Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/85 bl. 3-6
  • “Handhawers van onkreukbaarheid” —Byeenkoms vir 1985

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Handhawers van onkreukbaarheid” —Byeenkoms vir 1985
  • Ons Koninkryksbediening—1985
  • Soortgelyke materiaal
  • “Goddelike vrede”—Streekbyeenkoms vir 1986
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Reël nou om die “Liefhebbers van Vryheid”- Streekbyeenkoms vir 1991 by te woon
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994
    Ons Koninkryksbediening—1994
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1985
km 11/85 bl. 3-6

“Handhawers van onkreukbaarheid” ​—Byeenkoms vir 1985

Namate die huidige sataniese stelsel versleg, sal die onkreukbaarheid van Christus se ware volgelinge voortdurend op die proef gestel word. Satan het herhaaldelik probeer om die onkreukbaarheid van Jehovah se knegte op verskeie maniere, subtiel sowel as direk, te verbreek. Manne soos Job en Dawid het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf, en Jehovah het toegesien dat ’n verslag van hulle getrouheid vir ons bemoediging bewaar is (1 Kon. 9:4; Job 27:5; Rom. 15:4). Soos in die geval van daardie eertydse getroue manne gee Jehovah sy heilige gees vryelik aan diegene wat vandag hulle onkreukbaarheid handhaaf.

Die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkoms vir 1985 sal nuttige inligting verskaf oor hoe ons standvastig kan bly. Onkreukbaarheid vereis te alle tye onwrikbare getrouheid aan Jehovah se regverdige wette en beginsels, nie net in gunstige omstandighede nie. Dit verg sterk geloof in Jehovah en vertroue in sy voorsiening van heilige gees. Nou sien ons uit na die streek-byeenkoms waar ons aangemoedig en onderrig sal word sodat ons kan aanhou om in onkreukbaarheid te wandel.—Ps. 26:1, 11, vgl. NW.

WOON AL VIER DAE BY: Het jy al reëlings getref om al vier dae by te woon? Belangrike inligting wat noodsaaklik is vir ons geestelike gesondheid sal van die openingsessie op Donderdag om 1:30 nm. tot die slotgebed Sondagmiddag aangebied word. Moenie eens een sessie misloop nie, hoewel dit dalk ’n paar persoonlike opofferinge sal verg. As jy ’n opregte poging aanwend om daar te wees en die nodige aanpassings maak, sal Jehovah jou gewis seën.

Ons wil jou aanspoor om elke dag vroeg te kom en in jou sitplek te wees voor die sessies begin. Dit sal jou die geleentheid bied om Christelike omgang met jou broers en susters van ander plekke te geniet. Dit sal jou ook in Staat stel om Jehovah met sang te loof en te deel in die openingsgebed. Diegene wat om jou sit, sal dit beslis waardeer as jy betyds is en nie hulle aandag van die program aftrek deur laat te kom nie. Christelike liefde en bedagsaamheid saam met respek vir Jehovah en die geestelike dinge wat hy voorsien, moet ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om betyds te wees.

Teen hierdie tyd weet julle na watter byeenkoms julle gemeente toegewys is. Inligting oor huisvesting en ander reëlings vir julle byeenkoms is ook aan julle gestuur. Dit het aansienlike beplanning en werk gekos om toe te sien dat daar genoeg sitplek, lektuur, kos en ander voorsienings vir elkeen beskikbaar sal wees. Dit is verstaanbaar dat party weens omstandighede nie die byeenkoms sal kan bywoon waar hulle toegewys is nie. Familielede wat op ’n ander plek woon, moet dalk gehelp word. Jou samewerking om, indien moontlik, die byeenkoms by te woon waar jou gemeente toegewys is, sal egter bydra tot die sukses van die byeenkomsreëlings en verdringing vermy.

LUISTER EN LEER: Jesus het sy volgelinge vermaan: “Pas dus op hoe julle luister” (Luk. 8: 18, NAV). Hy het besef dat ons die gehalte van ons diens aan Jehovah slegs kan verbeter wanneer ons toepas wat ons leer. Die streek-byeenkomsprogram word elke jaar spesiaal beplan met die behoeftes van God se volk in gedagte. As ons aandagtig na die onderrig tydens die byeenkomsprogram luister, sal ons nie net bemoedig en geestelik opgebou word nie, maar sal ons ook die jongste leiding van Jehovah ontvang wat hy deur sy “getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Matt. 24:45-47). Dit is noodsaaklik as ons geestelik sterk wil bly en teokratiese prosedure wil volg.

Wat kan jy doen om met volle aandag na die program te luister? Dit is byvoorbeeld baie belangrik om elke aand ’n goeie nagrus te geniet sodat jy soggens verkwik voel en dwarsdeur die dag wakker kan bly. As ons in gedagte hou dat die hoofdoel vir ons teenwoordigheid in die byeenkomsstad is om die byeenkoms by te woon en daarby baat te vind, sal dit ons help om gebalanseerd te wees oor hoe ons ons aande deurbring.

Nog ’n manier om wakker te bly en tenvolle by die program baat te vind, is om aantekeninge te maak. Dit help baie om in te neem wat op die verhoog gesê word. As jy op die hoofpunte let en dit neerskryf terwyl jy na die toesprake luister, sal dit jou help om hierdie gedagtes by jou verstand in te skerp sodat jy dit kan onthou. Party het dit nuttig gevind om hulle aantekeninge in sketsvorm te hou deur eers die hoofgedagtes en dan bykomende gedagtes daaronder neer te skryf. Onthou dat die program na die streek-byeenkoms op ’n Diensvergadering in jou plaaslike gemeente hersien sal word. Merk dinge terwyl jy aantekeninge maak waaroor jy tydens daardie hersiening kommentaar wil lewer.

’n Ander manier om meer van die inligting te onthou, is om die program aan die einde van elke dag te hersien. Bespreek elke programdeel met jou gesin of ander. Dit sal die hoofgedagtes nog beter op jou verstand inprent. (Inligting op bladsy 12 van Ontwaak! van 22 Desember 1984 kan nuttig wees om inligting wat by die byeenkoms aangebied word te onthou.)

Kinders vind dit dalk moeiliker om aantekeninge te maak, maar hulle kan aangespoor word om elke gesiteerde teks na te slaan en miskien selfs ’n aantekening van elke teks wat gebruik word te maak. Ouers kan die program voor die sessie met die kinders deurgaan sodat hulle sal weet watter onderwerpe bespreek gaan word. Wanneer kinders weet dat hulle by die hersiening van die program betrek gaan word en gevra sal word wat hulle daardie dag geleer het, sal hulle dikwels aandagtiger na die program luister.

CHRISTELIKE GEDRAG: Jehovah se volk is dwarsoor die wêreld vir hulle goeie gedrag bekend. Na die streekbyeenkomste vir 1984 het ons talle goeie kommentare oor die gedrag van ons broers ontvang. Hotel- en moteleienaars het byvoorbeeld gesê: “Dit was lekker om julle mense hier te hê. Die kinders gedra hulle so goed.” “Hulle is aangename mense.” “Elke jaar loop goed af. Geen probleme nie.” Sulke kommentare verbaas ons nie, aangesien dit kenmerkend van ware Christene is om ‘liefde onder mekaar te hê’ en ‘hulle naaste lief te hê soos hulleself.—Joh. 13:35; Matt. 22:39.

Dit is egter steeds nodig om op hierdie gebied te verbeter. Ons het ander kommentare ontvang wat toon dat daar steeds ’n probleem is omdat party nie op hulle gedrag let terwyl hulle in hotelle bly nie. Die meeste hotelle het reëls en regulasies wat gaste moet volg. Party van hierdie reëls het betrekking op kook of eet in die kamer, geraas en die gebruik van swembaddens. Sal dit nie gepas wees om hierdie reëls te gehoorsaam nie? Dit sal inderdaad toon dat ’n mens “geseglik” is.—Jak. 3:17.

Die gedrag van party jongmense by die byeenkomsterrein is sorgwekkend. Die ondervinding het getoon dat die meeste probleme weens die wangedrag van kinders toe te skryf is aan ’n gebrek aan toesig deur hulle ouers of volwasse oppassers. Jehovah se Getuies bring hulle kinders na byeenkomste om “deur die HERE geleer” te word en sodat hulle “van kleins af die heilige Skrifte [kan] ken” (Jes. 54:13; 2 Tim. 3:15). Hierdie doel kan slegs bereik word wanneer kinders in hulle sitplek is en na die program luister. Gesinne moet tydens die program bymekaar sit in plaas van hulle kinders toe te laat om in groepe saam met ander jongmense te sit. Wanneer kinders vrywillige werk by die byeenkoms doen, moet ouers reëlings tref sodat hulle nie tydens die program werk nie ten einde te luister en te leer.

Volgens berig gesels party individue, hoewel hulle in die gehoor sit, met mekaar of trek ander se aandag op ander maniere af, in plaas van aandagtig na die program te luister. Respek vir Jehovah se tafel en bedagsaamheid teenoor ons broers moet ons beweeg om goeie oordeel op hierdie gebiede aan die dag te lê. Niemand moet gedurende die program op die terrein ronddwaal of met ander gesels nie.—Ps. 34:12; Pred. 3:1, 7b.

Nog iets waaraan party aandag kan skenk, is kleredrag en persoonsversorging. Wanneer ons byeenkomste bywoon, kom ons bymekaar om Jehovah by sy “huis” te loof, en ons moet dienooreenkomstig aantrek. Ons kleredrag en persoonsversorging moet strook met die hoë standaarde wat uiteengesit word vir bedienaars van God en moet nie beïnvloed word deur die feit dat die byeenkomsterrein ’n sportterrein of ander soortgelyke fasiliteit is nie. Kyk asseblief paragraaf 3 op bladsy 130 en paragraaf 1 op bladsy 131 saam met die gesiteerde tekste in Georganiseer om ons bediening te vervul vir verdere inligting oor kleredrag en persoonsversorging.

DIE HOU VAN S1TPLEKKE: Ten spyte van herhaalde raad in die verlede oor die onderwerp is daar steeds ’n probleem met die hou van sitplekke. Verslae uit die veld toon dat sodra die byeenkomsfasiliteite open talle hulle haas om die beste sitplekke te hou, nie net vir hulle gesin nie maar ook vir hulle vriende en familielede wat dikwels nooit opdaag nie. Baie van hierdie voorkeursitplekke wat gehou word, word derhalwe nooit gebruik nie.

Sitplekke word met allerhande artikels gereserveer, soos klere, stukke papier, strooibiljette, tydskrifte, kettings, linte en toue. Party het dit selfs die vorige aand gedoen voordat hulle die byeenkomsterrein verlaat. Hoe het jy gereageer op die raad in vorige nommers van Ons Koninkryksbediening oor die hou van sitplekke? (Hebr. 13:17). Het jy ag geslaan op die leiding wat verskaf is, en het jy met die saalwagters saamgewerk wat probeer het om na die saak om te sien? Ons het briewe ontvang van party belangstellendes wat sê dat hulle na die byeenkoms gegaan het en nie sitplek kon kry nie. Hoekom nie? Omdat daar so baie sitplekke gehou is met iets daarop. Hulle het dus huis toe gegaan hoewel daar in werklikheid oorgenoeg sitplek vir almal was.

Weens hierdie en ander faktore lyk dit of ’n verandering nodig is. Die riglyne aangaande die hou van sitplekke in die toekoms is derhalwe soos volg: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN IEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTORGROEP RY. As jy graag gedurende die byeenkoms by ander wil sit, kan jy hulle op die byeenkomsterrein ontmoet en dan saam na sitplek soek. Moet asseblief nie enige artikels op sitplekke om jou sit nie; want dan sal diegene wat sitplek soek, dink dat dit klaar geneem is. Werk asseblief saam met die saalwagters aangesien hulle dienooreenkomstig opdragte ontvang het en liefdevol probeer om ten behoewe van alle byeenkomsgangers na hierdie saak om te sien. As ons ons nederig aan hierdie teokratiese reëling onderwerp, sal dit

verseker dat daar in die meeste gevalle genoeg sitplek by elke byeenkoms sal wees en dat dit relatief maklik sal wees om dit te kry. Jy sal die “gulde reël” volg en toon dat jy inderdaad “getrou is in die minste”. (Matt. 7:12; Luk. 16:10; vergelyk 1 Korinthiers 13:5.) In hierdie verband word daar aanbeveel dat jy tyd afstaan om saam met jou gesin en vriende die puik materiaal te hersien oor die hou van sitplekke en ook an­der raad oor persoonlike gedrag by streekbyeenkomste wat in byvoegsels van Ons Koninkryksbediening van 1980 tot 1984 verskyn het.

VELDDIENSREËLINGS: Deelname aan velddiens is ’n baie belangrike deel van ons aanbidding. Moenie hierdie geleentheid misloop om groter vreugde uit die byeenkoms te put deur die goeie nuus met ander te deel nie. Die program sal op Vrydag om 3:00 nm. afsluit. Maak seker dat jy voor die middagsessie Vrydag reëlings tref vir gebied of by ’n groep aansluit wat gebied het. Dit sal ook wys wees as die groepleier uitvind hoe om by die gebied te kom wanneer hy die gebiedskaart kry sodat daar nie tyd verkwis word deur Vrydagmiddag na die gebied te soek nie. Tydskrifte sal by die byeenkoms beskikbaar wees.

VRYWILLIGERDIENS: Byeenkomste verg werk, en baie vrywillige werkers is nodig. Julle gemeente se byeenkomskoördineerder sal inligting ontvang oor afdelings waar vrywillers nodig is en sal die gemeente daarvan in kennis stel. Jy kan deur hom reël om vrywilligerdiens te doen. Kinders onder 16 jaar moet te alle tye onder die toesig van ’n ouer of ander volwassene werk. Ons moedig ouers en hulle kinders aan om, indien moontlik, saam as vrywilligers te werk.

Tydens die byeenkoms sal daar dalk nog vrywilligers nodig wees. Jy kan help deur na die Vrywilligerafdeling te gaan wanneer jy by die byeenkoms aankom. Die broers aldaar sal jou in kennis stel van watter hulp nodig is. Jou gewillige diens sal hoog op prys gestel word en daartoe bydra dat die byeenkoms vlot verloop.​—Hand. 20:35.

VOEDSELBEHOEFTES: Daar word spesiale reëlings getref om in ons fisiese behoeftes te voorsien. Voorsienings vir voedsel en drinkgoed sal soortgelyk wees aan die wat in onlangse jare by streekbyeenkomste beskikbaar was. Ons waardeer inderdaad die pogings van diegene wat so hard werk om ons te dien.

Byeenkomskaartjies sal in velle ter waarde van R2,00 beskikbaar wees. Koop genoeg kaartjies om in jou gesin se voedselbehoeftes vir die eerste twee of drie dae van die byeenkoms te voorsien wanneer julle by die byeenkomsterrein kom.

Wat ’n voorreg sal dit tog wees om die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkoms vir 1985 by te woon! Die program sal ons versterk om voort te gaan om ons God, Jehovah, getrou te dien ondanks die voortdurende aanvalle van Satan. Doen alles in jou vermoë om elke dag onder die duisende byeenkomsgangers te wees. Laat ons soos Dawid sê: “Rig my, o Jehovah, want ek het in my eie onkreukbaarheid gewandel” en “wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel”.​—Ps. 26:1, 11, NW.

[Box on page 6]

Inligting in verband met die Streekbyeenkoms

HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.

DOOP: Die toespraak vir doopkandidate sal Saterdagoggend gehou word. Diegene wat hulle toewyding deur waterdoop wil simboliseer, moet voor die byeenkoms die vrae saam met ouere manne in hulle gemeente hersien. Elkeen wat gedoop wil word, moet beskeie swemklere en ’n handdoek saambring.

PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplekke is wanneer die program begin. Dit sal Donderdag om 1:30 nm., Vrydag om 9:20 vm. en Saterdag en Sondag om 9:30 vm. begin. Dieselfde goeie eienskappe word weerspieël as ons beplan om nie voor die einde van die sessie te gaan nie. Die slotlied en -gebed sal Donderdag om 5:10 nm. wees. Vrydagmiddag sal opsy gesit word vir spesiale deelname aan velddiens na die slotlied en -gebed om 3:00 nm. Die slotlied en -gebed sal Saterdag om 5:00 nm. en Sondag om 4:00 nm. wees.

BETHEL- EN GILEADVERGADERINGE: Daar sal Vrydag ’n vergadering gehou word vir pioniers tussen die ouderdom van 20 en 40 wat daarin belangstel om Gileadskool by te woon vir opleiding in die sendingdiens. Daar sal Saterdag ’n vergadering wees vir toegewyde verkondigers tussen die ouderdom van 19 en 35 wat Suid-Afrikaanse burgers is en wat graag in Bethel wil dien. Raadpleeg die program in die byeenkomsstad vir die presiese tye en plekke van hierdie vergaderinge.

PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, sowel as reisende opsieners, moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tye van die streekbyeenkoms reeds ses maande aangestelde pioniers is, is daarop geregtig om byeenkomskaartjies slegs by daardie een byeenkoms te ontvang wanneer hulle hul identifikasiekaart toon. Pas die kaart op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasies of ander lektuur teen pioniertarief sal by die lektuurafdeling beskikbaar wees vir pioniers wat hulle identifikasiekaart toon.

LAPELKAARTE: Hierdie kaarte word voorsien as ’n middel om die byeenkoms te adverteer en om ons broers en susters wat teenwoordig is te identifiseer. Daarom spoor ons julle aan om julle lapelkaarte by die byeenkoms asook terwyl julle na en van die byeenkoms reis te dra. Die kaart is nie net ’n goeie identifikasiemiddel nie, maar lei dikwels daartoe dat ’n goeie getuienis gelewer kan word terwyl ons na die byeenkoms op pad is. Julle moet die kaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 3c elk en die plastiekhouers 15c elk. (Die Genootskap het reeds lapelkaarte aan elke gemeente gestuur, maar die plastiekhouers moet deur die gemeente bestel word.)

’N WOORDJIE VAN WAARSKUW1NG: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in ’n motor laat nie, ongeag waar jy jou motor parkeer. Sluit jou goed in die bagasieruim toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel