyfel ons voorneme deurgevoer het.
Ek was dus, toe ek maar 20 was, diep betrokke by geweld, dwelms en ernstige misdaad. My toekoms sou op sy beste ’n lewe in die tronk wees—en ek was baie ongelukkig.
Ek het dikwels gewonder wie moet besluit wat reg en wat verkeerd is. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit diegene was wat die grootste mag in die samelewing het. Ek het ook geredeneer dat aangesien mense besluit wat reg en verkeerd is, en ek absoluut geen respek vir mense-owerhede gehad het nie, ek net soveel reg soos enigiemand anders het om self so ’n vraag te beantwoord. Maar ek sou weldra ’n baie beter antwoord vind.
’n Baie beter lewenswyse
My suster, wat met een van my vriende uit die tronk getrou het, het ingestem om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Sy het almal in ons familie vertel van die dinge wat sy in die Bybel geleer het—vir almal behalwe my. My familie het gesê dat ek my suster moes vermy. Waarom? Hulle het gesê dit is omdat sy oor niks anders as daardie “verspotte godsdiens” praat nie.
Ek was nuuskierig. Wat kon sy tog sê wat mense soveel sou ontstel? Ek wou weet, maar my suster het nie met my daaroor gepraat nie. Waarom nie? Sy het gedink dat ek te sleg was om ooit na iets oor die Bybel te luister.
Maar een aand het ek my vir aandete na haar huis genooi. Ek het saam met my suster en haar man gesit en eet en gesê: “Vertel my van hierdie nuwe godsdiens.” Hulle het—ses ure lank! Dit het vir my soveel sin gemaak dat ek die volgende aand teruggegaan het om meer te hoor.
Ná hierdie tweede besoek was ek oortuig dat ek iets gevind het om voor te lewe, ’n ware doel in die lewe. Ek het dadelik begin om vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon en ook my vriende vertel van wat ek geleer het.
My lewenstyl het ’n ruk lank onveranderd gebly. Maar ek het aangehou studeer en leer van wat Jehovah God verwag en ek het gesorg dat ek nie die vergaderinge by die Koninkryksaal, waar die Bybel bespreek is, mis nie. So het ek die geestelike krag gekry om my lewe stap vir stap te verander.
Ek het eers opgehou om dwelms te verkoop. Dit het party met wie ek voorheen omgegaan het kwaad gemaak maar ek het steeds my gewelddadige reputasie gehad, en dit het my beskerm. Daarna het ek opgehou om sterk dwelms te gebruik en het ook my onsedelike lewe verander. Die laaste ding wat ek onder beheer gebring het, was my tabakgewoonte. Ek het in agt maande gevorder tot die punt waar ek aan die vereistes voldoen het om gedoop te word, en ek is in 1970 gedoop.
Ek het uiteindelik die antwoord op my vraag oor wie kan besluit wat reg en wat verkeerd is ten volle verstaan. Die antwoord is: Jehovah, ons Lewegewer, het daardie reg en hy het ook die reg om van sy skepsele te verwag om daarvolgens te lewe.
Ek het al dikwels daaraan gedink hoe die illustrasie in Jesaja 65:25 figuurlik op my van toepassing was. Daardie profesie praat van ’n tyd wanneer die leeu se gewelddadige gesindheid in ’n vreedsame verander sal word sodat hy strooi sal eet soos ’n bees. Ek het gevoel dat ek ook so verander het, van ’n baie gewelddadige persoon tot een wat ’n vreedsame gesindheid en ’n vreedsame uitkyk op die lewe het.
Ek het steeds ’n slegte reputasie gehad wat ek deur my dade uit die weg moes ruim. Byvoorbeeld: Ek het mense gereeld van huis tot huis besoek om die Bybel met hulle te bespreek. By een huis het die jong man wat die deur oopgemaak het my herken en baie bang geword omdat hy gedink het ek wil hom kwaad aandoen. Ek het vinnig my boodskap van vrede uit die Bybel aan hom verduidelik, wat hom verstom maar baie verlig gelaat het.
Ek het kort ná ek gedoop is met een van Jehovah se Getuies getrou. Dit is hartseer om te moet sê dat my vrou in 1974 besluit het dat sy nie meer God se wil wil doen nie. Sy het my voor ’n ultimatum gestel: ek moes my manier van aanbidding prysgee of sy sou my verlaat en ons twee kindertjies saamneem. Dit was die moeilikste tyd in my lewe. Maar ek kon nie my aanbidding van God prysgee nie en ek het voortgegaan om sy wil te doen.
’n Nuwe lewenswyse
Tog het Jehovah my beloon omdat ek getrou aan hom gebly het. In 1977 het ek ’n wonderlike Getuie ontmoet en ons is getroud. Sy het ’n vyfjarige seuntjie gehad. Kort daarna het ek en my vrou die voltydse bediening betree en ons daaraan gewy om ander van God en sy voornemens te leer. Toe ons seun grootgeword het, het hy ook die voltydse bediening betree. Hy help nou met verskeie pligte in die plaaslike gemeente.
Ek en my vrou het sedertdien die voorreg gehad om na baie dele van die aarde te reis om vrywillige konstruksiewerk te doen. Dit behels dat ons help om nuwe takfasiliteite in verskeie lande te bou sodat die wêreldwye onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies ondersteun kan word.
Wanneer ons tuis is, bly ons besig deur plaaslik ander mense van die Bybel te leer en nuwe Koninkryksale te help bou. Ek dien ook op ’n Streekboukomitee in die suidelike deel van die Verenigde State. En ek en my vorige tronkmaat—my suster se man—dien as ouere manne in dieselfde gemeente van Jehovah se Getuies.
Ek is dankbaar dat Jehovah my gehelp het om beheer oor my lewe te kry en dit ’n heeltemal nuwe rigting laat inslaan het. Terwyl ek hom toelaat om vir my te wys wat reg en wat verkeerd is, word my lewe net al hoe beter.—Bygedra.