Vrae van lesers
Kan ’n Christen ’n goeie gewete behou as hy werk aanvaar wat behels dat hy gewapen moet wees?
Jehovah se Getuies oor die hele wêreld neem hulle godgegewe verantwoordelikheid ernstig op om op materiële gebied vir hulle gesin te sorg (1 Timoteus 5:8). Maar sekere soorte werk is beslis ’n skending van Bybelbeginsels en moet vermy word. Dit sluit werk in wat verband hou met dobbelary, die misbruik van bloed en die bevordering van tabakprodukte (Jesaja 65:11; Handelinge 15:29; 2 Korintiërs 7:1; Kolossense 3:5). Ander soorte werk kan ’n mens se gewete of dié van ander skend, hoewel dit nie regstreeks in die Bybel veroordeel word nie.
Elkeen moet self besluit of hy sekulêre werk sal doen wat vereis dat hy ’n vuurwapen of ’n ander soort wapen dra. Maar werk waar ’n mens gewapen moet wees, stel jou bloot aan die moontlikheid om bloedskuldig te word as jy jou wapen moet gebruik. ’n Christen moet dus biddend oorweeg of hy bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar om ’n vinnige besluit te neem waarby menselewe betrokke is. As iemand ’n wapen dra, stel dit hom ook bloot aan die gevaar om in ’n aanval of weens weerwraak beseer of doodgemaak te word.
Ander kan ook deur jou besluit geraak word. Byvoorbeeld, ’n Christen se vernaamste verantwoordelikheid is om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Sal dit moontlik wees om ander te leer om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees as jy terselfdertyd ’n bestaan maak deur ’n wapen te dra? (Romeine 12:18). Wat van kinders of ander gesinslede? Sal die feit dat daar ’n handgeweer in die huis is, hulle lewe in gevaar stel? En kan jou standpunt oor die saak ander laat struikel?—Filippense 1:10.
In hierdie “laaste dae” is al hoe meer mense “wreedaardig, sonder liefde vir die goeie” (2 Timoteus 3:1, 3). Kan iemand wat dit weet, “vry van beskuldiging” bly as hy werk kies waar hy gewapen moet wees en moontlik teen sulke mense te staan sal kom? (1 Timoteus 3:10). Beslis nie. Daarom sal die gemeente so iemand nie as “onberispelik” beskou as hy aanhou om ’n wapen te dra nadat hy liefdevol Bybelraad gegee is nie (1 Timoteus 3:2; Titus 1:5, 6). So ’n man of vrou sal dus nie vir enige spesiale voorregte in die gemeente in aanmerking kom nie.
Jesus het sy dissipels verseker dat hulle nie oormatig besorg hoef te wees oor die lewensbenodigdhede as hulle Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel nie (Matteus 6:25, 33). Ja, as ons ten volle op Jehovah vertrou, “sal [hy ons] onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:22.