Hoe om vir ’n tuisbybelstudie voor te berei en dit te hou
1 Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig en ‘dissipels te maak’ (Matt. 24:14; 28:19). Tuisbybelstudies is ’n baie doeltreffende manier om dissipels te maak. Aangesien hierdie belangrike werk ’n deel van ons aanbidding is, moet ons ons uiterste bes doen wanneer ons vir tuisbybelstudies voorberei en hulle hou.
VOORBEREIDING VIR DIE STUDIE
2 Voorbereiding vir ’n tuisbybelstudie behels meer as om net die les deur te lees en die teksverwysings na te slaan. Om die hart van ons Bybelstudent te bereik, moet ons die materiaal so aanbied dat dit hom tot optrede sal aanspoor.
3 Ten eerste moet ons self die materiaal goed verstaan. Ons moet weet hoe al die tekste op die paragrawe en die Bybelstudent van toepassing is. Die onderstreping van sleutelwoorde en -sinsnedes help ons om die materiaal te onthou. Ons moet die hoofgedagtes van die les uitlig en dink hoe ons dit aan die student kan oordra. Daarbenewens moet die student se Skriftuurlike kennis, dinge wat hy moeilik vind om te aanvaar, veranderinge wat hy in sy Christelike persoonlikheid moet aanbring, ensovoorts, in ag geneem word. Ons kan vra: ‘Hoe kan die materiaal en die tekste in die les gebruik word om hom te help om vordering te maak?’ Soms sal bykomende navorsing nodig wees. Sorgvuldige voorbereiding is nodig as ons wil hê die student moet regtig by die studie baat vind.
4 Gebed tot Jehovah is ’n belangrike deel van voorbereiding vir ’n Bybelstudie. Wees spesifiek wanneer jy oor die persoon en sy behoeftes bid. Vra Jehovah om jou te help om sy hart te bereik.—1 Kor. 3:6.
DIE HOU VAN DIE STUDIE
5Dit verg inspanning van ons om iemand te help om die waarheid sy eie te maak. ’n Bloot akademiese behandeling van die studiemateriaal sal die persoon miskien help om kennis in te neem, maar glo hy wat hy leer? Help die student om te sien hoe die materiaal hom persoonlik raak en wat hy moet doen met wat hy geleer het.—Kol. 3:10.
6 Vermy die valstrik van toe te laat dat die bespreking afdwaal na onderwerpe wat nie direk verband hou met die materiaal onder bespreking nie. Hierdie dinge kan na afloop van die Studie of by ’n ander geleentheid bespreek word. Dit is ook belangrik dat die student in sy eie woorde antwoord pleks van net uit die boek te lees. Dit sal jou help om vas te stel of hy die materiaal verstaan of nie.
7 ’n Goeie onderrigter beklemtoon sleutelgedagtes sodat die student dit nie mis nie. Jesus het dit deur gedagteprikkelende vrae gedoen wat tot die kern van die saak deurgedring het (Matt. 16:13-16; Matt. 17:24-27). Vrae help jou nie net om seker te maak dat die student die materiaal verstaan nie, maar toon ook wat in sy hart is. Jesus het ook eenvoudige illustrasies gebruik om sy luisteraars te help om na te dink oor wat hy gesê het.—Matt. 13:31-33; 24:32, 33.
8 Maak seker dat jy die sleuteltekste by jou hersiening aan die einde van die studie insluit. Gebruik vrae wat jou sal help om te sien hoe die student voel oor wat hy geleer het en wat beklemtoon hoe hy kan toepas wat hy geleer het. Aan die begin van jou volgende studie moet jy die hoofgedagtes kortliks hersien, na gelang van die behoefte.
9 Ons lei mense op om knegte van Jehovah te wees. Dit is ’n voorreg sowel as ’n ernstige verantwoordelikheid. Kan jy die gehalte van jou onderrigting tydens tuisbybelstudies verbeter? Ons moet ons uiterste bes doen wanneer ons vir tuisbybelstudies voorberei en hulle hou.—1 Tim. 4:15,16.