Bied die Goeie Nuus Aan—Deur tuisbybelstudies te begin
1 Jesus het ons almal ’n doelwit in ons bediening gegee toe hy ons beveel het om ‘dissipels te maak en hulle te leer’ (Matt. 28:19). Die doeltreffendste manier om dit te doen, is deur die tuisbybelstudiereëling.
2 Dit verg ywer aan ons kant as medewerkers van God om nuwe Bybelstudies te begin (1 Kor. 3:9). ’n Studie hang ook grootliks af van die hartstoestand van die individu. Jehovah se gees trek opregtes en lei ons om hulle te help om geestelik te groei. Dit word bevestig deur die ondervinding van die Ethiopiese hofdienaar (Hand. 8:26-31). Hy het die profesie van Jesaja gelees maar kon dit nie verstaan nie, ten spyte daarvan dat hy ’n Joodse proseliet en geleerde man was. Maar hy het die regte hartstoestand gehad. Jehovah se gees het op Filippus ingewerk om die hofdienaar ’n duidelike begrip van die profesie te gee, en dit het hom beweeg om te vra om gedoop te word.—Hand. 8:32-36.
3 Jehovah gebruik vandag steeds sy knegte as instrumente om opregte mense te help om dissipels te word. Die mate waarin Jehovah ons gebruik, word grootliks bepaal deur ons ywer, bekwaamheid en gewilligheid om as onderrigters gebruik te word. Die vermoë om Bybelstudies met welslae te begin, is nie iets wat vanself kom nie. Dit vereis sorgvuldige voorbereiding tesame met ’n opregte begeerte om die goeie nuus aan ander mee te deel (Eseg. 9:4; Rom. 10:13, 14). Om besware te oorbrug, moet ons wenke soos die wat in Ons Koninkryksbediening en Redenering-boek gegee word, toepas. As jy hulp nodig het om ’n Bybelstudie te begin, moet jy diegene met ondervinding vra om jou te help. Reël om saam met die kringopsiener te werk wanneer hy die gemeente bedien. Die ouere manne, bedieningsknegte of gewone pioniers kan dalk saam met jou herbesoeke doen en jou help om ’n Bybelstudie te begin. Op hierdie manier sal jy leer hoe om die beste resultate in jou bediening te behaal.
WEES HEELHARTIG
4 Dit verg heelhartige inspanning om tuisbybelstudies te begin (Kol. 3: 23, 24). Dit beteken dat jy hard moet werk in die huis-tot-huisbediening met die spesifieke doelwit om mense te vind wat die Bybel wil bestudeer. Ons moet ywerig wees om herbesoeke te doen. Ons doen dikwels besoeke wanneer mense nie tuis is nie. Ons kan gerus ons besoeke op verskillende tye doen en so teruggaan wanneer mense heel moontlik by die huis en ontvankliker vir die Koninkryksboodskap sal wees. Party het vroegaand ’n ideale tyd gevind.
5 Herbesoeke moet goed beplan word, met die spesifieke huisbewoner in gedagte. In party gebiede is ’n eenvoudige, direkte benadering die beste. Die nuutste brosjures en traktate bespreek ’n spesifieke onderwerp pertinent. As ons daarmee vertroud raak, kan ons beter resultate kry.
6 Onthou dat, hoewel ons goed voorberei is en ’n entoesiatiese getuienis gee, ’n nuwe dissipel slegs met die hulp van Jehovah se gees gemaak word (1 Kor. 3:6). Ons moet volhard in gebed, en Jehovah vra om ons te rig en die harte te open van diegene vir wie ons preek (1 Joh. 3: 22). Jehovah sal toesien dat die sagmoediges, soos die Ethiopiese hofdienaar, ’n geleentheid ontvang om die Koninkryksboodskap te aanvaar. Deur ooreenkomstig ons gebede ten behoewe van sagmoediges te werk, kan ons bekwamer word om Bybelstudies te begin.