Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/1 bl. 4-7
  • Die Bybel is die Woord van God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel is die Woord van God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel en hoër kritiek
  • Die Bybel en die wetenskap
  • ’n Boek met krag
  • Die Bybel—Is dit bloot die woord van die mens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Het hulle die Bybel onwaar bewys?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die wetenskap: Het dit die Bybel verkeerd bewys?
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Hoe geloofwaardig is die “Ou Testament”?
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/1 bl. 4-7

Die Bybel is die Woord van God

IS DIT waar dat die wetenskap en hoër kritiek saam die Bybel uit sy vroeëre status as die Woord van God gedryf het? ’n Mens kan maklik so dink. Selfs godsdiensleiers is bereid om in swart op wit te sê dat die Bybel onwetenskaplik is, en hoër kritiek is so eerbiedwaardig dat dit in teologiese kweekskole geleer word. Maar wat toon die feite?

Die Bybel en hoër kritiek

Wat hoër kritiek betref, staan dit vas dat daar tot dusver nog nooit enige gegronde bewys vir die idees daarvan voorgelê is nie. Nie een van die sogenaamde bronmateriale van die Pentateug of die boek Jesaja is ooit gevind nie. En antieke fragmente van Daniël is ontdek wat daarop dui dat daardie boek alreeds hoogaangeskrewe gestaan het net ’n paar jaar nadat die hoër kritici beweer dit geskrywe is!

’n Teologieprofessor sê: “Daar kan in geen besondere geval bewys word dat Bybelse boeke op ’n oneerlike manier ontstaan het soos wat die kritiese skool beskryf het nie. Dit is een ding vir daardie skool om so iets te beweer, maar dit is iets heeltemal anders vir hulle om dit te bewys” (Wick Broomall in Biblical Criticism). ’n Argeoloog voeg by: “Dit kan nie te sterk beklemtoon word dat daar nouliks enige bewys in die antieke Nabye Ooste vir dokumentêre of literêre versinsels is nie” (W. F. Albright in From the Stone Age to Christianity). Hoër kritiek floreer weliswaar steeds. Maar dit is omdat dit so goed ooreenstem met vandag se sekulêre denkwyse, nie omdat dit bewys is nie.

Die Bybel en die wetenskap

Het die wetenskap dan die Bybel in sekere opsigte onwaar bewys? Wel, dit het soms so gelyk. In die 18de eeu het ’n toenemende begrip van die samestelling van die aarde dit byvoorbeeld duidelik gemaak dat ons aarde baie oud is. Op daardie tydstip het talle godsdiensyweraars volgehou dat die aarde volgens die Bybel slegs 6 000 jaar oud is. Dit het gelyk na ’n duidelike geval waar ’n Bybelleerstelling onwaar bewys is. Die feit is egter dat die Bybel nêrens sê hoe oud die aarde is nie. Dit was ’n misverstand aan die kant van daardie godsdiensyweraars wat die probleem veroorsaak het.

Die heel eerste woorde van die Bybel is: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Hierdie stelling, dat daar ’n begin was, kom ooreen met huidige wetenskaplike waarnemings. Toe was daar volgens die Bybel ’n tydperk wat die aarde “woes en leeg”, onbewoon en onbewoonbaar was (Genesis 1:2). Geoloë wat probeer om die vroeë geskiedenis van die aarde te rekonstrueer, gee te kenne dat dit inderdaad eens op ’n tyd die geval was. Daarna beskryf die Bybel hoe see en land gevorm is. Plantelewe het verskyn, toe seediere, voëls en uiteindelik landdiere. Laastelik het die mens self verskyn. Oor die algemeen kom dit baie nou ooreen met wat wetenskaplikes ontdek het toe hulle deur die ou geologiese aardlae gegrawe het, selfs wat die algemene volgorde van die verskyning van lewe betref.​—Genesis 1:1-28.

Dit beteken nie dat die Bybel heeltemal ooreenstem met wat wetenskaplike leerboeke bevat nie. Maar daar is soveel punte wat met mekaar ooreenkom dat ons moet wonder: ‘Hoe het daardie vroeë Bybelskrywers soveel geweet?’ Met die oog op die primitiewe vlak van wetenskaplike kennis in daardie vroeë tyd, kan dit slegs wees dat iemand hulle vertel het​—kragtige ondersteuning vir die feit dat die Bybel waarlik die Woord van God is. Moet ons, waar daar wel verskille tussen wetenskaplikes se teorieë en die Bybel is, dit as vanselfsprekend aanvaar dat die Bybel verkeerd en wetenskaplikes altyd reg is? Daar is talle voorbeelde wat toon dat die wetenskap van tyd tot tyd die spoor kan byster raak.

Die evolusieteorie is natuurlik ’n vername verskilpunt wat die Bybel betref. Iets wat opmerkenswaardig omtrent hierdie teorie is, is hoe vinnig dit na die publikasie van Darwin se boek The Origin of Species onder wetenskaplikes gewild geword het. Dit is aanvaar lank voordat daar tyd was om die boek se hipotese op die proef te stel of in die fossielverslag bewys daarvoor te vind. Waarom? Evolusionis Hoimar v. Ditfurth erken ruiterlik: “Die wetenskap is uiteraard die poging om te sien hoe ver die mens en die natuur verklaar kan word sonder gebruikmaking van wonderwerke” (The Origins of Life, deur H. v. Ditfurth). Is dit dan verbasend dat wetenskaplikes die evolusieteorie gretig aangegryp het, baie tyd en inspanning daaraan gewy het om dit te probeer bewys en baie min tyd en inspanning daaraan gewy het om te kyk of dit onwaar bewys kan word? Die enigste alternatief, die skepping, sou ’n wonderwerk wees​—iets wat vir hulle ondenkbaar is.

Maar vir enigiemand wat nie teen wonderwerke bevooroordeeld is nie, is die skepping in werklikheid ’n baie logiese manier om dinge te verstaan wat wetenskaplikes nie kan verklaar nie, soos die bron van die lewensbeginsel, bewustheid, intelligensie en die sedelike natuur van die mens.

’n Boek met krag

Die Bybel self waarsku dat die verworwe wysheid van die wêreld en die Bybel se leerstellings sou bots (1 Korinthiërs 1:22, 23; 3:19). Aangesien kennis gebaseer op mensenavorsing en filosofering so onseker is, moet hierdie botsing ons nie verbaas nie. En ons moet nie ontsteld wees as party gewilde teorieë die Bybel weerspreek nie. Die Bybel self sê ons aan om in ander rigtings te soek vir bewys van die aanspraak daarvan dat dit werklik die Woord van God is.

Die Bybel is byvoorbeeld ’n boek van profesie (2 Petrus 1:19-21). Hoër kritici beweer dat hierdie profesieë ná die gebeurtenisse geskryf is, maar in talle gevalle is dit duidelik onmoontlik. Profesieë oor Jesus wat eeue voor sy geboorte gegee is, is na die letter vervul. (Kyk byvoorbeeld Jesaja 53:1-12; Daniël 9:24-27.) Jesus se eie profesieë oor die vernietiging van Jerusalem is akkuraat vervul. En die profesieë wat hy en die apostel Paulus oor die laaste dae uitgespreek het, klink soos vanoggend se koerante (Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21; 2 Timotheüs 3:1-5). Aangesien mense daarvoor berug is dat hulle verkeerd het wanneer hulle die toekoms probeer voorspel, is die Bybel se profesieë ’n sterk argument dat dit van ’n hoër Bron kom.

Nog ’n kragtige bewys blyk uit die Bybel se eie woorde: “Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12). Daardie krag is dwarsdeur die geskiedenis getoon deur die aantal mense wat gely en gesterf het vir die reg om die Bybel te lees of dit met ander te deel. Geen ander publikasie het nog ooit so ’n goeie uitwerking op mense gehad wanneer dit in nederigheid en redelikheid gelees word nie. Dit verander oorlogsugtige mense in vredeliewendes en kan ’n individu se persoonlikheid heeltemal wysig (Miga 4:3, 4; Efesiërs 4:24). Kyk byvoorbeeld wat die Bybel vir Luiz gedoen het.

In die Brasiliaanse tronk waar Luiz opgesluit is, het hy as ’n baie gevaarlike persoon bekend gestaan. Toe het een van Jehovah se Getuies die geleentheid gehad om met Luiz te praat terwyl hy party van Luiz se medegevangenes besoek het. Die woorde van die Bybel het so ’n invloed op Luiz gehad dat hy weldra ’n ander persoon was (Kolossense 3:9, 10). Voorheen het niemand dit durf waag om hom astrant te antwoord nie, maar nou het hy almal vriendelik behandel en selfs die verskuldigde respek teenoor die tronkowerheid getoon. Vyf jaar na die Bybel Luiz se persoonlikheid begin beïnvloed het, het hy die dinge wat hy geleer het met ander gevangenes begin deel, en hy word selfs toegelaat om buite die tronk te preek.

Kyk ook na Wayne. Wayne het in die Verenigde State ’n genotsugtige lewe gelei, wat hoofsaaklik uit onsedelikheid en die misbruik van dwelms bestaan het. Toe hy getroud is, het sy slegte gedrag uiteindelik sy vrou ook tot onsedelikheid gedryf. Hulle gesinslewe was verskriklik. Toe hulle op die punt gestaan het om te skei, het een van Jehovah se Getuies die geleentheid gehad om vir Wayne te toon wat die Bybel oor verantwoordelikheid en liefde in die gesinskring sê (Efesiërs 4:22-24; 5:22-28). Hy is gehelp om te besef wat party van die oorsake van sy probleme is. (Kyk 1 Korinthiërs 15:33.) En hy kon uiteindelik sy denkwyse verander. Dit het ook sy vrou gehelp om te verander. Nou is die jong gesin ’n model van tevredenheid​—danksy die Bybel.

Laastelik, beskou die geval van Elena. Sy is ’n jong Argentyn wat aan neerslagtigheid gely het. Toe sy by ’n psigiater om hulp gaan aanklop het, het hy vir haar gesê dat sy seksueel promisku moes wees om haar probleme op te los. Sy het in onsedelikheid en spiritisme verval, en straf begin rook. Sy het twee keer ’n aborsie ondergaan. Maar Jehovah se Getuies het in Elena belanggestel en kon haar help om die Bybel in haar lewe toe te pas. Die woorde van die Bybel het haar geleidelik gehelp om haar slegte gewoontes een na die ander te staak en die Skepper, Jehovah God, en sy Seun, Jesus Christus, te leer ken. Nou sê Elena van hierdie twee Persone: “Ek verdien nie een van die goeie dinge wat ek van hulle ontvang nie, en daarom wil ek meer en meer oor hulle barmhartigheid en liefde teenoor ons praat.”

Soos hierdie paar voorbeelde toon, kan die Bybel ’n uiters heilsame krag in ons lewens wees. Luiz, Wayne en Elena is gehelp toe Jehovah se Getuies hulle in aanraking met die Bybel gebring het en vir hulle getoon het hoe om toe te pas wat dit sê. Daar is vandag meer as driemiljoen van hierdie Getuies in die wêreld, waarvan talle soortgelyke ondervindinge in die verlede gehad het en almal toegelaat het dat die Bybel grondige veranderinge in hulle lewens meebring. Die gevolg?

Hierdie driemiljoen Christene vorm ’n gemeenskap waarin die groot probleme wat die mensdom se toekoms nou bedreig reeds opgelos is. Hulle word nie deur nasionaliteit of deur stamgrense verdeel nie. Met die Bybel se hulp lê hulle hulle eerder kragtig daarop toe om rasse- en ekonomiese vooroordeel te bowe te kom. En hulle het geleer om in vrede saam te lewe, wat op sigself ’n voorlopige vervulling van een van die merkwaardigste profesieë van die Bybel is.​—Jesaja 11:6-9.

Die bestaan van so ’n groep is kragtige bewys dat die Bybel werklik die Woord van God is. Ons nooi jou om hierdie Christene te leer ken en hierdie bewys self te ondersoek. Jehovah se Getuies sal jou baie graag help om dit te doen.

[Lokteks op bladsy 5]

Daar is absoluut geen gegronde bewys vir die bewerings van hoër kritiek nie

[Lokteks op bladsy 6]

Die Bybel maak nie op die moderne wetenskap of filosofieë staat om te bewys dat dit die Woord van God is nie

[Prent op bladsy 7]

Die Bybel verander mense

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel