Bied die Goeie Nuus aan—Met die Skepping-boek
1 Die bewyse is volop dat ’n Skepper bestaan en dat hy in sy skepping belangstel (Rom. 1:20, 21). Ons studie van God se Woord het ons sonder die minste twyfel daarvan oortuig dat die mens deur die skepping, en nie deur evolusie nie, hier gekom het (Openb. 4:11). Gedurende September het ons die geleentheid om ander se aandag op die waarheid oor die skepping te vestig wanneer ons die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aanbied.
2 Benewens in ons gereelde bediening van huis tot huis, kan ons die Skepping-boek ook aanbied terwyl ons straatwerk doen en terwyl ons informeel getuig. Dit is ’n aantreklike boek wat heel moontlik byval sal vind by verkoopsmanne, sakemanne en ander met wie ons af en toe te doen kry. Dan is daar diegene op ons tydskrifroete. Sal hulle dit nie ook geniet om hierdie puik publikasie te lees nie? Daar is dalk ook mense wat ons gereeld besoek of met wie ons studeer wat nog nie hierdie boek het nie, maar dit sal waardeer om dit te lees.
3 Jongmense in die gemeente het ’n gebied van hulle eie waar hulle hierdie uitstekende publikasie kan versprei, en daardie gebied is by die skool. Het jy al probeer om net ’n eksemplaar van die Skepping-boek saam met jou skool toe te neem? Persone wat nuuskierig is, kan dalk vrae stel en jou die geleentheid bied om die boek vir hulle te wys. As jy een skool toe neem en dit opsigtelik op jou lessenaar laat of dit gedurende pouse lees, sal jy moontlik vind dat ander jou vra hoe hulle ’n eksemplaar kan bekom. Jy kan natuurlik buite skoolure die inisiatief neem en die boek vir ander wys, met hulle daaroor praat en ’n eksemplaar teen die gewone bydrae vir hulle aanbied.
4 Ons kan almal let op geleenthede om hierdie publikasie aan te bied by jongmense wat ons in die velddiens ontmoet. Wanneer ons ouers by die deur ontmoet, kan ons, nadat ons die ‘Onderwerp vir gesprekke’ bespreek het, die boek aanbied en verduidelik hoe nuttig dit vir hulle kinders sal wees. Aangesien evolusie dikwels in die skool geleer word, sal die boek hulle kinders help om te verstaan wat die Bybel en ware wetenskap oor die skepping sê.
5 Daar is talle ouer mense wat nie aan evolusie glo nie en wat dalk nie spesiflek in daardie onderwerp belangstel nie. Maar hulle is gewoonlik besorg oor die lyding wat hulle in die wêreld sien en wil miskien weet of daar enige hoop vir die toekoms is. Ons kan sulke persone se aandag op hoofstuk 16 of 19 vestig.
6 As ’n huisbewoner vrae oor geloof in die Bybel stel, kan jy vir hom wys dat hoofstukke 17 en 18 die vrae “Kan jy die Bybel vertrou?” en “Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?” beantwoord. Die inhoud van hierdie hoofstukke is dalk net wat hy nodig het om sy geloof in die Bybel as ’n boek van waarheid te herstel.
7 Ons wil hê dat soveel mense moontlik moet besef dat Jehovah die Skepper is (Hand. 17:24-28). Dit sal dus goed wees as ons vir almal die geleentheid bied om Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? te bekom en te lees.