Kan jy ’n pionier wees?
1 Kan jy aan die pionierdiens deelneem? Dit is bemoedigend om te sien hoeveel broers aanpassings maak sodat hulle aan die hulp- en gewone pionierdiens kan deelneem, terwyl party ander voorregte in voltydse diens nastreef, soos om ’n sendeling te wees of by Bethel te dien.
KAN JY?
2 Jehovah het geweet dat, namate sy volk gedurende hierdie tyd van die einde navolgers van hom en sy Seun word, hulle hulle aan die Godgegewe taak van Koninkryksverkondiging sou wy. (Matt. 24:14; Mark. 13:10; kyk ook Johannes 4:34; 5:17.) Die psalmis het gesê dat Jehovah se volk ‘baie gewillig sou wees’ wanneer Hy hulle vir hierdie belangrike werk versamel (Ps. 110:3). Psalm 68:12 beskryf die vroue wat die goeie nuus verkondig as “’n groot skare”. En dit is vandag inderdaad die geval met Jehovah se volk. Meer mense as ooit tevore, waaronder mans, vroue en kinders, neem nou aan die Koninkrykpredikingswerk deel. Meer doen hulppionierdiens. Daar was nog nooit soveel gewone pioniers of Bethelwerkers nie. Al hoe meer gee gehoor aan Jesus se raad om met ons ‘hele hart, siel en verstand’ te dien, en geniet dit terdeë.—Matt. 22:37.
3 Satan en sy stelsel is geneig om die lewe ingewikkeld te maak en wil ons graag so besig hou dat ons min of geen tyd vir Koninkryksbelange het nie (1 Kor. 15:58). Jesus se raad was: “As jou oog dan reg [“eenvoudig”, NW] is, sal jou hele liggaam verlig wees” (Matt. 6:22). Kan jy aanpassings maak sodat jou beskouing, jou doelwitte, en jou lewe eenvoudiger, minder ingewikkeld kan word? Namate jy aanpassings maak ten einde jou meer op die bevordering van Koninkryksbelange toe te spits, sal jy vind dat jy lig uitstraal wat God eer en jou medemens tot voordeel strek.
4 Kan jy een of ander tyd gedurende die ontoegekendegebied-kampanje
hulppionierdiens doen? Kan jy jou sake so reël dat jy die tyd sal hê? Kan jy in Julie aan die uurvereiste voldoen? Augustus of September pas jou dalk beter. Oorweeg jou omstandighede biddend. Hoe goed sal dit tog wees as jy op hierdie manier jou diens aan Jehovah kan uitbrei!
5 Is daar ander in die gemeente wat aan die vereistes vir hulppionierdiens voldoen wat saam met jou kan dien? Nooi hulle dan gerus om dit te doen. Kan jou seun of dogter saam met jou dien as jy ’n ouer is? Kan jou man of vrou? jou suster of broer?—Kyk omAF ble. 113-14.
JOU DOELWITTE
6 Wat sal jou doelwitte wees as jy gaan dien as ’n hulppionier, ’n gewone pionier, of as ’n gemeenteverkondiger wat ’n groter aandeel in Jehovah se diens probeer hê? As jy pionierdiens doen, het jy ’n uurvereiste waaraan jy moet voldoen. Maar maak dit gerus jou doel om met iemand in elke huis oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat. Sal jy jou dit ten doel stel om alle belangstellendes weer te besoek? Kan jy ’n tydskrifroete begin? Kan jy ’n Bybelstudie begin? Miskien kan jy iemand in die gemeente help om ’n groter aandeel in die bediening te he deur hom te nooi om jou in jou uitgebreide diens te vergesel.
7 Pas Paulus se raad aan Timotheüs toe: ‘Laat jou vooruitgang vir almal duidelik wees.’ “Vervul jou bediening.” Bid dat Jehovah jou werk moet seen asook die van sy volk oral wat probeer om ‘hulle bediening te vervul’. Mag ons eendragtige arbeid hom tot eer strek.—1 Tim. 4:15; 2 Tim. 4:5.