Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/1 bl. 16-23
  • Maai vrug wat geskik is vir God se koninkryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maai vrug wat geskik is vir God se koninkryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE ELEMENT WAARIN ONS KARAKTEREIENSKAPPE KWEEK
  • Dit is “God wat dit laat groei”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Saai met God se koninkryk voor oë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ‘Die regverdiges sal so helder soos die son skyn’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Die voordele van ’n liefde vir God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/1 bl. 16-23

Maai vrug wat geskik is vir God se koninkryk

1. Waarop het Jehovah in Jeremia 4:3, 4 die aandag gevestig?

In Jeremia 4:3, 4 sê Jehovah: “Braak vir julle ’n braakland en saai nie onder die dorings nie. Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ’n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge,” Jehovah het die aandag gevestig op die slegte harttoestand van sy verbondsvolk.

2. Hoe toon die gelykenis van die saad wat op die doringvervuilde grond val dat ons versigtig moet wees waar dit kom by die milieu waarin ons ons geestelike saaiwerk doen?

2 In ’n gelykenis het Jesus Christus eweneens die teleurstellende resultate toegelig wanneer daar onder dorings gesaai word. In Mattheüs 13:1-9 sowel as Markus 4:1-9 het hy beskryf hoedat party van die saad wat deur die hand van die saaier uitgestrooi is, geval het op gebiede waar onkruidsaad gelê het. Sulke gebiede het geen opbrengs gelewer nie, want die dorings het opgekom en die graanplante verstik sodat geen graanoes ingesamel kon word nie (Luk. 8:4-8). Dit toon dat ons versigtig moet wees oor die milieu waarin ons ons geestelike saaiwerk doen.

3. Wat beeld die saad in die gelykenis in Markus 4:26-29 af, en wat moet Christene vandag ten opsigte van hulle persoonlikheid aankweek net soos eerste-eeuse Christene moes doen?

3 In die gelykenis van die saaier en die saad, wat in Markus 4:26-29 vertel is, beeld die saad karaktereienskappe af. Vir die Jode wat die gelykenis van die saaier en ander gelykenisse verwerp het, het Jesus gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Matt. 21:43, 45, 46). Daar bestaan dus “vrugte” van die koninkryk van God (Luk. 3:8). Verwant aan daardie Koninkryksvrugte is daar die sogenaamde “vrug van die Gees”, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22). Destyds in die eerste eeu moes die Christene vir wie die apostel Paulus geskryf het “saad” saai in die vorm van Christelike eienskappe wat gevoed moes word, net soos Christene vandag ten opsigte van die koninkryk van God moet doen. Hierdie eienskappe moet tot volle rypheid kom, volledig ontwikkel word.—Sag. 8:12; Jak. 3:18.

4. Wat het die “saad” van persoonlike Christelike eienskappe nodig vir voeding?

4 Die gewone tyd om hulle te oes, sal wees wanneer hulle heeltemal ryp is. Maar waar moet die Christensaaier van sulke “saad” verkies om dit te saai met die hoop om uiteindelik die gewenste oes te maai? Hy wil hê dat sy oes God se goedkeuring moet wegdra, sodat hy God se koninkryk waardig geag mag word. Net soos natuurlike saad grond nodig het, het die saad van Christelike eienskappe, “die vrug van die Gees”, ’n milieu nodig.—Spr. 18:1.

5. Waarvoor moet ons versigtig wees indien ons die verwagte oes wil maai, soos beklemtoon in Lukas 8:14?

5 Dink terug aan Jesus se gelykenis oor die vier soorte grond waarop die saad van die saaier geval het (Mark. 4:3-20; Luk. 8:5-15). Hierdie gelykenis toon dat ’n mens versigtig moet wees en die regte milieu vir die saad moet kies indien jy die verwagte oes wil maai. Dit is soos Jesus verduidelik het aangaande die doringvervuilde milieu vir die saad: “Wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”—Luk. 8:14.

6. Hoe het Paulus in Galasiërs 5:7-9 die aandag op die uitwerking van ’n slegte milieu gevestig?

6 In ooreenstemming hiermee het die apostel Paulus ’n waarneming in verband met die Christene in Galasië gemaak aan wie hy oor “die vrug van die Gees” geskryf het, om hulle te waarsku dat hulle nadelig beïnvloed word deur die verkeerde milieu. Hy het gesê: “Julle het goed geloop: wie het julle verhinder om die waarheid gehoorsaam te wees? Hierdie oortuiging kom nie van Hom wat julle roep nie. ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur” (Gal. 5:7-9; Matt. 13:33). Die Christene in Galasië is beïnvloed deur die voorstanders van Judaïsme wie se harte stomp was vir die volle Christelike leer, wie se ore nie gehoor het nie en wie se oë toegesluit was (Matt. 13:14, 15; Gal. 5:10). Sulke omgang wat ’n mens sou hinder, moet vermy en die rug toegekeer word.

7. Hoe het Paulus soortgelyke besorgdheid uitgespreek oor die uitwerking van ’n slegte milieu op die Christene in Korinthe?

7 Die apostel Paulus het ook gevrees dat die gemeente in Korinthe nie “die vrug van die Gees” aankweek nie, want hy het vir hulle geskryf: “Ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie—dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid” (2 Kor. 12:20). Nadat hy diegene aangehaal het wat sê: “Laat ons dan eet en drink, want more sterf ons!” kon Paulus tereg die waarskuwing rig: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Kor. 15:32, 33.

8. Waarom sal eienskappe aanhou groei al slaap ’n Christen, en waarom kan hy nie seker wees as hy volgens die eerste uitspruitsels oordeel nie?

8 Net soos die grond waarin die saad val en wat die Godgegewe vermoë het om koring of dorings te voed, sal die milieu waarin ’n Christen verkies om eienskappe aan te kweek hom ten goede of ten kwade beïnvloed. Selfs al slaap hy terwyl hy homself met so ’n milieu omring, sal die wet van omgewingsinvloed meedoënloos geld totdat die uitspruitsel gereed is sodat die sekel ingesteek kan word omdat die persoonlike oestyd aangebreek het. In hierdie verband het Jesus gesê: “Want vanself bring die aarde [geleidelik] vrug voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar” (Mark. 4:28, vgl. NW). Die saaier kan feitlik nie die groei waarneem nie en dit vind plaas deur ’n mag wat hy nie kan begryp nie. Die groeiproses in die een of ander rigting sal geleidelik plaasvind, eers soos ’n halm, dan soos ’n aar, en uiteindelik soos die volle koring in die aar.

9. Hoe lig die gelykenis van die koring en die onkruid die onsekerheid toe oor die uitslag wanneer daar in ’n sekere milieu gesaai word?

9 Wanneer die saad aanvanklik uitspruit en die halm voortbring, sal die saaier dalk nie heeltemal seker wees wat hy gaan oes nie, geoordeel na die uiterlike. Tydens daardie vroeë stadium is hy moontlik nie heeltemal seker wat besig is om op te kom nie; hy onthou net watter soort saad hy geplant het. Ter toeligting: In Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid in Mattheüs 13:26-30 het hy gesê:

“Toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.”

10. Wanneer sal ons die onmiskenbare uitwerking sien omdat daar in ’n gegewe milieu gesaai is?

10 Nadat ons die saadjies van ons karaktereienskappe gesaai het, is dit aan die halm wat opgekom het dalk nog nie duidelik wat die grond opgelewer het nie. Slegs later, wanneer die plant volgroeid is en vrug dra, sal daar geen twyfel bestaan oor wat die grond opgelewer het vir die indiwidu wat daar gesaai het nie.

11. Wat benewens die fisiese aspekte van grond het ’n groot invloed op die gehalte van die plant wat in sulke grond gekweek word?

11 Die grond is ’n belangrike faktor by wat uiteindelik opgelewer sal word. Jesus het gesê: “Vanself bring die aarde [nie God nie] vrug voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar” (Mark. 4:28). In die gelykenis van die vier soorte grond het Jesus slegs die fisiese aspekte van die grondsoorte beskryf. Maar die chemiese eienskappe van die grond is ook belangrik vir die gehalte van die opbrengs, want grond kan suur of sout wees, of met anorganiese of organiese stowwe bemes wees.

12. Wat beeld die aarde of grond dus af?

12 Aangesien die aarde of grond so ’n belangrike rol by die groeiproses en die gehalte van die eindproduk speel, beeld dit die sosiale, morele en godsdiensmilieu af waarin ons die saadjies van ons karaktereienskappe kweek, en dit hou natuurlik verband met mense.a Dit is ’n gebied waarop ons kieskeurig moet wees.

DIE ELEMENT WAARIN ONS KARAKTEREIENSKAPPE KWEEK

13. Kan daar selfs in ’n Christengemeente ’n milieu wees wat nie bevorderlik vir behoorlike Christelike groei is nie?

13 Selfs in die Christengemeente kan daar ’n milieu of omgang wees wat geestelik nie die beste is nie. Party wat onlangs uit die wêreld gekom het en hulle toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer het, is dalk geneig om iets wat steeds aan hulle kleef—’n mate van wêreldsgesindheid—in die gemeente in te bring. Ons moet onthou dat dit aan ’n Christengemeente was dat die apostel Paulus geskryf het: “Ek het julle in my [vorige] brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie. . . . maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”—1 Kor. 5:9-11.

14. Hoe waarsku Paulus Christene in Galasiërs 6:7, 8 om nie in die verkeerde rigting te saai nie?

14 Aan die gemeentes in die Romeinse provinsie Galasië in Klein-Asië het dieselfde apostel geskryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal. 6:7, 8). ’n Verklaarde Christen kan in sy sondige vlees saai deur sy eienskappe te probeer ontwikkel in ’n wêreldlike milieu wat sy gevalle vlees bevredig.

15. Watter vrae ontstaan dus in verband met die milieu wat ons in die Christengemeente kies?

15 Word ons vandag in die gemeente aangetrek deur lede wat nog na wêreldsgesindheid neig? Hulle gee hulle gereeld daaraan oor en wil die geselskap van ander lede hê sodat hulle ’n mate van regverdiging het vir hulle herhaalde wêreldse optrede. Laat ons toe dat ons sosiale milieu of omgang in die gemeente ons verhinder om goed te loop in die wedloop om die ewige lewe? Laat ons toe dat lede van die gemeente wat geneig is om wêreldsgesind te wees ons oorreed om dieselfde koers as hulle in te slaan omdat dit so aangenaam is vir ons sondige vlees?

16. Wat moet ons in ag neem omtrent die milieu waarin ons beweeg indien ons op die dag van afrekening in die toetse wil slaag?

16 Aanvanklik sal die uitwerking van ons toegeeflike weg miskien nie aandui watter soort verklaarde Christene ons mettertyd sal word nie. Dit is die geval omdat die “aarde” of milieu waarin ons verkies om te beweeg geleidelik vrug voortbring. Die “halm” lyk onskuldig vir diegene wat dit aanskou, nie gevaarlik skadelik nie. Ons slaap snags en staan bedags op, en ons karaktereienskappe groei meedoënloos, ons weet self nie presies hoe nie. As ons ongeërg op hierdie liberale weg volhard, sal dit ’n onvermydelike gevolg hê, naamlik die heeltemal volwasse vrug van karaktereienskappe weens die milieu wat soos grond is en waar ons toegelaat het dat ons gekweek word. Sal dit wat ons oes deur die sekel in te steek ons in staat stel om te slaag in die toetse van die dag van afrekening?

17. Wat moet ons nie vergeet waar dit kom by die milieu waarin ons die sade van ons karaktereienskappe plant nie?

17 Ons moet nie vergeet dat die milieu waarin die sade van ons karaktereienskappe begrawe en gevoed word, net soos die “aarde” of “grond”, ons ontwikkeling sal beïnvloed nie. Dit kan ons ’n swak variëteit maak van dit wat beoog is toe ons begin saai het.

18. Watter voorbeeld van slegte omgang word in Numeri 11:4-34 vir ons gegee?

18 Ons het ’n geskiedkundige voorbeeld van die uitwerking van slegte omgang selfs onder Jehovah se volk in gebeure in die woestyn van Sinai in Moses se dag. Ons onthou die “menigte mense van gemengde bloed” wat saam met die Israeliete uit Egipte en deur die Rooi See getrek het (Ex. 12:38). Aangaande hierdie nie-Israelitiese element vertel die profeet Moses ons:

“En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipteland verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë. . . . Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattaäwa [wat beteken Begraafplekke van die selfsugtige verlange].”—Numeri 11:4-34; kyk ook 1 Korinthiërs 10:1-6, 10, 11.

19. Hoe toon die ervaring van die Israeliete met die “menigte mense van gemengde bloed” in die woestyn dat ons God nie verantwoordelik kan hou vir slegte gevolge weens ons gekose milieu nie?

19 Daardie “menigte mense van gemengde bloed” het dus die bal onder die Israeliete aan die rol gesit. Ontevrede met Jehovah se voorsiening van brood uit die hemel, het hulle in hulle harte na Egipte teruggekeer weens selfsugtige verlange na dinge wat hulle eens in daardie afgodsaanbiddende land geniet het (Ps. 105:40). Hulle het hulle buik hulle god gemaak, want hulle het nog selfsugtige verlange na die materiële geriewe van demonbeheerde Egipte gekoester (Filip. 3:19). Hulle het dus die Israeliete met so ’n lus aangesteek. Vir tyd en wyl was hulle slegte omgang vir Jehovah se uitverkore volk Israel. Hierdie geskiedkundige voorbeeld dien as ’n goeie waarskuwing vir ons wat vandag lewe. Ons kan God nie verantwoordelik hou vir die slegte gevolge wat ons maai weens die slegte milieu wat ons gekies het nie.

20. Indien dit nie God is nie, wat is dan verantwoordelik vir die gevolge wat die weg wat ons kies, vir ons oplewer?

20 Indien ons God nie by die saak kan betrek in die geval van die gelykenis van die vier soorte grond en van die koring en die onkruid nie, is dit dan logies en konsekwent om God persoonlik by die vervulling van Markus 4:26-29 te betrek? Algemeen gesproke ‘bring die aarde vanself vrug voort’ en ‘laat ’n tuin sy gewasse uitspruit’ (Jes. 61:11). Gevolglik sal dagga, hasjisj, tabak en papawers wat gekweek word om opium te maak, net soos graangewasse uit die bewerkte grond groei. Dit is dus duidelik dat die oes wat gemaai word, afhang van wat die saaier plant en in watter soort grond hy sy saad gooi.

21. Watter voorbeeld uit Holland toon dat die omgewing waarin die saad lê, sake beïnvloed?

21 Die omgewing waarin die saad lê, sal sake beïnvloed. Ons moenie vergeet dat grondsoorte nie almal dieselfde chemiese eienskappe besit nie. Een is suur, ’n ander sout, ensovoorts. Toe die Hollanders dus grond uit die Suidersee wou herwin, het hulle dyke gebou en die brak water in polders opgedam. Toe het hulle die seewater uit die laagliggende gebied gepomp. Maar die drooggelegde grond was deurtrek van seesout. Dit was nie dadelik geskik vir die kweek van graangewasse vir voedsel nie. Hulle het dus eers die grond voorberei deur rietagtige grassoorte te plant wat goed in soutgrond geaard het. Dit het die grond gesuiwer. Daarna kon hulle graangewasse met goeie oeste kweek.

22. Waar sal ons gewoonlik die saad van ons karaktereienskappe saai, en wat is seker oor die uitslag hiervan?

22 So ook met die sade van ons karaktereienskappe: ons gaan hulle êrens saai, gewoonlik in die milieu van ons keuse. Ons gaan beslis iets oes of maai. Gaan dit wat ons maai geskik wees vir ’n goedgekeurde verhouding met God se koninkryk? Die milieu of die omgang wat ons gereeld opsoek, sal ’n groot rol hierin speel. Selfs in die Christengemeente kan ons die geselskap opsoek van gedoopte persone wat nog steeds wêreldse dinge aanhang, maar wat geen gewetenswroeging het omdat hulle hierdie dinge stilletjies in die gemeente inbring nie. Ons Christelike persoonlikheid en gedrag sal beslis deur sulke besoedelende dinge beïnvloed word.

23. Wat, eerder as die aanvanklike voorkoms van dinge, sal ons finale geluk bepaal?

23 ’n Besmette Christen se groei in ’n sekere wêreldse rigting sal geleidelik plaasvind en die afwykingshoek vanaf die Christelike weg sal aanvanklik so klein wees dat dit nie opgemerk word nie. Dit is soos die verskyning van die “halm” uit die saad. Maar die oestyd sal uiteindelik onmiskenbaar toon waarin ons ontwikkel het, want ons sal die gevolge moet dra. Wanneer slegs ware Christelikheid uiteindelik in die toets sal kan slaag, sal elke indiwidu sy sekel moet insteek en maai wat hy geword het. Sal die dinge wat hy maai hom ontnugter en hom as slegs ’n naam-Christen ontmasker? Gelukkig is die Christen wat Skriftuurlike redes het om tevrede te wees met dit wat sy sekel maai.—Vergelyk Psalm 126:5, 6.

24. Sal ons eie heiligheid die uitwerking van die milieu waarmee ons ons voortdurend in aanraking bring, teëwerk?

24 Ons groei geleidelik in die een of ander rigting, in ’n wêreldse rigting of ’n geestelike rigting. Wee ons indien ons onsself bedrieg of toelaat dat ander ons bedrieg om te dink dat ons slegte omgang kan hê sonder om ons nuttige Christelike gewoontes te bederf (1 Kor. 15:33). Ons kan God nie bespot deur pogings om sy onveranderlike wet te verydel, naamlik dat daar gemaai moet word indien daar gesaai word, en dat die plek waar ons saai ’n uitwerking sal hê op wat ons maai nie. Hy waarsku ons dat ons persoonlike heiligheid nie outomaties sal afgee en ander heilig sal maak nie. Ons voortdurende, onbewaakte kontak met onrein wêreldse mense sal meebring dat ons ook onrein word.—Hag. 2:10-14.

25. Wat sal ons volgens Galasiërs 5:19-24 in ’n geskikte verhouding met God se koninkryk hou?

25 Met Skriftuurlike voorsorg kan ons die uitslag van ons weg bepaal. Is volgehoue vrede met God se koninkryk ons doel? Die “werke van die vlees” sal ons nooit help om dit te bereik nie! Daar is andersyds “die vrug van die Gees”, en as ons dit aankweek, sal ons nie swig voor die hartstog en die werke van die vlees nie. As ons hierdie versigtige weg bewandel, sal ons die voldoening smaak om vrug te maai wat geskik is vir God se koninkryk in die hande van Christus.—Gal. 5:19-24.

26. Weens watter weg sal ons beloon word met ’n oes van goedgekeurde karaktereienskappe?

26 God se koninkryk, waarvoor Christus se dissipels al lank bid, staan nou op die punt om op te tree teen alle vyandelike regerings om Sy universele soewereiniteit te regverdig. Dit sal gepaard gaan met ’n persoonlike oestyd vir elkeen van ons ten opsigte van daardie koninkryk. Ons moet die grootste versigtigheid aan die dag lê waar dit kom by die “grond” of milieu waarin ons die sade van ons karaktereienskappe plant. Ons sosiale, ontspannings-, morele en godsdiensomgang moet uitsluitlik met diegene wees wat ten gunste van God se koninkryk in die hande van Christus is. As ons noukeurig let op wat en waar ons saai, en altyd met God se koninkryk voor oë saai, sal ons beloon word met ’n oorvloedige insameling van die vrug van ’n ryp en bedrywige Christelike persoonlikheid. Hoe sal dit Jehovah God tog nie behaag nie! Hy sal ons begunstig met sy volle goedkeuring en met al die seëninge wat sy goedkeuring meebring.

27. Wat sal vir ons ’n gunstige vervulling van die gelykenis in Markus 4:26-29 meebring?

27 Weens die toenemende dringendheid van die tye kan ons dus gerus ag slaan op die tydige vermaning: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr. 10:24, 25). Dit sal vir ons uitloop op ’n gunstige vervulling van die kort maar kragtige gelykenis van die saaier en die saad in Markus 4:26-29. Ons sal dan ‘die vrolikheid van die oestyd’ ervaar. Met groot genoegdoening sal ons dan ten volle besef dat “hy wat in die Gees saai, . . . uit die Gees die ewige lewe [sal] maai”.—Gal. 6:8; Jes. 9:2.

[Voetnoot]

a Dit kom ooreen met wat Jesus in sy gelykenis van die koring en die onkruid gesê het. naamlik dat die “saailand” die wêreld van mense is (Matt. 13:38). Hier in Markus 4:26-28 is die “grond” wat besaai word egter nie die hele wêreld nie, maar slegs die kontak en omgang wat die indiwidu met mense het. Die “grond” stel nie die indiwidu se “hart” voor soos dit die geval in Mattheüs 13:19 en Lukas 8:12, 15 is nie.

[Prent op bladsy 19]

Net soos die grond waarin die saad val, sal die milieu waarin ’n Christen verkies om karaktereienskappe te kweek ’n goeie of slegte uitwerking op hom hê

[Prent op bladsy 21]

“Vanself bring die aarde vrug voort . . . En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”—Mark. 4:28, 29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel