Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 8/8 bl. 15-17
  • Is rook werklik so sleg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is rook werklik so sleg?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Rook—Het die gety gekeer?
  • Antirookveldtogte—niks nuuts nie!
  • Rook—Wat dit aan jou liggaam doen
  • Neem jou eie besluit
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Sigarette—Wys jy dit van die hand?
    Ontwaak!—1996
  • Hoe kan ek die druk om te rook weerstaan?
    Ontwaak!—1991
  • Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 8/8 bl. 15-17

Jongmense vra . . .

Is rook werklik so sleg?

ROOK het Oren van kleins af gefassineer. Sy tante het hom altyd die vuurhoutjie laat doodblaas wanneer sy ’n sigaret aangesteek het. Toe hy 16 was, het hy besluit om self te probeer rook. Hy het na ’n partytjie gegaan en ’n meisie vir ’n sigaret gevra—maar hy het naar geword voordat hy dit kon klaar rook.

Oren se manlike ego was gekrenk, en hy het besluit om privaat te “oefen” om te rook. Een aand ná ’n groot ete het hy senuweeagtig ’n sigaret aangesteek en die rook ingetrek. Wat ’n verrassing! Hierdie keer het hy nie duiselig of naar gevoel nie. Heel in sy skik het hy die rook keer op keer ingetrek. Toe hy die sigaret klaar gerook het, wou hy nog een hê. En daarna, nog een. Die volgende ses jaar was Oren ’n kettingroker.

Rook—Het die gety gekeer?

Vandag sal baie jongmense Oren se optrede moontlik afkeur. Volgens een opname in die Verenigde State het 66 persent van die tieners wie se mening gevra is, geglo dat ’n mens wat een of meer pakkies sigarette per dag rook ’n “groot risiko” loop. Ironies genoeg kom van die hewigste veroordelings van rokers self! “Dit is ’n walglike gewoonte”, sê een 16-jarige roker. In een studie het amper 85 persent van tieners wat rook, erken dat hulle dink dit is skadelik. Byna die helfte het gesê dat hulle voornemens is om op te hou rook—dit wil sê, binne die volgende vyf jaar.

Dit wil dus voorkom of ’n vloedgolf van afkeer nou dreig om tabak se tradisionele gewildheid weg te spoel. Die Amerikaanse Geneesheer-Generaal se verslag vir 1989 getiteld Reducing the Health Consequences of Smoking—25 Years of Progress sê: “In die veertiger- en vyftigerjare was rook sjiek; nou word dit al hoe meer vermy. Gewoonlik het filmsterre, sporthelde en ander beroemdes in sigaretadvertensies verskyn. Vandag word daar selde gesien dat akteurs, atlete, openbare persoonlikhede en politieke kandidate rook. . . . Die bevolking hou in al hoe groter getalle op rook.”

In 1965 het 40 persent van alle volwassenes in die Verenigde State gerook. Meer as 20 jaar later het net bykans 29 persent gerook. Die Geneesheer-Generaal se verslag verklaar verder dat “bykans die helfte van alle volwassenes wat ooit gerook het, opgehou het”. In 1976 het ongeveer 29 persent van senior-hoërskoolleerlinge daagliks gerook. Meer as ’n dekade later het slegs 19 persent gerook.

Derhalwe lyk dit dalk asof daar nie veel meer te sê is oor rook nie. Maar ten spyte van kragdadige antirookveldtogte en ernstige waarskuwings van geneeshere het wêreldwye tabakverbruik aansienlik toegeneem! Ongeveer 50 miljoen volwassenes in die Verenigde State rook steeds. En wat met Oren gebeur het, gebeur met baie ander jongmense. In die Verenigde State alleen steek ongeveer 3 000 tieners elke dag ’n sigaret vir die eerste keer aan. Dit kom neer op ’n verstommende eenmiljoen nuwe rokers per jaar! Verbasend genoeg is die meerderheid van die nuwe nikotienverslaafdes tienermeisies.

Antirookveldtogte—niks nuuts nie!

Mense is nie onbewus van die gevare nie. Trouens, lank voordat navorsers wetenskaplike redes ontdek het waarom rook vermy moet word, het gesonde verstand vir mense gesê dat dit ’n vuil, ongewenste gewoonte is. Minder as 90 jaar gelede was sigarette in baie dele van die Verenigde State onwettig. In sommige gebiede kon ’n mens in hegtenis geneem word as jy dit net besit het. En in vroeër tye is daar selfs strenger teen rook opgetree.

Die tydskrif Smithsonian beskryf party stappe wat in die 17de eeu teen rook gedoen is: “In China is daar in 1638 ’n keiserlike bevel uitgereik wat die gebruik . . . van tabak ’n misdaad gemaak het wat met onthoofding strafbaar was. . . . In Rusland het rokers lyfstraf gekry; herhaalde oortreders se neusvleuels is gesny; hardnekkige wetsoortreders is na Siberië verban. In Persië is hulle gemartel, aan ’n paal gehang en/of onthoof.”

Sulke strafmaatreëls was weliswaar buitensporig en wreed. Maar op hulle manier is rokers wreed teenoor hulle eie liggame.

Rook—Wat dit aan jou liggaam doen

Nikotien is die bestanddeel wat tabak sy vreemde aantrekkingskrag gee. Maar The World Book Encyclopedia sê: “’n Knippie nikotien—ongeveer 60 milligram (1/500 ons)—kan ’n volwassene se dood beteken as ’n mens dit alles gelyk inkry. ’n Tipiese sigaret bevat ongeveer 1 milligram (1/30 000 ons) nikotien.”

Nikotien is ook hoogs verslawend. ’n Verslag van die Geneesheer-Generaal kom tot die gevolgtrekking: “Die meeste rokers begin rook wanneer hulle tieners is en raak dan verslaaf. . . . Vandag sê 80 persent van rokers dat hulle wil ophou; twee derdes van rokers het al ten minste een ernstige poging aangewend om op te hou.” Sulke pogings word dikwels ondermyn deur pynlike onttrekkingsimptome: ’n knaende lus vir tabak, rusteloosheid, geïrriteerdheid, angstigheid, hoofpyne, lomerigheid, maagsteurings en ’n onvermoë om te konsentreer.

Sigarette besoedel jou egter nie net met nikotien nie; ’n brandende sigaret is ’n ware giffabriek wat ongeveer 4 000 verskillende chemiese verbindings vrystel. Daar is vasgestel dat drie-en-veertig van hierdie chemikalieë kanker veroorsaak. Van hulle is in die vorm van ’n klewerige teer wat aan die longe en die lugweë kleef wat na die longe lei. Dit kan later longkanker tot gevolg hê. Daar word ook gemeen dat rook “’n bydraende faktor tot blaas-, pankreas- en nierkanker [is]; en dit kan met maagkanker geassosieer word”.—Reducing the Health Consequences of Smoking.

Dit duur dalk jare voor ’n roker kanker kry. Maar net een sigaret is ’n potensiële gevaar. Nikotien laat jou hart vinniger klop, en dit verhoog jou liggaam se behoefte aan suurstof. Ongelukkig bevat sigaretrook ook koolstofmonoksied—die giftige gas wat ’n motor se uitlaat afgee. Hierdie gifstof word in die bloedstroom opgeneem en verhinder in werklikheid die vloei van suurstof na die hart en ander belangrike organe. Nog erger, nikotien vernou die bloedvate wat die vloei van suurstof verder vertraag. Onrusbarend baie rokers ly dus aan hartkwaal.

Maagsere, miskrame, kinders met gebreke, beroertes—hierdie is maar ’n paar van die baie gevare waarvoor rokers te staan kom. Wêreldwyd is daar jaarliks ongeveer 2,5 miljoen tabakverwante sterftes. Meer as 400 000 van hierdie sterftes kom in die Verenigde State alleen voor. Die Amerikaanse Geneesheer-Generaal beweer: “Rook is verantwoordelik vir meer as een uit elke ses sterftes in die Verenigde State. Rook bly die belangrikste voorkombare doodsoorsaak in ons samelewing.” Party gesondheidsdeskundiges is bevrees dat rook uiteindelik tot 200 miljoen mense wat nou jonger as 20 is, sal doodmaak.

Maar rokers benadeel nie net hulleself nie. Deur ander te dwing om hulle giftige gasse in te asem, stel hulle nie-rokers bloot aan die gevare van longkanker en ander asemhalingskwale.

Neem jou eie besluit

Dit is dus geen wonder dat die een nasie na die ander stappe doen om mense teen die gevare van rook te waarsku en die gebruik daarvan te bekamp nie. Maar dit lyk nie juis of dit enige uitwerking op jongmense het as die gevare beklemtoon word nie. “Wanneer ek ’n sigaret aansteek, voel ek ontspanne”, sê die 15-jarige Holly. “Ek dink nooit daaraan dat ek kanker kan kry nie.”

’n Wyse spreuk waarsku: “As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf” (Spreuke 27:12). Wil jy werklik die gevolge van tabakverslawing dra, naamlik kanker, hartsiektes en asemhalingskwale? Is die genot wat nikotien gee ’n slegte asem, ’n ernstige hoes en geel tande werd?

Aan die ander kant is daar ’n baie belangriker rede om rook te vermy: jou begeerte om jou vriendskap met God te handhaaf. Sal jy nie beledig voel as jy ’n duur geskenk vir iemand gee en hy of sy dit weggooi nie? Wel, God gee vir ons “lewe en asem” (Handelinge 17:25). Stel jou voor hoe hy voel wanneer jy daardie gawe misbruik! Daarom het die apostel Paulus geskryf: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het [om ’n goedgekeurde verhouding met God te hê], geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1). Rook verontreinig nie net die vlees en besoedel jou liggaam met skadelike chemikalieë nie; dit verontreinig ook jou gees of heersende geestesgesteldheid. Rook is verdorwe, selfsugtig, goddeloos.

Ondanks al hierdie dinge kom baie jongmense nog in die versoeking om te rook. Waarom dit die geval is en hoe jongmense sulke druk kan weerstaan, sal die onderwerp van ’n toekomstige artikel wees.

[Prent op bladsy 16]

Dink aan die gevolge voordat jy begin rook

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel