Bied die Goeie Nuus Aan—Deur herbesoeke te doen
1 Ervare bedienaars het al gesien dat sinvolle herbesoeke gaandeweg groei stimuleer en mense help om gelowig te word. Hierdie aspek van ons bediening kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie. Voorbereiding is die sleutel tot sukses. Wat is party van die praktiese wenke wat ons in gedagte kan hou? Hoe kan ons almal, hetsy ons nuwe of ervare verkondigers is, aan hierdie aspek van die Koninkryksdiens deelneem?
2 Voorbereiding vir ’n herbesoek begin met die eerste besoek. Hoe so? Volledige en akkurate aantekeninge moet van alle belangstelling gehou word. Staan tyd af om ’n aantekening te maak van die naam van die huisbewoner, die onderwerp wat bespreek is, sy reaksie en enige lektuur wat gelaat is. Dit help om spesifiek te wees. Voor jy dus ’n herbesoek doen, moet jy jou huis-tot-huisverslag nagaan en biddend oorweging skenk aan wat jy gaan sê.
3 Vir die meeste van ons is dit ’n uitdaging om herbesoeke te doen. Hierdie aspek van die diens behoort egter nie ingewikkeld te wees nie. Wanneer herbesoeke doelgerig is, sal jy die saadjies van waarheid beter natmaak (1 Kor. 3:6). Wanneer jy teruggaan na iemand wat tydskrifte geneem het, kan jy beklemtoon dat die verklaarde doel van Die Wagtoring is om ‘Jehovah se Koninkryk aan te kondig’. Vra die huisbewoner of hy weet wie Jehovah is, en gebruik dan ’n paar minute om oor ’n teks soos Psalm 83:19 te redeneer. Die besoek kan beëindig word nadat ons die grondslag vir nog ’n besoek gelê het. As daar genoeg tyd is, kan ons die eerste vraag op bladsy 164 van die Redenering-boek oor die onderwerp “God” gebruik om die gesprek voort te sit. Of jy kan die informasie op bladsye 217 en 218 onder die onderwerp “Jehovah” gebruik. Om die aanvoorwerk vir jou volgende besoek te doen, kan jy meld dat baie mense geleer is om die Onse Vader te bid, waarin ons vra dat God se Koninkryk kom en sy wil geskied. Sê vir die huisbewoner dat jy tydens jou volgende besoek graag sy aandag op ’n paar Bybeltekste wil vestig wat verduidelik wat God se Koninkryk is en hoe die aarde daar sal uitsien wanneer God se wil geskied.
4 As jy ’n herbesoek doen op iemand wat lektuur geneem het, kan jy vir die huisbewoner ’n gedagte wys wat hom sal interesseer. Probeer om voort te bou op wat voorheen bespreek is. Indien jy by die vorige besoek die jongste ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik het, kan jy sê: “Toe ek laas met u gepraat het, het ons die Bybel se gewisse belofte vir vrede bespreek. Daar is slegs een regering wat aardwye vrede kan bring—God se Koninkryk. Kyk wat die Bybel self in Jesaja 9:5, 6 sê. [Lees.] Sal u dit nie geniet om onder sulke waarlik vreedsame toestande te lewe nie? [Laat die huisbewoner antwoord.] Maar benewens ware vrede noem die Bybel talle spesifieke seëninge wat God se Koninkryk vir die mensdom sal bring.” Op hierdie stadium kan jy moontlik die aandag op ’n spesifieke paragraaf vestig. Daarna kan jy etlike besoeke gebruik om die gedagtes onder “Koninkryk” op bladsye 246-254 van die Redenering-boek te behandel.
5 Deelname aan die herbesoekwerk help ons om ons ‘bediening te verheerlik’ (Romeine 11:13). Stel jou dit gerus ten doel om ten minste een herbesoek per week te doen. Volg die praktiese wenke wat hierin uiteengesit is en vra die hulp van die wat op hierdie gebied van die velddiens ervare is. As jy ander deur middel van goed voorbereide herbesoeke onderrig, sal jou bediening sinvoller wees, jou vreugde vermeerder en jou geloof groei.