Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 10/87 bl. 3-10
  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987
  • Ons Koninkryksbediening—1987
  • Soortgelyke materiaal
  • “Goddelike vrede”—Streekbyeenkoms vir 1986
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • “Handhawers van onkreukbaarheid” —Byeenkoms vir 1985
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Ligdraers”- Streekbyeenkoms vir 1992
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Reël nou om die “Liefhebbers van Vryheid”- Streekbyeenkoms vir 1991 by te woon
    Ons Koninkryksbediening—1991
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1987
km 10/87 bl. 3-10

“Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms vir 1987

1 Hoe pragtig beskryf die byeenkomstema vir 1987 tog die gevoelens van Jehovah se Getuies! “Vertrou op Jehovah” is meer as net ’n tema vir ons; dit weerspieël ons diepste oortuigings. Talle mense in die wêreld vertrou op mensewysheid en -prestasies; hulle vertrou onverstandig op hulself en hulle vermoë om aan die lewe te bly (Ps. 49:7, 8,11; Spr. 18:11). In teenstelling hiermee vertrou ons op Jehovah, die Allerhoogste van die heelal om sy beloftes teenoor gehoorsame mense te vervul. Ons is daarvan oortuig dat hy in al ons behoeftes sal voorsien en ons teen blywende leed sal beskerm wanneer Satan se stelsel tot sy einde kom. Stem jy nie saam dat “Vertrou op Jehovah” ’n uiters gepaste tema vir ons streekbyeenkomste vir 1987 is nie? Ons kan toon dat ons hierdie geestelike voorsiening ten behoewe van ons waardeer deur die hele byeenkoms van drie dae by te woon.

2 Jou reëlings vir vervoer en huisvesting behoort teen hierdie tyd byna afgehandel te wees. Die stede en kringe wat na elke streekbyeenkoms toegewys is en die datums daarvoor, is in Ons Koninkryksbediening vir September gegee. Aangesien die byeenkoms vir 1987 drie dae sal duur, pleks van vier soos in vorige jare, sal elke dag ’n vol program hê. Die program sal toesprake, demonstrasies en dramas insluit. Daar sal vanjaar geen velddiensreëling gedurende die byeenkoms wees nie.

3 Aangesien die byeenkoms drie volle dae sal wees, sal dit waarskynlik vir almal makliker wees om dit by te woon. Het jy, indien nodig, jou werkgewer genader om tyd af te vra sodat jy al drie dae aanwesig kan wees? Die hele program, van die openingsmusiek Vrydag om 10:20 vm. tot die slotgebed Sondag om ongeveer 4:00 nm., sal gevul wees met ’n skat van praktiese, geloofversterkende geestelike onderrigting en bemoediging wat ons nie mag misloop nie.

4 DIE PROGRAM: Elke dag sal sy eie Skriftuurlike tema hê wat verband hou met die hooftema van die byeenkoms—“Vertrou op Jehovah”. Inligting oor die pionierdiens, die verkondiging van die goeie nuus by elke geleentheid, kinders en jongmense en lojale onderdanigheid aan Jehovah sal aangebied word. Saterdag sal die belangrikheid van ywerige studie en inspanning in die veldbediening beklemtoon word. Ouere manne sal ook met tydige raad bygestaan word.

5 DOOP: Die dooptoespraak sal Saterdag om 11:30 vm. gehou word. Dit sal bemoedigend wees om die dooptoespraak te hoor en te sien hoe die kandidate in die openbaar bely dat hulle nou ook ten volle op Jehovah vertrou. Hoewel die toespraak veral toegespits is op diegene wat gedoop gaan word om hulle toewyding te simboliseer, kan ons almal daarby baat vind deur aandagtig te luister en te dink oor ons persoonlike verhouding met Jehovah, ongeag hoe lank ons al in die waarheid is.

6 Diegene wat beplan om by een van die streekbyeenkomste gedoop te word, moet seker maak dat hulle die presiderende opsiener lank voor die byeenkoms daarvan in kennis stel, sodat daar genoeg tyd sal wees om die vrae in die Ons bediening-boek te hersien. Die Wagtoring van 1 Junie 1985, bladsy 30, het hierdie raad oor die regte drag vir dopelinge gegee: “Watter soort baaikostuum ook al gedra word, dit moet beslis beskeie wees. Dit is vandag belangrik daar mode-ontwerpers oënskynlik seksualiteit wil beklemtoon en feitlik algehele naaktheid wil bereik. Nog ’n faktor wat in ag geneem moet word, is dat sekere baaikostuums beskeie lyk wanneer dit droog is, maar nie meer beskeie is wanneer dit nat is nie. Niemand wat gedoop word, sal ’n oorsaak vir steuring of struikeling by so ’n ernstige geleentheid soos doop wil wees nie” (Filip. 1:10). Dit sal vir broers sowel as susters geld.

7 Doopkandidate moet probeer om voor die program Saterdagoggend begin hulle sitplekke in die aangewese gedeelte in te neem. Na die dooptoespraak sal julle gevra word om te staan terwyl die slotlied gesing word. Nadat die derde vers gesing is, sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek lei.

8 DEUR JEHOVAH GELEER: Daar is voorspel: “En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jes. 54:13). Daardie woorde is tot Jehovah se simboliese vrou, sy hemelse organisasie, gerig. Haar “kinders” word geleer om op Jehovah te vertrou. Die streekbyeenkoms is een van die middele wat Jehovah vandag gebruik om ons te onderrig. Beskou jy dit as sodanig? Jy antwoord dalk vinnig: ‘Natuurlik.’ Maar doen jy gedurende die byeenkoms alles in jou vermoë om die hele program in te neem? Dit is duidelik dat dit met sommige nie altyd die geval was nie. Wat kan ons individueel en as ’n gesin doen om te verseker dat ons ten volle by die byeenkomsprogram baat vind?

9 Dit sal moontlik aansienlike inspanning en onkoste van ons verg om die byeenkoms by te woon. Die Genootskap en die broers in die byeenkomsstede het ook lang ure gewerk om ons van die bes moontlike fasiliteite te voorsien. Voeg hierby die duisende ure wat die Genootskap en die sprekers bestee het om vir die program voor te berei, en dit is duidelik dat ons baie het om voor dankbaar te wees. Sal jou waardering jou beweeg om ten volle by die hele byeenkoms baat te vind?

10 Dit is belangrik om elke aand genoeg rus te kry. Ons wil wakker by die byeenkoms aankom en gretig wees om elke minuut van die program te geniet. As jy moeg daar aankom, sal dit moeilik wees om wakker te bly en aandagtig te luister, en sal jou vermoë om ten volle by die program baat te vind grootliks verminder word. Dit kan dus baie daartoe bydra dat ons die geestelike fees geniet as ons elke dag uitgerus na die byeenkoms kom.

11 Ons sal gehelp word om te konsentreer as ons ons herinner aan waarom ons na die byeenkoms gaan—om ‘te luister en meer onderrigting in te neem’ (Spr. 1:5, NW). Soos opgeteken in Jesaja 55:1, het Jehovah sy verbondsvolk genooi om van die lewegewende voorsieninge wat hy gratis aangebied het, te neem. Maar om daarby baat te vind, moes hulle ‘aandagtig luister’. Hy het hierdie vermaning bygevoeg: “Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe” (Jes. 55:2, 3). Sou ons eweneens in staat wees om Jehovah se milddadige aanbod van lewegewende geestelike voeding in die hedendaagse geestelike paradys te aanvaar as ons te vaak is om in te neem wat die sprekers sê? Ons wil natuurlik ons waardering toon deur alles in ons vermoë te doen om verstandelik en liggaamlik voorbereid te wees sodat ons geen deel van die program mis nie.

12 ’n Aangename aspek van streekbyeenkomste wat ons kosbaar ag, is die omgang met ons broers. Ons sien daarna uit om ou vriendskappe te hernieu, nuwe vriende te maak en ondervindinge met mekaar te deel. Sommige reël gewoonlik om familie en vriende na afloop van die dag se sessie te besoek. Hierdie reünies kan baie genotvol en geestelik aanmoedigend wees. Maar maak asseblief seker dat sulke besoeke nie tot so laat snags duur dat julle nie die nodige rus kry nie.

13 Daar word voorgestel dat ons ’n bietjie dink aan die items wat ons na die byeenkomsterrein bring. Sommige broers het groot koelhouers en ander groot items gebring wat nie onder hulle sitplek gesit kon word nie. Dit is in paadjies of op leë stoele gesit. Ons moet in sulke sake bedagsaamheid betoon, aangesien dit veroorsaak het dat party nie sitplekke gehad het nie en dit soms ’n skending van brandregulasies is.

14 MAAK AANTEKENINGE: Onthou ook om buiten jou Bybel en liedereboek ’n aantekeningboek en pen of potlood saam te bring. Ons het miskien nie die gewoonte om gedurende weeklikse gemeentelike vergaderinge aantekeninge te maak nie, omdat die meeste van die toesprake en demonstrasies uit materiaal geneem word wat vir almal in die gemeente beskikbaar is. Dit is heeltemal ’n ander saak om informasie by die streekbyeenkomste in te neem. Hoewel sommige van die toesprake mettertyd in die publikasies sal verskyn, sal ander nie. Selfs as al die toesprake uiteindelik in druk sal verskyn, kan kort, betekenisvolle aantekeninge nogtans belangrike voordele inhou.

15 As jy aantekeninge maak, help dit jou om te konsentreer. Stip met jou pen en boek in die hand die spreker se sleutelgedagtes en sleuteltekste of moontlik ’n nuwe gedagte aan. Maak dan kort aantekeninge hiervan. Gewoonlik sal een of twee sinne genoeg wees vir ’n sleutelgedagte. Jou konsentrasie sal ongetwyfeld verbeter as jy hierdie wenk toepas. Jy sal minder geneig wees om jou gedagtes te laat dwaal of om jou aandag te laat aflei deur een of ander aktiwiteit in die byeenkomsterrein. Jy sal ook toegerus wees om die daaropvolgende week saam met jou gemeente aan die hersiening van die byeenkomshoogtepunte deel te neem.

16 Sal jy jong kinders of tieners saam met jou hê? Tref dan gerus reëlings dat hulle ook ooreenkomstig hulle vermoëns en ouderdom aantekeninge maak. Laat die gesin weet dat jy beplan om sommige van die hoofgedagtes wat deur die sprekers gemeld is te hersien wanneer julle na julle verblyfplek terugkeer of terwyl julle huis toe ry. Jonger kinders kan aangemoedig word om al die teksverwysings wat gelees word neer te skryf of op te let hoeveel keer ’n spreker na sleutelwoorde of die tema van sy toespraak verwys. Hulle sal baie meer by die toesprake baat vind as hulle dit doen. Dit is goed dat kinders leer om noukeurig aandag te skenk by Christenvergaderinge. Julle sal hulle help om ’n vaste fondament vir die toekoms te bou.—1 Tim. 6:19.

17 ONBERISPELIKE GEDRAG: Ons ontvang gewoonlik elke jaar na afloop van ons streekbyeenkomste gunstige opmerkings oor die ordelikheid en goeie gedrag wat daar te sien was. Waarnemers maak dikwels opmerkings oor die netjiese voorkoms van volwassenes asook kinders, om nie eens te praat van die vrede en eenheid onder die broers terwyl hulle die byeenkoms bywoon nie. Die jaar 1986 was geen uitsondering nie. Maar waarom meld ons dit? Omdat dit bemoedigend is om te weet dat ander dit opmerk en waardeer wanneer ons ’n goeie voorbeeld stel (1 Kor. 4:9). Maar nog belangriker, dit strek God tot eer. Ons wil Jehovah in woord en daad eer, en aangesien mense die organisasie en selfs die God wat ons aanbid volgens ons gedrag kan oordeel, moet ons altyd bewus wees van hoe ons optree.

18 ’n Staatsamptenaar wat naby ’n stadion woon wat Jehovah se Getuies vir hulle byeenkoms gebruik het, het gesê: “As ’n buurman kan ek sê dat ek hou van julle omgang en die manier waarop julle die stadion skoonmaak. . . . Ek hou van julle dissipline.” ’n Polisiebeampte het gesê: “Julle mense is waarlik eensgesind en gelukkig. Daar is geen probleem met vrede en orde wanneer julle hier is nie. Almal is stil en gedissiplineerd. Julle parkering is ordelik en dit is maklik om met julle te praat wanneer daar ’n probleem is.” ’n Bankbestuurder het opgemerk: “Almal het hulle goed gedra. Wanneer ’n mens saam met hulle [Jehovah se Getuies] is, is daar niks om oor bekommerd te wees nie. Hulle is waarlik stigters van goddelike vrede. Hierdie gesindheid is afwesig onder ander groepe mense.”

19 Daar is egter etlike aspekte waaraan ons steeds aandag moet skenk sodat ons ten volle ‘soos ligte kan skyn’, veral wanneer ons weg van die byeenkomsterrein is, soos by restaurante en motelle (Filip. 2:15). Maar hoe vaar ons allereers wanneer dit kom by die onnodige hou van sitplekke?

20 ’n Verbetering is in hierdie opsig opgemerk, en ons wil julle hiervoor prys. Maar hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN IEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Dit is net natuurlik om naby diegene saam met wie jy gekom het te wil sit, en daar word verwag dat gesinslede saam sal sit. Maar moet asseblief nie vir ander sitplekke hou nie. Vriende kry dikwels self sitplekke, en die ekstra sitplekke wat jy gehou het, word nie gebruik nie. Vertroue in Jehovah en waardering vir die byeenkoms sal duidelik wees as ons hierdie riglyne volg.

21 Na afloop van die byeenkomsprogram geniet baie dit om vir ’n maaltyd en omgang saam te kom. As die tyd wyslik gebruik word, kan dit geestelik bemoedigend wees as ons ondervindinge deel en die byeenkomshoogtepunte hersien. Dit sal geen klagtes uitlok nie, aangesien ons ons gedra ‘op ’n manier wat die goeie nuus waardig is’. —Filip. 1: 27, NW.

22 ’n Laaste vriendelike vermaning het te doen met kuiery en geselsery gedurende die sessies. Gestel die program het begin en jy is reeds in jou sitplek, maar dan sien jy ’n broer verbyloop wat jy lanklaas gesien het. Wat sal jy doen? Sal jy opstaan, waai en die broer roep, of sal jy stil bly sit en hom later probeer opspoor? Wat sal jy dink van ’n broer of ’n suster wat iemand roep wat die Koninkryksaal binnekom nadat die vergadering begin het of wat tydens ’n vergadering agter in die saal kuier? As jy jou sitplek moet verlaat om die ruskamer te gebruik of om jou kinders daarheen te neem, sal dit liefdevol wees om so gou moontlik, sonder om op pad te kuier, na jou sitplek terug te keer. Ons is daaraan herinner dat die bywoning van ’n byeenkoms geensins anders is as die bywoning van vergaderinge by ons plaaslike Koninkryksaal nie.

23 VOEDSELBEHOEFTES: Spesiale reëlings word weer eens getref om in ons fisieke behoeftes te voorsien. Voedsel en drank sal soortgelyk wees aan die wat in onlangse jare by streekbyeenkomste beskikbaar was. Ons waardeer inderdaad die harde werk van die broers in die Voedselafdeling wat genoeg kos teen ’n redelike prys vir ons beskikbaar stel.

24 Byeenkomskaartjies om voedsel en drank te koop, sal in velle ter waarde van R2,00 beskikbaar wees. Vanjaar sal elke vel net uit 10c-kaartjies bestaan wat dit makliker sal maak om te tel. Koop genoeg kaartjies om die eerste dag of twee in jou gesin se voedselbehoeftes te voorsien.

25 Almal wat die byeenkoms bywoon, sal vind dat die beskikbare voedsel voldoende en voedsaam is, en ’n goeie verskeidenheid vir drie dae bied. Groot sorg word geneem om voedsel van die hoogste gehalte te koop. Julle volle ondersteuning van die voedselreëling sal help om van die byeenkomsonkoste te dek.

26 BANDOPNAMES: Die Genootskap sal geen voorsiening maak om die program of die dramas op oudio- of videoband op te neem nie. Enigiemand wat persoonlike opnames vir hulle eie gebruik maak, moet dit op so ’n manier doen dat dit nie ander in die gehoor sal steur of hulle aandag sal aftrek nie.

27 VRYWILLIGERDIENS: Die klem op vereenvoudiging is veral opmerklik in verband met die manure wat nodig is om ’n streekbyeenkoms te organiseer en te behartig. Diegene wat al baie jare in die waarheid is, onthou dat tienduisende vrywilligers voor en gedurende groot byeenkomste nodig was en dat hulle baie ure in verskeie byeenkomsdepartemente bestee het. Daardie liefdedade is innig waardeer, maar dit het dikwels daartoe gelei dat baie van die vrywilligers heelwat van die program gemis het.

28 Hoewel minder vrywilligers en minder tyd nou nodig is om die werk te doen, is vrywilligerhulp steeds nodig vir die gladde verloop van ’n streekbyeenkoms. Kan jy ’n aandeel daarin hê? Niemand behoort te meen dat hulle, soos sommige in die verlede ondervind het, die grootste deel van die program sal misloop as hulle vrywilligerdiens doen nie.

29Gaan na die Vrywilligerafdeling wanneer jy by die byeenkomsterrein aankom. Selfs as jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms kan werk, sal jou dienste waardeer word. Kinders onder 16 jaar moet onder toesig van ’n ouer of ’n ander volwassene werk.

30 SLOT: Byeenkomstyd is naby. Ons hoop om julle almal daar te sien. Die Bethelgesin sien gretig daarna uit om aan die einde van die jaar saam met julle by die verskillende byeenkomste te wees. Jehovah het sy naamvolk teokraties georganiseer, en hy weet wat ons in hierdie laaste dae nodig het. Jehovah laat sy getroue Getuies vandag, net soos sy volk in eertydse Israel, vir geestelike onderrigting byeenkom. Deur middel hiervan versterk en bemoedig Jehovah ons om tot die einde toe getrou te volhard. Dan sal ons met die lewe in sy nuwe stelsel geseën word (Jes. 40:29; 41:10; 1 Joh. 5: 14). Ons is hiervan verseker solank ons voortgaan om ‘op Jehovah te vertrou’.

[Box on page 10]

Inligting in verband met die Streekbyeenkoms

HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.

STOOTWAENTJIES: Brandregulasies verbied dat hulle in gange, paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word. Aangesien groter skares ’n opeenhoping kan veroorsaak, is stootwaentjies ’n potensiële gevaar, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor kan val. Julle samewerking in hierdie saak sal waardeer word.

PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplekke is wanneer die program begin. Dit sal Vrydag om 10:20 vm. en die ander dae om 9:30 vm. wees. Beplan om tot aan die einde van die sessies te bly. Die slotlied en -gebed sal Vrydag om 5:35 nm., Saterdag om 5:00 nm. en Sondag om 4:00 nm. wees.

BETHELVERGADERING: Daar sal Saterdag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondiger tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die presiese tyd en plek van hierdie vergadering sal by die byeenkoms gemaak word.

PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, reisende opsieners, sendelinge en diegene in Betheldiens moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tyde van die streekbyeenkoms reeds ses maande aangestelde pioniers is, kan slegs by daardie byeenkoms byeenkomskaartjies terwaarde van R15 ontvang wanneer hulle hul identifikasie- en toewysingskaart toon. Pas die kaart op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasie of ander lektuur teen pioniertarief sal net by die boekekamer vir die pioniers beskikbaar wees.

LAPELKAARTE: Hierdie kaarte word voorsien as ’n middel om die byeenkoms te adverteer en om ons broers en susters wat teenwoordig is te identifiseer. Daarom spoor ons julle aan om julle lapelkaarte by die byeenkoms asook terwyl julle na en van die byeenkoms reis te dra. Die kaart is nie net ’n goeie identifikasiemiddel nie, maar lei dikwels daartoe dat ’n goeie getuienis gelewer kan word terwyl ons na die byeenkoms op pad is. Julle moet die kaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 4c elk en die plastiekhouers 25c elk. (Die Genootskap het reeds lapelkaarte aan elke gemeente gestuur, maar die plastiekhouers moet deur die gemeente bestel word.)

’N WOORDJIE VAN WAARSKUWING: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit. enigiets oop en bloot in ’n motor laat nie, ongeag waar jy jou motor parkeer. Sluit jou goed in die bagasieruim toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkomste gelaat moet word nie. Daar is ook gemeld dat daar ’n groter gevaar is dat susters met hoëhakskoene op die trappe sal val. Wees asseblief versigtig.

[Box on page 10]

STREEKBYEENKOMSTE VIR 1987

Hieronder verstrek ons die datums, plekke en tale van elke streekbyeenkoms.

20-22 November:

ST. HELENA, Levelwood-Koninkryksaal (Engels) 11-13 Desember:

WINDHOEK, Atletiek-en-sokkerstadion (Afrikaans, Engels, Kwanyama)

18-20 Desember:

BLOEMFONTEIN, Skouterrein (Afrikaans, Engels, Suid-Sotho)

GABORONE, Internasionale Tentoonstellingsterrein(’n bietjie Engels, Tswana)

NEWCASTLE, R. K. Rümelin-stadion, Madadeni (Zulu)

THULAMAHASHE, Mhala-stadion (Tsonga)

25-27 Desember:

KAAPSTAD, Goodwood-skouterrein (Afrikaans, Engels, Xhosa)

DURBAN, King’s Park-rugbystadion (Engels, Zulu)

MASERU, Maseru-daghoërskool (’n bietjie Engels, Suid-Sotho)

PORT ELIZABETH, Boet Erasmus-stadion (Afrikaans, Engels, Xhosa)

SESHEGO, Seshego-stadion (Sepedi, ’n bietjie Venda)

1-3 Januarie 1988:

JOHANNESBURG, Nasionale Uitstalsentrum (Afrikaans, Engels, ’n bietjie Grieks, Portugees, Suid-Sotho, Zulu)

KANYAMAZANE, Mgwenya-kollegestadion (Zulu)

MAFIKENG, Montshiwa-stadion (Tswana)

MANZINI, Skouterrein (’n bietjie Engels, Zulu)

UMTATA, Onafhanklikheidstadion (’n bietjie Engels, Xhosa)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel